
Resensie: Antjie Krog ʼn Ondersoekte lewe. ʼn Huldiging deur Louise Viljoen [Redakteur]. Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Protea Boekhuis.
Resensent: Fanie Olivier
Antjie Krog ʼn Ondersoekte lewe is reeds die 16de nommer in die reeks van huldigingspublikasies wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns rondom wenners van die Hertzogprys vir letterkunde die lig laat sien.
Keurig versorg en uitgegee, met 24 foto’s deur die skrywer self verskaf en deur haar van onderskrifte voorsien, word dit behalwe ʼn interessante studie oor aspekte van haar werk, meteen ook ʼn omvattende navorsingsbron. Die rede hiervoor is die verstommende uitgesoekte bibliografie deur Shané van der Merwe, 71 bladsye lank, wat teen die einde, ná die nege bydraes wat in die huldiging opgeneem is, verskyn.
Antjie Krog is waarskynlik die bekendste lewende eietydse Afrikaanse digter en het oor die loop van die 55 jaar sedert haar debuut met Dogter van Jefta, die grense van haar werk bly verskuif. Dit het beide haar versmateriaal [die tematiek, soos sy dit noem] en die versversorging van haar gedigte gekenmerk en oor die dekades het sy as gevolg daarvan waarskynlik ’n klompie lesers verloor en baie nuwes bygekry.
Maar Krog het ook as openbare figuur ‘n besondere en opsigtelike plek ingeneem as gevolg van haar aktivisme rondom die apartheidspolitiek, uitgebreide maatskappykritiek, gender-identiteit en omgewingsbewustheid. Haar uitgesprokenheid hier plaaslik en internasionaal dra daartoe by dat daar rondom haar as persoon by tye sterk polarisering in die wit Afrikaanse gemeenskap sigbaar is, ook omdat sy in die gesprek rondom taal redelik krities is oor figure en instansies wat Afrikaans as eie-besit wil beskerm. 1
Die beskrywende deel van hierdie huldigingsbundel se titel, ‘n Ondersoekte lewe 2, wil ál hierdie fasette van Krog se lewe betrek, maar die klem val uiteraard op haar werk as digter sedert haar tienerdebuut met Dogter van Jefta in 1970.
Daar het reeds 12 selfstandige Afrikaanse bundels verskyn, en nog vier ander wat gerig is op kinders: Mankepank en ander monsters [1985], Voëls van anderste vere [1992], Fynbosfeetjies [2007] en Vetplantfeetjies in 2022.
Dit is natuurlik moeilik om uit die bundels te kies, maar die keuse wat Karen de Wet gemaak het vir haar keur uit Krog se poësie, ’n Vry vrou [Human & Roussea], uit 2020, bied myns insiens ’n betroubare, inderdaad keurige inleiding vir iemand wat na Krog se poësie wil kyk.
Die huldigingsbundel wat in hierdie resensie ter sprake is, spruit natuurlik uit die feit dat Krog reeds drie keer met die Hertzogprys vir poësie bekroon is: in 1990 vir Lady Anne, ’n tweede keer in 2017 vir Mede-wete en die derde in 2023 vir Plunder. Die eerste twee word deeglik betrek en bekyk in drie van die nege hoofstukke in die boek; Plunder word op verskeie plekke bygeroep, ook rondom die korrektief wat daarin ter sprake kom.
Ek kan aan geen beter persoon dink wat gevra sou kon word om ’n huldigingsbundel van hierdie aard te versorg as Louise Viljoen nie. Sy het haar oor baie jare besig gehou met die werk van Antjie Krog, waarvan ’n eerste klomp in 2009 saamgebundel is in Ons ongehoorde soort: beskouings oor die werk van Antjie Krog.
