NAGMAAL
(Suster aan diens)
In intensiewe sorg,
die aand voor die tyd,
sit sy langs my bed.
“Gee jy om?” vra sy.
Ek skud my kop.
Twee medisynemaatbekers,
een vir my, een vir haar.
Hoesstroop en brosbrood.
Sy breek die brood:
“Neem, eet, dit is Sy liggaam.”
Sy lig die maatbekers:
“Drink, dit is Sy bloed.”
Ek word wakker op ʼn ventilator.
Borskas oopgesaag.
Ek sien haar nie.
Dalk drink ons eendag
weer saam
uit skoon bekers
en eet vars brood
wat Ons Vader voorsien.
© Frans van Rensburg, 2024