Mellet Moll. Muerte en la tarde
Muerte en la tarde
Manolete (1917 – 1947)
Die casa in Seville is ’n fragment
vanuit die Spaanse volk se narratief:
die cante jondo van die matador
as hy sy doodsveragting aan haar wys
waar sy afsydig oor die slagveld staar
terwyl die Quadalquivir die gety
se residue na die see toe neem.
By Córdoba verstil die middagstof
tussen gestolde bloed en dooie waan
van picadors en toros wat verlaas
die vreemde kanon van die dag herdenk.
Die matador sal voor die skare buig
wanneer ’n engel uit die stillewe
die offerande van die volk kom haal.
Sy sal haar oë een keer sluit en droom
oor minnaars wat uit die siërras kom
as die corrida in die oudag kwyn.
Olé!
© Mellet Moll, 2022