Wanneer hierdie resensie verskyn, het sy reeds op ‘n paar plekke oor en rondom die boek gesels; in die tydskrif Klyntji verskyn daar ‘n lang en boeiende gesprek uit Maart vanjaar tussen haar en Natasha Harmse. Dit is die lees werd: https://klyntji.com/joernaal/2025/3/16/louise-viljoen-antjie-krog?ss_source=sscampaigns&ss_campaign_id=67efcb6353dc2942d2826bac&ss_email_id=67f291805161802646859e6d&ss_campaign_name=Leesstof+vir+di%C3%A9+wat+mindfully+scroll&ss_campaign_sent_date=2025-04-06T14%3A36%3A54Z
Louise Viljoen lewer ook met haar lang hoofstuk [63 bladsye] vroeg in die boek, weer bewys van haar vermoë om oorkoepelend te skryf en detail te verwerk. Sy noem dit “Die ‘verruklike afhanklikheid van taal’: Antjie Krog en ’n loopbaan in taal”.
In hierdie bydrae bekyk sy hoe taal as tema en as instrument in Krog se werk gestalte gekry het. Dit begin met die spanning rondom die begrip “moedertaal”, wat in haar geval die werklike taal was waarmee haar ma, Dot Serfontein, haar as skrywer help vorm het. Maar dit het ook ’n ander dimensie, die nasionalistiese, eng-kommunale en voorskriftelike taal van die gemeenskap waarin sy groot en grootgemaak word. En dan, verder, hoe die taal deur die verskrikkings van die politieke immoraliteit en ongeregtigheid verarm en verswak is.
Daar bestaan myns insiens geen helderder en oortuigender verkenning van die poësie van Krog nie, of ’n verduideliking van hoe sy as mens en as vrou aan die woord kom, as hierdie stuk van Louise Viljoen nie. Dit maak haar hele oeuvre toeganklik sodat dit selfs vir die oningewyde leser duidelik word hoekom en hoe die Afrikaans in en rondom haar werk met verloop van tyd verander het en daar steeds nuwe funksies aangeslib het.
Op ’n besondere wyse word die stuk dan ook ʼn biografie omdat die chronologiese progressie van hierdie veranderde houding teenoor Afrikaans en die transgressiewe elemente telkens terugherlei word na die digter se blootstellings en ervarings.
Daar is in hierdie verband, byvoorbeeld, ook onderafdelings waarin die skrywer kyk na die omstandighede waaronder Krog in Engels gewerk het en die frustrasies wat dikwels daarmee saam aanwesig was, soos alles ondersteun met verwysings na en aanhalings uit haar werk. Hierdie aanhalings kom uit beide haar poësie en prosatekste, en vestig ʼn patroon wat ook opval in ander bydraes.
Die eerste bydrae in die bundel, net voor dié van Viljoen, bied ʼn andersoortige bekendstelling van dié Antjie Krog. Die bekroonde Nederlands-Arubaanse digter, Alfred Schaffer, tree in “Woede is eintlik altyd aanwesig” in gesprek met haar. Deur interessante vrae ontlok hy antwoorde by haar oor haar werk, wat in die meeste gevalle ooreenstem met dit wat Viljoen uit die Krog-oeuvre vasstel. 3
Schaffer se vrae betrek ook van haar werk in Engels, waarin die politieke en maatskaplike betrokkenheid van die digter die duidelikste spreek en wat haar internasionale rol gevestig het.
Hier dink ek aan die aangrypende Country of my skull [oor haar betrokkenheid by en belewenis van die Waarheid- en versoeningskommissie] en Begging to be black, wat 10 jaar later sou verskyn. Met hierdie twee boeke, hoewel dit in Engels geskryf is, het Antjie Krog haarself min of meer as die ongemaklike gewete van die Afrikaner laat ken.
Een van die interessante dinge omtrent hierdie spesifieke huldigingsbundel is dat ʼn selfstandige biografiese hoofstuk ontbreek. Die leser moet self, soos hy of sy deur die boek werk, die biografiese prentjie soos ʼn legkaart inmekaar pak. Die gesprek met Schaffer, wat ook moeilike vrae vra, is die eerste stap in daardie rigting; in die bydrae van Marlies Taljard, amper teen die einde, waarin sy na Mede-wete kyk, fokus sy ook hierop.
