Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
PEN Afrikaans betreur die sluiting van Vrye Weekblad
Die bestuur van PEN Afrikaans beskou die aangekondigde sluiting van Vrye Weekblad as ’n enorme verarming van die Afrikaanse medialandskap en ’n gevoelige slag vir die openbare diskoers. Ons betreur dit ten sterkste.
“Die droom van ‘n gehalte-publikasie in Afrikaans, een wat dieper kyk en ondersoek en vars idees bring, een wat groot klem op goeie skryfwerk lê, is nou aan skerwe,” skryf Max du Preez in die aankondiging van die sluiting.
Dat daar so min ondersteuning van lesers was, is kommerwekkend. Ons salueer die span by Vrye Weekblad. Dit is ’n hartseer verlies dat die publikasie ná 28 Maart sal ophou verskyn.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun nog vyf vertalings van Afrikaanse werke
PEN Afrikaans maak graag bekend dat, na afloop van die aansoeke wat in November 2024 ontvang is, die PEN Afrikaans Vertaalfonds vyf vertalings van Afrikaanse werke ondersteun.
Die volgende is ter sprake:
- ’n Nederlandse vertaling van Wieg deur Joan Kruger (Uitgeverij Noordboek)
- ’n Franse vertaling van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Actes Sud)
- ’n Bulgaarse vertaling van Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach (Aviana)
- ’n Spaanse vertaling van ’n keur uit Pieter Odendaal se gedigte (Lustra Editores)
- ’n Albanese vertaling van Skuldig deur Martin Steyn (Ombra GVG)
Uitgeverij Noordboek sal ’n Nederlandse vertaling van Wieg deur Joan Kruger publiseer. Die werk het oorspronklik in 2022 by Litera Publikasies verskyn en handel oor die lewe van Maria du Plessis, née Marie Buisset (1679 – 1751). “Wieg is die werk van ’n meesterlike navorser en woordsmid,” skryf prof. Lizette Rabe in haar bespreking van dié roman. Te danke aan Uitgeverij Noordboek en Rob van der Veer, die bekende vertaler met rondom vyftig jaar ondervinding, sal dit vanjaar in Nederlandse vertaling verskyn. Dit is vir PEN Afrikaans verblydend dat ’n boek wat by ’n kleiner plaaslike uitgewery verskyn het, vertaal word. Hierdeur word die belangrike en gehaltewerk van kleiner uitgewerye ook bevestig.
Lesers van Frans kan uitsien daarna om Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith (Tafelberg) in Franse vertaling te lees. Dit sal na verwagting in Januarie 2026 by Actes Sud verskyn in ’n vertaling deur Pierre-Marie Finkelstein. Finkelstein het homself sedert 2003 gevestig as een van die voorste en produktiefste vertalers van Suid-Afrikaanse skrywers in Frans. Hy is al drie keer bekroon vir sy vertaling van verskillende boeke deur Karel Schoeman.
Aviana Uitgewery sal Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau) in Bulgaarse vertaling uitgee. Dié roman het oorspronklik in 1993 onder die skrywersnaam Lettie Viljoen verskyn, en het aan Winterbach die Ou Mutual-letterkundeprys (1994) sowel as die M-Net-prys (1994) besorg. Krasimira Kirova sal dit vertaal, vanuit die Engelse vertaling wat as The Elusive Moth verskyn het. Kirova is ’n gevestigde vertaler van vyftien boeke, waarvan sewe vertalings vanuit Engels gedoen is. Aviana bestaan al elf jaar en gee gereeld werk in vertaling uit. Hulle beoog om hul uitgawe van Karolina Ferreira in Junie 2025 te publiseer en sal sodoende die Bulgaarse leserspubliek toegang bied tot ’n hedendaagse, klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde.
Lustra Editores sal ’n Spaanse vertaling van ’n keur uit Pieter Odendaal se twee bundels (Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en Ontaard – beide Tafelberg) die lig laat sien. Die vertaling sal na verwagting in November 2025 verskyn. Die vertaler is Jorge Alejandro Vargas Prado. Die vertaling sal (in samewerking met die digter) vanuit Afrikaans gedoen word, ook met verwysing na die Engelse vertalings van die gedigte. Odendaal is met die Ingrid Jonkerprys bekroon vir sy digdebuut Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (2018) en is bekend vir die wyse waarop hy aktuele temas soos queer-identiteitspolitiek, geboortegrond, die klimaatskrisis, verlies en vervreemding in sy werk verken. Hy sal na verwagting betrokke wees by die beoogde bekendstellingsinisiatiewe, in Peru en Argentinië, van die Spaanse vertaling van sy werk.
