Resensie: Strik deur Gerhard Barkhuizen, 2025. Kaapstad: Turksvy Publikasies
Resensent: Marlies Taljard
In sy debuut, Smee (Turksvy Publikasies, 2021) gebruik Gerhard Barkhuizen die smid en die werkwoord “smee” as metafoor vir die digterlike ambag. Die digter se tweede bundel, Strik, het pas verskyn, en daarin word “strik” in verband gebring met die digterlike proses, soos dit verwoord word in die mottogedig wat ook op die agterblad van die bundel verskyn:
verstrik
om woorde saam te strik
en in versreëls te laat bind
verg ʼn flink hand en ferm blik
op wat die sintuie ook al vind
Dit is die enigste plek(ke) in die bundel waar die woord “strik” of sy afleidings voorkom – ook op die agterbladteks as lusmaker waar beweer word dat die digter “ontglippende ervarings … in die strik van sy verse vasvang” (Daniel Hugo). Ander sinonieme of woorde met ʼn naasliggende betekenis kom wel elders voor, soos ek later sal aantoon. Die laaste reël van die gedig vat die digbundel netjies saam: “wat die sintuie ook al vind”. Die byna 100 gedigte in die bundel handel inderdaad oor enige en alle moontlike onderwerpe en dinge uit die alledaagse bestaan van die digter en verwoord sodoende sowel belangrike momente én “vullers” of sintuiglike waarnemings wat die grein van ons ervarings bepaal maar dikwels nie as belangrike lewensmomente of poëtiese stof geag word nie. Hierdie momente word in die bundel, net soos lewensveranderende gebeurtenisse, deur die digterlike lens beskou, onder andere deur gebruik van metafore, vergelykings en selfs simbole, asook deur die digterlike tegniek van vreemdmaking (Verfremdung). Ek dink hier aan die mooi beeld in “Aronskelk” (p. 18):
jou liggaam langs my ferm en onverwelk,
jou lag wat my dae oopbreek: aronskelk.
Terug na die titel: Ek lees die titel van die bundel as ʼn versameling gedigte met uiteenlopende temas wat in ʼn bundel saamgebind is deur van ʼn strik gebruik te maak (in plaas van ʼn knoop). Dit dui op ʼn losser samehang as die knoop wat gewoonlik dui op ʼn sterker binding. ‘n Strik dui ook dikwels aan dat byvoorbeeld ʼn pakkie as geskenk bedoel is, en in dié opsig is die bundel dan ʼn soort geskenk aan die leser, of ʼn verrassing. Die agterbladteks raak die tema van “vasvang” as sinoniem aan. Tog het ek gewonder waarom die digter die “strik”-metafoor van die titel nie ook sterker in die grein van die bundel ingeweef het nie. Dit sou byvoorbeeld die onderlinge kohesie en oorkoepelende koherensie gebaat het. As metafoor vir die skryfproses en verskeie ander temas wat in die bundel voorkom, is dit ʼn besonder geslaagde metafoor. Die woord “strik” en sy afleidings het immers veelvuldige betekenisse en dit kom in ʼn groot aantal idiome en vaste uitdrukkings in Afrikaans voor. Volgens die Aanlyn HAT kan die woord beteken “knoop” (s.nw/ww)”, “verskuilde lus om wild, voëls en vis te vang (s.nw)”, “listige plan om iemand te benadeel (s.nw)” en “nougeset, presies, streng, stip (byw.)” (Ek gee toe dat oorgebruik van ʼn woord of begrip in ʼn bundel irriterend kan wees as dit geforseerd in gedigte ingewerk word, dikwels omdat daar op ʼn laat stadium op ʼn titel besluit word.) Die begrip “bind” of “heg” of “vasmaak”, veral in figuurlike sin, is in hierdie bundel wel ʼn tema wat in sekere gedigte resoneer. “Nougeset, presies” as betekenisonderskeiding van “strik” kom byvoorbeeld voor in die gedig “OKS-weerwraak” (p. 40), terwyl die konsep “bind”/”band” in die derde afdeling met verskeie gedigte oor familie en familiebetrekkinge gebruik word:
Genetika
Waar ek my kleinkind oulaas abba
kaalvoet oor die laagwaterstrand,
volg ʼn enkelry ons in die sand:
die nat spoor van ons twee se DNA.
(Mens vergeef – ter wille van die rym – maar die Engelse DNA wat in Afrikaans natuurlik DNS is.)
Ook in “Gedwonge familie-ete” (p. 50):
om die tafel van inheemse hout
bind hande slegs vir dankseg saam
en in “Kniekombers van die lewe” (p. 54): “’n veelkleurkombers oor dekades gebrei”
Die digter organiseer die bundel tematies in sewe afdelings: liefde, verlies, aftakeling, familie, die verlede, plek en ruimte en poësieskryf is die belangrikste temas.