Die biografiese legkaart kry in die derde bydrae, deur Ihette Senekal, heelwat stukkies om verder in te pas: “Vergestalting van die outobiografiese spreker in Antjie Krog se Lady Anne“.
Met die verskyning van dié bundel, het die resensente destyds [dis hoekom die bibliografie so belangrik is!] reeds verwys na die persoon van die historiese Anne wat as ‘n soort “objective correlative” instaan vir Antjie, die digter. Daar is natuurlik ook baie, baie gedigte waarin die aansluiting by Lady Anne Barnard eintlik wegval en Krog voorop kom staan.
Senekal gee nuttige wenke oor die wyse waarop gedigte, van enige digter, as outobiografies herken kan word en identifiseer 5 kenmerke: enkelvoudigheid [daar is net een stem hoorbaar], anonimiteit [die stem dra ‘n mantel waarin die spreker nie kenbaar voorop kom staan nie], identiteit [herkenbare ooreenkomste tussen die stem/verteller in die gedig en die outeur van die bundel], betroubaarheid, wat verwys na die “konsekwentheid van die ooreenkoms tussen die spreker se waardes en persepsies en dié van die outeur [106]. Die laaste van hierdie kenmerke noem sy “nonnarratiwiteit”, en voer aan dat liriese poësie meer geneig is tot die outobiografiese.
Sy bespreek dan 5 gedigte uit Lady Anne aan die hand hiervan: “weer eens”, Liewe S.”, “eerste kersnaweek onder die noodtoestand”, “Lady Anne by die mikrogolf” en “ma sal laat wees”. Deurdat sy die gedigte volledig aanhaal, kan ons as lesers eweneens deurentyd die betoog volg, een waarin verskeie aspekte van Antjie Krog as mens, en veral as vrou, in verskeie rolle dan geïllustreer word.
Terloops: hoe gevaarlik dit is om besonderhede in ‘n gedig sonder meer as werklikheid en waarheid te lees, word prettig [en dus ook doodernstig] deur Krog beklemtoon in ‘n antwoord op ‘n vraag van Schaffer [35] en waar sy verwys na ‘n vroeë gedig van haar.
Ek het vroeër na haar betrokkenheid by die WVK verwys en dit kom vooropstaan in Karen van Marle se bydrae “Amor mundi: Antjie Krog en Hannah Arendt se liefde vir die wêreld – oordeel, versoening en saamleef”.
Arendt, ‘n filosoof, skrywer en politieke denke-aktivis, het bietjie meer as sestig jaar gelede internasionale opspraak verwek en aansien verwerf met haar boek Eichmann in Jerusalem: A Report on the Banality of Evil. Dit is ‘n verslag van die verhoor van Adolf Eichmann, ‘n topfiguur onder die Nazi-leiers, amper twee dekades na die einde van die Tweede Wêreledoorlog.
Van Marle vergelyk hierdie boek met Krog se Country of my skull en besluit dat die kernvraag in albei boeke, juis in die lig van die verskrikkings wat in die afsonderlike verslae onder die loep geneem word, is hoe ons kan saamleef. En die antwoord daarop is deur wat Arendt noem ‘n “enlarged mentality”, die proses waarin jy jouself in ander se posisie, dalk self hulle skoene, plaas.
Hierdie hoofstuk bied ‘n nuttige en belangrike bekendstelling aan die denke van Arendt wat sy saamvat as om die aarde/wêreld lief te hê. Vandaar “amor mundi”. Vir haar beteken dit “‘n deeglike omgaan met dit wat ons doen en ‘n diep besinning aangaande wat dit is wat ons doen”, vat Van Marle dit saam [141-142].