Ombra GVG, een van die voorste uitgewes in Albanië, sal ’n Albanese vertaling van Skuldig deur Martin Steyn (LAPA) publiseer. Dit volg ná hul publikasie van Steyn se debuutroman, Donker spoor – een van verskeie vertaalde Afrikaanse titels wat op dié uitgewery se fondslys pryk. Steyn is in 2016 bekroon met die ATKV-Woordveertjie se Prys vir Spanningslektuur vir Skuldig. Die vertaler is Sidita Dano, ’n akademikus en ervare vertaler, en die beoogde publikasiedatum is September 2025.
PEN Afrikaans is verheug oor die sterk aansoeke en die vooruitsig daarvan dat ’n wye verskeidenheid Afrikaanse werke lesers buite ons landsgrense in hul eie taal gaan bereik en verryk.
Ons bedank die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak, naamlik deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Aansoeke ingewag: PEN dit neer-residensieprogram 2025
Lede van PEN Afrikaans word hartlik uitgenooi om aansoek te doen vir die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting saam met PEN Afrikaans en PEN South Africa aanbied.
Daar sal ook weer deelname uit die buiteland wees wat nader aan die tyd aangekondig sal word.
Die doel van hierdie program is om aan skrywers (opkomend of gevestig) van alle genres die geleentheid te bied om tydelik van hulle alledaagse lewensverpligtinge te ontsnap, en onverstoord in die pragtige Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap te kan werk aan ’n manuskrip. Geen mentors is betrokke nie en die skrywers werk dus teen hulle eie pas. Dit is nie verpligtend nie, maar voorkeur sal gegee word aan skrywers wat ondersteuningsbriewe van voornemende uitgewers by hul aansoeke insluit.
Die datums vir 2025 is as volg:
- Sluitingsdatum vir aansoeke: 4 April 2025
- Aankondiging van suksesvolle kandidate: 2 Mei 2025
- Residensie: 2 tot 22 Junie 2025
Klik hier om aansoek te doen. https://jgf.org.za/af/aansoek-pen-dit-neer/
Kyk hoe ver het ons gekom: ’n gedigte- en kortverhaalkompetisie
PEN Afrikaans en ons kompetisievennote bedank al die skrywers en digters wat teen die sluitingsdatum van 8 Januarie 2025 deelgeneem het aan die Kyk hoe ver het ons gekom-skryfkompetisies wat ons saam met LitNet (kortverhale) en Versindaba (gedigte) aanbied ter herdenking van 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal.
Die inskrywings het voor die sluitingsdatum behoorlik ingestroom. Hou gerus ons sosialemedia-platforms dop vir die laaste lot gekeurde inskrywings in elke inskrywingskategorie. Daar is, te danke aan ’n ruim borgskap deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur, prysgeld op die spel. Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
Gekeurde inskrywings word aanlyn gepubliseer – onderskeidelik op LitNet en Versindaba.
’n Beoordelaarspaneel per kompetisiekategorie sal die gekeurde, gepubliseerde bydraes onder die kritiese loep neem om op drie kortverhaal- en drie gedig-weninskrywings te besluit. Wenners sal in April 2025 aangekondig word.
In ons volgende nuusbrief sal ons die volledige lyste van gekeurde inskrywings insluit, sowel as inligting oor die beoordelaars en keurders. Ons sien uit na die volgende fases van die kompetisie, veral die aankondiging van die wenners!
Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede
Fakture vir 2025 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.
Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan die volgende lede wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het:
Marissa Fourie
Candice Jantjies
Analize Theron
Saam het ons ’n sterker stem en kan ons ons beywer vir Afrikaanse skryfwerk, die regte van skrywers, uitdrukkingsvryheid en persvryheid hier en elders.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2025
Baie geluk aan ons lede wat in Januarie en Februarie nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Vriendelike groete – en gelukkige Moedertaaldag!
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans