Die dodemis van Neptunus
niks hou stand nie in die tyd
’n vuurtoring waak oor die kus
stormweer is wyd verspreid
die skipper staar in donker uit
van die golwe vergewis
niks hou stand nie in die tyd
in blindheid voer hy nou sy stryd
vaar dieper in die digte mis
al is die storm wyd verspreid
onderlangs die kreungeluid
die deining wat die seelui sus
niks hou stand nie in die tyd
sou hy hom later moes verwyt
van die rotse onbewus
stormweer is wyd verspreid
op die strand spoel wrakhout uit
die mishoring se dreuning rus
niks hou stand nie in die tyd
stormweer is wyd verspreid
© Alwyn Roux, 2022