Ons moet “nuut […] dink oor die wêreld wat ons met ander deel” [143] en daarvoor moet ons eers “ontleer” voordat ons met ander kan saamleer en saamweet. Hieruit ontstaan daar ‘n besef van wat en hoe ander voel, ontstaan daar ‘n interverbondenheid, sonder om ooit afstand te doen van kritiese refleksie. Van Marle tipeer Country of my skull juis as ’n omgaan met ‘n kollektiewe geheue, iets wat net kan gebeur as daar so ’n proses van “ontlering” was.
In “Postkoloniale satire in enkele gedigte deur Antjie Krog en Ronelda Kamfer” kyk Jacomien van Niekerk na die rol van satire in postkoloniale letterkunde in Suid-Afrika. Sy trek haar eie beginpunt vir postkolonialisme na 1994, ’n ongelukkige tendens waarin die opvatting onderliggend bly dat die maghebbers voor daardie datum eintlik kolonialiste was.
Meer as ’n derde van haar artikel is ‘n oorsigtelike, baie breë teoretiese inleiding, voordat sy met die bespreking van die drie gedigte begin: Krog se “Elke dag kan ek met jou maak asof jy myne is” [uit Verweerskrif] en Ronelda Kamfer se “eviction notice” en “owner’s response”, uit grond/Santekraam.
Dit is jammer dat die skrywer nie al drie die gedigte volledige plaas nie, want sonder die gedig is dit vir die leser moeilik om die konteks, en veral die binne-gesprekke in ʼn gedig, te volg.
Dit is veral waar vir ’n langer gedig soos Krog s’n, waarin daar sprake van beweging en ontwikkeling is: in die slotopmerkings oor hierdie gedig skryf sy immers oor die “keuses wat ten opsigte van vorm en representasie gemaak is” [186]. Sonder toegang tot die hele gedig word dit moeilik om vas te stel in hoeverre die satire ʼn sentrale aspek van die gedig is.
Die satire is onmiskenbaar in “eviction notice”, juis omdat die gedig in sy geheel gelees word. Die titel self, die toonaard en taal van die spreker [Jan van Riebeeck], die wanvoorstelling van die geskiedenis en die oordrywing, selfs al was die aanvanklike rede vir die kolonisering juis nie wat hier staan nie.
Daarom is dit eintlik onbegryplik dat “owners’ response” nie ook volledig verskyn nie. Die leser síén dus nie die vorm van die brief nie [wat juis nie ʼn gedig, ʼn Europese ding, word nie] en die gebruik van taal en die soort taal wat kwansuis in hierdie “verseëlde brief” gebruik word.
Daar is twee bydraes rondom Mede-wete, die bundel waarvoor Antjie Krog ‘n tweede keer die Hertzogprys ontvang. Die eerste is van Maria Snyman; die ander is deur Marlies Taljaard, en is reeds voorheen gepubliseer.
Maria Snyman se “Stansa my steen, laat die bot koppe lig skep: Antjie Krog se Mede-wete/Synapse gelees as ʼn verregaande vermaaklike draakstekery met akademiese geletterdheid” is ʼn verrassende en interessante verkenning van ʼn bepaalde aspek van Krog se werk wat haar aandag getrek het.
Synapse is die titel van Karen Press se Engelse vertalingsweergawe van Mede-wete. Snyman gee min aandag hieraan, terwyl ek vermoed daar heelwat interessante dinge gaan opduik by so ʼn vergelykende ondersoek.
Die waarskynlike rede waarom Press haar titel gekies het, is omdat Krog die woord en begrip gebruik om die verbande tussen dinge, ook taal-dinge, raak te sien of te lê. Onderliggend sien Snyman die dekonstruktiewe inslag van die bundel raak en woeker dan op dieselfde manier voort.
Die vraag wat onderliggend is, is in watter mate dele van Krog se werk sinies sou wees rondom die wyse waarop die slim akademici, resensente en navorsers omgaan met [haar] gedigte? Snyman se aanslag is speels, maar dra ook tekens van deeglike eie geletterdheid waardeur gedigte telkens dinge openbaar.
