spoke van pretoria
ʼn bustoer
blommetjie gedenk aan my
ʼn skaduvrou gooi haar duim na bo
sy wys ʼn bietjie meer vleis as die gewone spook maar nou ja
daar is soveel tipes spoke as wat daar mense is
die toergids vertel die skadumense is algemeen
en altyd vriendelik maar net, jy weet,
los liewer jou handsak in die bus en bly in die groep
wanneer ons by kerkplein afklim om te kyk
die verval van die capital theatre is gotiek
op ʼn epiese vlak en dis hier rond waar mense
dekades later nog gille in die nag hoor
hier waar die bom gebars en stukke mens
blokke ver op dakke beland het
hulle skreeu nou nog die spoke van pretoria skreeu
‘hey white women!’ waar ons van die toerbus afklim
voor melrose huis en maar aan ons kant van die pad hou
en maar by die volgende vervalle hotel in die sanderige courtyard naby die deur bly
en weer terug op die bus klim vir nog stories terwyl ons liefs by sekere geboue verbyry
erasmushuis is nie oop vir nagtelike besoekers nie ʼn paar ander plekke
wel, jy weet, die skadumense is nie altyd vriendelik nie
daisy hang glo nog rond in die ou tronkgebou op linkerkant
en allerhande ander plekke die mense in rebecca street cemetery
kan nie juis terugpraat teen die kameraflitse nie
maar hulle koes darem goed vir foto’s
al dié onsigbare skadumense
die bus sleep langsaam deur die fase 4 donkerte van pretoria
waar dit spook en die skadumense vriendelik is
© Mariëtte van Graan, 2022