
Resensie: Caren Kearley. 2025. Dawerende stiltes. Turksvy Publikasies. ISBN: 9781037034541
Resensent: Nini Bennett-Moll
Caren Kearly se gedigte het op LitNet en in verskeie versamelbundels, wat deur selfpubliseerders uitgegee is, verskyn. Haar werk is ook gebundel in Merang wat begin Mei die lig sien. Ná ’n lang gesprek met Ampie Coetzee by die Breytenbach Sentrum jare gelede het hy haar attent gemaak op haar digtalent: “Niemand leer op universiteit om te dig nie. Digters word so gebore.” Dawerende stiltes is haar debuut.
Reeds met die oksimoron in die titel word die fokus geplaas op die gebruik van digterlike taal. In die stylfiguur (oksimoron) word twee kontradiktoriese begrippe verbind; en deur die skep van ’n paradoks word die meerduidige betekenis van poësie geaktiveer.
Die verse toon deur die loop van die bundel ’n ars poëtikale strekking waarin die besinning oor die skryf van poësie op konkrete vlak uitdrukking vind. Die verse is meditatief, met ’n persoonlike aanslag wat by tye oorgaan in belydenis(-agtige) poësie.
Dawerende stiltes is ’n onopgesmukte bundel, vry van ’n verliteratuurde effek, en gerig op die gewone leser.
Die liefdesgedigte, soos aangetoon sal word, vorm ’n minnespraak of dialoog tussen die spreker, die “ek”, en ’n onbekende “jy”, ’n persoon waaroor daar geen inligting gegee word nie. Die gebruik van die tweedepersoonverteller en die afwesigheid van inligting rondom die “jy”, skep ’n universele korrelaat vir enige leser om mee te identifiseer; die onbekende “jy” verskerp die gevoel van intimiteit, leemte, of die afwesigheid van ’n geliefde.
Die bundel is gerubriseer in vier dele wat met Romeinse syfers aangedui word en waarvan sommige gedeeltes met motto’s ingelui word.
Al die gedigte in deel I het ’n ars poëtikale inslag, en word op konkrete wyse verbeeld met metafore soos ’n pen, ink, woorde, en meditasies oor die digterlike skryfproses (byvoorbeeld “Godin” (16); “Lewende ink” (17); “Vasgevang” (18); “Swyg” (21), ensovoort). In “Dig-ode” (23) gaan die styl oor in parlando of praatpoësie. ’n Ode is oorspronklik ’n lied waarin ’n verhewe onderwerp besing word, maar Kearley se informele omgangstaal debunk hierdie subgenre; die vers is doelbewus afgestem op die moderne leser. Die digter verdien lof vir haar gebruik van treffende beeldspraak, byvoorbeeld: “winter het homself nou amper finaal kaal uitgetrek / sy flenters lê onder elke boom / se stingels en dor takke” (24). Sy gaan ook skeppend om met taal, soos in “Galerybesoek” (26): “teen die muur / hang ’n sinnebeeld” […]”, waarin die ekfrastiese onder die soeklig kom (my kursivering).
Deel II open met motto’s van Eleanor Roosevelt en Elisabeth Kübler-Ross, en wat betrekking het op die leer van lewenslesse en dat die mens uiteindelik die argitek van sy eie noodlot is. Die verse in dié deel handel oor die skadukant van die lewe en is donkerder getint. “Chaos” (35) is ’n nihilistiese vers, terwyl “Tussen seisoene” (36) opval as ’n gedig met ’n sangerige kwaliteit.
Die volgende vers staan uit bó die res in hierdie gedeelte:
Mites en fabels
die stories wat ons glo
die mites en die fabels
wat ons al van kleins af hoor
het ook soms gemaak
dat ons kan toor
dat ons soos prinse en feetjies
dinge kan sien wat nie bestaan nie
soos ’n ewige lewe
of eindelose liefde (32)
Die verse getuig van ’n deurlopende spanning tussen die soeke na estetika en liefde – en die binêre opposisie van ontgogeling en wanhoop.
Bogenoemde ontgogeling verdiep dan in deel III, met die inleidende motto van Karen Marie Moning: “Words can be twisted into any shape. Promises can be made to lull the heart and seduce the soul. In the final analysis, words mean nothing. They are labels we give things in an effort to wrap our puny little brains around their underlying natures, when ninety-nine percent of the time the totality of the reality is an entirely different beast. The wisest man is the silent one. Examine his actions. Judge him by them.” Hierdie aanhaling, wat die nihilistiese en bedrieglike aard van taal onderstreep, herinner ook aan Auden se beskouing, ”For poetry makes nothing happen.”
Die titelgedig, “Dawerende stites” (41) besing die wonder en pyn van stiltes. Die onderliggende logika is Derrida se différance, die uitgestelde betekenis tussen die betekenaar en betekende. “Dawerende stiltes” word dan poësie – met die aanname dat alle poësie uiteindelik na stilte neig. Eksistensiële wroeging vorm voorts die spilpunt in “Ek lewe” (42) en “Balans” (43). “Halflewend” (44), wat intertekstueel omgaan met Jonker se vers, “Ontvlugting”, word ongelukkig bederf met die gesogte cliché van spore in die sand wat Margaret Fishback Powers se gedig, “Footprints” (ook beskikbaar as “Footprints in the sand”), eggo.