Tegnies is die gedigte meestal goed afgewerk en afgerond en voldoen dit aan die eise van die kwatryn- en ander korter digvorme soos dit in Strik voorkom. Die digter maak gebruik van verskillende klank- en rympatrone en wissel die aantal lettergrepe per reël in verskillende gedigte af om eenselwigheid te voorkom. Die meeste gedigte is kwatryne of langer gedigte wat uit kwatryne bestaan. Enkele ander kort vorme kom soms voor. Johann de Lange, een van die meesters van die kwatryn in Afrikaans, het dikwels sy voorbehoude uitgespreek oor bundels wat slegs kwatryne bevat en het steeds verskeie digters se menings ingewin alvorens hy bundels soos Weerlig van die ongeloof (2011) of Duimnaelsketse (2020) en Miniatuur (2024) uitgegee het. Hy was deeglik daarvan bewus dat bundels met gedigte wat deurgaans dieselfde vorm het, maklik tot verveling lei en dat lesers dit nie enduit lees nie. Daarbenewens gee die beperking van die kort vorm maklik aanleiding tot rymdwang, ongemotiveerde digterlike vryheid of vaagheid van betekenis en lacunae. Ongelukkig geld dié voorbehoude ook vir die bundel Strik. My persoonlike gevoel is dat ʼn digter nie sy lesers behoort te oorweldig deur al sy pêrels (of so báie pêrels) gelyktydig uit te stal nie. Ek sou byvoorbeeld ʼn gedig soos “Parys” (p. 113) (en heelwat ander) weggelaat het en dit vir ʼn volgende bundel afgewerk het:
1
Winterblare in klam strate
afgebreek in die reën
soos die los buiteblare
van middelklas-sigare.
Mens wonder oor die keuse van die woord “afgebreek”. Wie/wat het die blare afgebreek? Val blare nie in die winter vanself af nie? Die beeld “middelklas-sigare” is wel ʼn goeie vonds, maar is die vergelyking in die natuurruimte wat deur die kwatryn opgeroep word, funksioneel? My indruk is dat die gedigte in die bundel nie almal op dieselfde hoogstaande peil is nie, ofskoon die bundel as geheel nog die minder geslaagde gedigte kan dra.
Barkhuizen se aanvoeling vir ironie en skrynende kontras as kritiese denktegniek is een van die sterkste tegniese eienskappe van die bundel wat die leser tot insig en nadenke stem. Een van die aangrypendste gedigte in die bundel is beslis “Balans” (p. 88):
Balans
jou roerende verhaal dui
ʼn buurman het jou sonsitplek
gesteel, jou hangmat-somerdae
se prieel brutaal geamputeer
in die wagkamer langsaan
beplan ʼn seun uit ʼn fietsrytydskrif
hoe hy volgende maand die ren
met een been gaan navigeer
Die digter het dit hier reggekry om twee uiteenlopende figure uit te beeld deur bloot die woord- en taalgebruik (styl) in die twee strofes van die gedig te manipuleer: die egosentriese, verveelde vrou en die dapper, positiewe seun wat sy been verloor het. Die digter se uitbeelding van figure het my in dié bundel beïndruk. Ek dink aan “Oom Neels” (p. 31) en “Die blinde se ongeloof” (p. 33). Vergelyk ook die volgende gedig as voorbeeld:
Laid-back
terugleun met heupgewieg
senu’s wat skaars in die dolos roer
duime lui ingehaak, ʼn slapdood
wat flegmaties oor die heupe loer
Ofskoon die bundel as geheel nie as laatwerk uitspeel nie, sluit sekere temas beslis aan by die later werk van digters, soos die meer besinnende, mineur-aard van gedigte en temas soos verlies, verganklikheid, dood, afskeid, aflegging, aftakeling en ʼn fokus op die verlede – “die ritueel van alewig oorbegin”, gedigte soos “Reunie” (p. 69), “Gepensioeneerd” (p. 71) en “Selfhelpgids” (p. 72).
Die laaste afdeling bevat gedigte oor skrywerskap en die skryf van gedigte. Vir my as literator was die tweede strofe uit die slotegedig, “Vierreëldroom” een van die gedigte waarin ek my die meeste verkneukel het en waar ek onwillekeurig ʼn paar gedaantes voor my sien verrys het:
die literator se grootste pyn:
ʼn jongeling wat kwistig rym
en luid banaal verkondig
sy vers transformeer tot gedig
In “Skryfskool, Sutherland” (p. 122) verraai die digter sy skatpligtigheid aan sy voorgangers – in hierdie gedig N.P. van Wyk Louw, soos ook elders, byvoorbeeld in “Dislojale verset” (p. 76), D.J. Opperman in “Edms. Bpk.” (p. 19) en Uys Krige in “Die blinde se ongeloof” (p. 33).
Strik is ʼn bundel waarmee lesers maklik kan identifiseer en wat nog lank leesgenot behoort te verskaf. Vanweë die kort, oënskynlik (en bedrieglik) ongekompliseerde aard van die gedigte is dit ʼn toeganklike bundel wat ook sonder kennis van literêre en filosofiese teorieë waardeer kan word, maar wat ook vir kenners van die poësie sy bekoring behoort te hê.