Word die see wat hy sou hoor
het hy sy sig verloor en sy gehoor
die ou man die buitekamer die huis
by die see waar sy vrou die hond roep
praat die see wat hy sou hoor
trap honde rond in die jaart
maak sy dogter kos in die kombuis
het hy sy oog verloor ’n glasoog
gekry vir Kersfees ’n jaar gelede
lê voor die radio terwyl die see
nie meer gehoor word nie
word die see wat hy sou hoor
wanneer hy nie meer daar is nie
*
die wind vanoggend koeler as gister
die stemme nog jillend ’n ander vrou
wat ek nie voorheen ontmoet het nie
kuier in die buitekamer by ouma
kom sy uit sê tot siens my kind
weet nie of ek jou weer gaan sien nie
speel die drama voor my af
die ou man met die kruk loop voor die kamer
waai met sy hand sê kortaf iets sy dogter
in die kombuis vee verwoed die vloere skoon
geen woord oor die aangeleentheid nie
die voertuig ry niemand huil meer nie
’n duifie klink bo die dak skree die vrou
in die huis op die basterbrak
kamer toe met jou
© Alwyn Roux, 2022