(d)evolusie
eens op ʼn tyd voor tyd
was daar niks en in die niks
was daar ʼn knal
en ons is almal elementaal
gekook in die smeltkroes
van sterre tot bárstens toe
gestrooi oor die legio
swart vlaktes tot klont
getrek verweef deur tyd
tot planeet tot iets wat kon leef een-
sel wat splyt verwerwel verpoot
tot iets wat kan asem-
haal en kruip verhard vergroei
uitgestrek en opgerek
tot aap tot trop-
dier wat grotte betrek
vastelande deurtrek
tot eenling:
bierbevlek en oorbewei –
en hier is ek nou
ek is nóú, híér:
raak my aan
want, kyk,
ek kom tot niks
© Mariette van Graan, 2022