kies jou eie titel en plaas dit hier
op ‘n stoep in paulshof – dié openbaring:
ek voel soos ‘n genuine fokken poet
danie sweer dit op die goedkoop dooswyn langs die stoel
sê dan hy voel pretentious nes afrikaanse poets
met dié vra ek hoe ‘n digter dan ‘n front voorsit
want die woorde voel gepas op hierdie aand
so asof dit nog altyd op die bodem van sy glas opgekrul was
sy oë glaserig teen die draai van indringerige hoofligte
’n skerp gelaster van ‘n bmw wat die sirkel buite die kompleks skil
dan spat danie se antwoord verby sy lippe
so asof daar ‘n dubbelpunt vanself gaan volg
poets glo mos afrikaanse digkuns kan slegs oorleef
binne die perke en reëls wat die toppe jare terug voorgeskryf het
hy sê digters dink hulle is ‘n klub van konserwatiewe elites
digters speel pretend dat alles steeds okei is in afrikaans
glas skaars kafgedraf skink hy weer sonder verskoning
hy sê hy pretend vanaand dat hy ook is okay is
nes afrikaanse poetry
maar die dringendheid van sy stem verklap die moontlike resultaat
dis waar, dinge kan nie so aangaan nie
sy gesuipery gepaard met die pretend to be fine
sonder verandering sál iets boet
vieslik ook
óf dit danie is
óf dalk afrikaanse digkuns
weet ek nie
© Johann van der Walt, 2024
as ek dan nou moet
kies tussen danie &
die afrikaanse digkuns
ten slotte
is die keuse maklik