Die gedigte in deel III verwys na plekke soos Sutherland (48), maar in talle verse is die ruimtes naamloos en kom verwysings na kaarte of karterings voor; ruimtes waarin die nomadiese soeker of reisiger hom bevind.
Met “Die laaste dae” (57) en “Geskenk” (49) bereik Kearley iets besonders met die gebruik van ’n kataloguseffek waarin die ek-spreker en die jy-aangesprokene deurlopend gejukstaponeer word. In “Veilig” (56) kom die Bachelardiaanse droomhuis aan die bod, terwyl die suggestie van Psalm 23 in die laaste vier slotreëls in die gedig, “Obsessies” (58) deurskemer.
Deel IV se verse handel oor die natuur, seisoene en oor grond; plekke van geografiese verbondenheid. Dié plekke betrek onder meer die Kalahari (66), Riebeek-Wes (68), Afrika (69) en die Boland (71). Kearley dig voorts oor ongelokaliseerde ruimtes, soos reeds genoem: In “Jou padkaartplek” (76) word die spreker en aangesprokene as soekende reisigers op pad na nêrens uitgebeeld: “jy vertel my van daardie plek sonder naam / […] ek sit nou hier / op jou plek sonder naam / en noem dit Sint Duister”. (76) Laasgenoemde sinspeling op ’n fiktiewe beskermheilige transporteer, of verhef die naamlose plek tot ’n eteriese ruimte.
Die plekke waaroor Kearley dig, word as’t ware deur die spreker ingelyf en karteer só die emosionele landskappe van ’n liefdesverhouding.
Die spreker se ontsteltenis oor die armoede en ongelyke klasseverskille in Suid-Afrika blyk uit “Ompad” (77); die gedig, “Bos blomme” (70) resoneer insgelyks met hierdie sosio-politieke kommentaar; die derde strofe:
ja, bring vir my iets van ’n berg
’n rivier of ’n woestyn
want my grense het gekrimp
noudat ek te veel sien en voel:
die bakhandvrou in die straat
die kaalvoetman onder die brug
die traanbevlekte kind op die sypaadjie
en die skadu’s wat ons Afrika-mense volg
Met “Immigrasie” (69) word ’n begeerte om weg te kom van Suid-Afrikaanse grond verbeeld, strofe 3:
[…]
maar ek moes aanhou stap
weg van hier, ondertoe
verby die karkasse en wit beendere
myself ontheg van my geboorteland
[…]
Paradoksaal tot bogenoemde gedig, beskryf die spreker ’n verlore paradys in “Nóg winter”, strofe 2:
laasjaar dié tyd het ek vir my ’n hemel gebou
een met sonlig in die soet geur van jasmyn
een met bont voëltjies wat heeldag sing
tot saans wanneer ons vlamster gaan slaap (75)
Hierdie vierde en laaste gedeelte bevat dan van die sterkste en mooiste gedigte in die bundel. Alhoewel die digter deurlopend vrye vers beoefen, is sy bewus van die ouditiewe en dat musiek die oermoeder van poësie is (“Nagspoor” (63) met sy sangerige effek, asook die ars poëtikale besinning oor klank in “Skemerklanke” (74)).
Ten laaste verras Kearley met knap digterlike stelwyses en metaforiek, byvoorbeeld: “ja, bou vir my ’n versamelnes / in die hoogste takke van jou bestaan” (79); asook: “die Tankwa is vol tweespore / wat doodloop / in rivierbeddings” 78)
Kearley se debuut is ’n toeganklike en genietlike bundel. Terwyl ek die verse gelees het, het ’n aanhaling uit die kunsfilm oor Pablo Neruda, Il Postino / The postman by my opgekom. Die posbode, Mario Ruoppolo het, nadat hy Neruda leer ken en ’n liefde vir poësie ontwikkel het, beweer: “Poetry doesn’t belong to those who write it; it belongs to those who need it.” Ons het almal poësie nodig – ook toeganklike bundels vir ’n wye lesersgehoor.
Belewenis
ek weet waar skoenlappers slaap
ek het ook al ’n mantis sien bid
gelees hoe naaldekokers oorleef
gesien hoe ’n volmaan agter skadu’s wegkruip
weerliggelaaide wolke hoor donder
ek het al sterre sien verskiet
gekyk hoe ’n baba vir die eerste keer asemhaal
en hoe ’n mens haar laaste asem uitblaas
myself uit ’n doodskleed geworstel
ek het gevoel hoe branders my intrek
terwyl ek wieg in hul eb en vloed
ek weet hoe klam Karoo-grond ruik
ná die eerste langverwagte reën
ek was al op heilige plekke
waar ’n godheid my oorval het
ek het ook al op kranse gesit
waar witkruisarende nesmaak
maar vanoggend toe ek in jou arms wakker word
het ek geweet
as alles om my vergaan
was ek ook hier (64)

Ek kon my hiermee vereenselwig. Dankie vir ‘n resensie wat ‘n mens lus maak om ‘n digbundel nader te trek en poësie te lees.
Dankie Maria, jy is welkom om my te kontak as jy een wil bestel. carenkearley@gmail.com. Ek is Ninni ewig dankbaar vir hierdie kosbare resensie. Dit maak my sommer lus om nog gedigte te skryf.