Miskien selfs te geleerd vir soverre sy haar eie geleerdheid, veral rondom die Franse filosoof Jacques Derrida, graag wil uitbuit. Jy sal daarom ook ʼn fout maak om nie tog maar ook die aantekeninge [228-232] in die klein druk te lees nie.
Maar Snyman neutraliseer daardie vooropplasing deur die wyse waarop sy op ʼn amper verstommende manier Krog se eie woorde in haar, Snyman se betoog inweef, invou en verbande bly lê. Die aanhalingstekens rondom dinge uit die bundel lê die lang paragrawe vol en tussen hulle ontdek ʼn mens al lesende die verbluffende wyse waarop Krog woorde maak of nuwe sin[ne] daaruit haal. En hoe verbandlegging, interverbondenheid en interafhanklikheid, die saam-weet, werklik ʼn dominante motief in die bundel is.
Die tempo waarmee sy haar argument aanpak met behulp van onophoudelike verwysings na stukke van Krog se gedigte in Mede-wete, en Snyman se vermoë om woorde aan mekaar te slaan, gaan die meeste lesers waarskynlik vermoeiend vind, maar die entoesiasme en humor dra jou dan tog weer verder. Totdat sy jou daarvan oortuig: “Viva Antjie Krog!” eindig sy: “Jy is n groot skrywer, ʼn dodelik snaakse draaksteker – jou ‘graan-roggelende kore van duiwe’ glip alte lekker oor my tong!” [225]
Dit is moeilik om te glo dat Marlies Taljard oor dieselfde bundel skryf in haar stuk “ ‘Geen vlerke meer…’: geselekteerde gedigte in Antjie Krog se Mede-wete gelees as outobiografiese postsekulêre laatwerk”. Maar dit bevestig net die werklike besonderse aard van daardie bundel en waarom dit met die Hertzogprys bekroon is.
Taljard verwys na die begrip “holisme” as ʼn gespreksmaat vir “interverbondenheid” en vind dan dat ʼn aantal gedigte in Mede-wete verskyn wat vir haar daarop dui dat ʼn nuwe soort spiritualiteit daardeur gestalte kry. Sy omskryf dit as “een wat gebaseer is op die eenheid van alle dinge en die heelheid van die heelal” [233].
Sy gee ‘n werkbare definisie van spirituele ervarings wat in outobiografieë neerslag kry en kyk dan na wat by Antjie Krog in daardie bundel gebeur.
Taljard bou haar stuk deur na spesifieke gedigte te verwys, wat ook in die artikel volledig aangehaal word. Sy het nie ‘n besondere teoretiese probleem daarmee om die spreker, die liriese “ek”, in hierdie gedigte as die digter te beskou nie. Trouens, sy gebruik die konteks waarin die gedigte binne die bundel verskyn, rondom ander gedigte wat na kinders/kleinkinders verwys, as belangrike aanduiders.
Haar bespreking van die gedigte [“moniaal”, “kerssonnet”, “ongelowig is nie die regte woord nie” en “‘n eland staan by ‘n kuil”] en die vergelyking tussen hulle, is helder. Sy identifiseer daarin “‘n verhoogde bewustheid” wat uitloop “op ‘n besinning oor iets wat groter is as die die mens.” [240]
Daarvoor moet die tradisionele grense en opvattings van godsdiens en geloof verskuif en verander word en moet ook taal en metaforiek transformeer. In die proses word die “ek” juis gerelativeer sodat die begrip “outobiografies” eintlik onvanpas is!
Taljard se artikel [wat reeds vroeër elders gepubliseer is] is ‘n belangrike bydrae tot die gesprek oor die wyse waarop ons in ‘n postsekulêre wêreld ons “niksheidnoutes” en “hiernamaalsflardes” [uit “‘n eland staan by ‘n kuil”] probeer verstaan en, veral, verwoord.
Hoewel Krog reeds as dramaturg gedebuteer het [Met die oog op môre, in 2022], kom hierdie teks nie afsonderlik ter sprake in die bundel nie.4 Maar haar betrokkenheid by teater word wel bekyk, as vertaler, in Danie Stander se bydrae: ” ‘op ‘n derderangse verhoog vol swape en gierende grapjasse’: Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se Koningin Lear“.
Antjie Krog het natuurlik internasionaal bekendheid verwerf as vertaler van poësie uit ander inheemse tale en in Suid-Afrika naam gemaak met haar vertaling van Afrikaanse digters se werk. Sy het onder andere ook nog kinderboeke vertaal en haar eerste medewerking met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye, die vertaling van Mamma Medea, word in 2002 gepubliseer.
Lanoye se Nederlandse verwerking van Shakespeare se King Lear as Koningin Lear verskyn in 2015 en danksy Krog se vertaling in Afrikaans word die drama met groot sukses in Suid-Afrika opgevoer.
Lanoye se teks is, soos die titel duidelik maak, ook ‘n verwerking en Stander begin deur kortliks en duidelik te kyk na die problematiek rondom teksgetroue vertaling, aan die een kant, en vertaling wat deur verwerking ‘n selfstandige bestaan kry.
Dit is laasgenoemde aspek wat hy in die Afrikaanse vertaling ondersoek. Hy wys hoe sy, in navolging van die feministiese aanslag wat Lanoye in sy verwerking ingebou het, Shakespeare se karakters tot eiesoortige persoonlikhede ontwikkel. Vir hom is die grootste wins die wyse waarop die vertaler deur haar gebruik van verskillende soorte en registers van Afrikaans die drama ‘n tweede keer verwerk.
In die afdeling ” ‘developed through “impurity” ‘: Krog se vertaalpoëtika van onsuiwerheid” Stander wys hoe die taal in Krog se weergawe sentraal kom staan a.g.v. wat hy noem “niegestandaardiseerde klanke”. Daardeur word die dramatiese gegewe gelokaliseer, word die gehoor nog verder vervreem as wat Lanoye bereik het, terwyl Krog, ironies genoeg, juis weer aansluit by die “vuiltaal” wat so vrylik in Shakespeare se tekste gehoor word.
In sy voorlaaste afdeling [hou maar asem op!] ” ‘ ‘n drolverwekker’: abjeksie en obseniteite in Krog se Koningin Lear” voer Stander aan dat Krog doelbewus sulke taal gebruik sodat die hoofkarakter, Elisabeth, haar kan “losmaak van die seksistiese verwagtinge van haar samelewing” [292]. Die taal word in die vertaling self ‘n spreekbuis van bevryding.
Vroeg in hierdie bespreking het ek verwys na die Krog-bundels met kindergedigte en Andries Visagie kry die laaste woord juis hieroor in “Interverbondenheid in Antjie Krog se gedigte vir kinders oor feetjies en fynbos.”
Tydens die lees van die bydraes in die huldingsbundel, kom ‘n mens die woord “interverbondenheid” [of:”interconnectedness”] herhaaldelik teë. Die inhoud van hierdie woord sluit nou aan by daardie vroeë ideaal van ons destydse nuwe bedeling: ubuntu. Maar in hierdie bundel verwys dit na meer as die enger begrip van méns-wees, want dit verwys na die verband en saambestaan, saam-wees, wat daar tussen alle dinge is. Visagie sluit dan ook ‘n kort afdeling oor interverbondenheid by Antjie Krog in sy bydrae in.
Visagie se aanvanklike invalshoek is die opkoms van kritiese plantstudies die afgelope drie of vier dekades, waarin groter aandag gegee word aan plante as “outonome komplekse lewensvorme” [305]. Nie alleen dra dit daartoe by om die interverbondenheid binne die sfeer van die planteryk voorop te plaas nie, maar word plante ook belangriker as net hulle praktiese waarde.
Natuurlik is dit waar dat kunstenaars altyd die wêreld van plante só beskou het, maar Visagie meen die “estetiese funksie van die letterkunde bied aan skrywers uiteraard geleenthede om hierdie vryer, onbevange visie op plante op verbeeldingryke en verkennende maniere uit te bou.” [308]
Op dieselfde bladsy vat hy die kern van Krog se werk rondom plante [spesifiek ons inheemse fynbos], feetjies en kinders soos volg saam: “Wanneer Antjie Krog oor fynbos skryf skryf sy ook oor feetjies as antropomorfe, intermediêre figure wat die kinderleser se aandag vestig op kwessies soos diversiteit en inheemsheid wat sowel mens as plant betrek. Kleur, plant, spesie, feetjie en leser kom nooit alleen nie, maar is deel van ‘n uitgebreide relasionele netwerk” [my beklemtoning].
Voordat hy, myns insiens te beknop, terugkeer hierna, ontspoor sy betoog effens wanneer hy fynbos vanuit die [verpligte] post-koloniale konteks bekyk. Hy kies enkele tekste om te illustreer hoe die inheemse planteryk “in verhouding tot nasieskap in Suid-Afrika verbeeld word” [311] en kies ‘n paar gedigte om die spanning tussen inheems en uitheems ook rondom plante koloniaal in te klee.
In die samevattende slotafdeling, skryf Visagie dat Krog se gedigte oor fynbos en feetjies ‘n “boeiende toevoeging” is tot haar poging “om ‘n inklusiewe toehorigheid vir sowel mense as ander lewende wesens te verbeel” [321]. Dit is jammer dat hy nie genoeg aandag aan die gedigte self gegee het nie: net 5 uit 19 bladsye word daaraan gewy en nie ‘n enkele gedig word in sy geheel aangehaal nie. Dit is teleurstellend, want Visagie het ‘n belangrike aar raakgeboor wat hy regtig behoorlik moet benut.
Soos in al die ander huldigingsbundels, is daar ook in hierdie een oor Antjie Krog ‘n middelste invoegsel met foto’s. Die lekker foto’s is deur die digter self verskaf en van byskrifte voorsien en bied hierdeur nog ‘n klomp stukkies om die biografie-legkaart te help voltooi. Die voorblad self moet natuurlik ook genoem word: ‘n effens jonger, ondeunde blik.
Antjie Krog ʼn Ondersoekte lewe. ʼn Huldiging bied ‘n klomp interessante perspektiewe op en rondom haar werk, wat werklik bevestig hoe dit getuig van daardie ondersoekte lewe. Dit is ‘n uitstekende toevoeging tot die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks oor die Hertzogpryswenners en lewer terselfdertyd bewys daarvan dat navorsing in Afrikaans gedy.
AANTEKENINGE
- Die berig wat op Maroela Media rondom die ere-doktorsgraad wat die Universiteit van Pretoria verlede jaar aan haar toegeken het, lig baie aspekte hiervan toe: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/goeie-nuus/antjie-krog-vereer-met-doktorsgraad/
Die paar kommentare wat op LitNet gelewer is na haar toespraak ten tyde van die tweede Hertzogprys, is sprekend van die sterk gevoelens wat daar rondom haar en haar uitsprake bestaan:
https://www.litnet.co.za/video-antjie-krog-se-toespraak-die-ontvangs-van-die-hertzogprys-2017/
- Ai, waarom die mooi subtitel se bron, Sokrates, op p 7 laat Engels praat!
- Dit is die tweede onderhoudsgesprek tussen hierdie twee digters waarvan ek bewus is. Die eerste, heelwat korter, kom uit 2002 en het in die eerste nommer van die Nederlandse tydskrif Awater verskyn: ‘Een orgel in Afrika. Een gesprek met Antjie Krog’. [Lees by https://www.dbnl.org/tekst/_awa001200201_01/_awa001200201_01_0039.php ]
- Stander betrek wel Krog se Met die oog op môre wanneer hy die hoofkarakter, koning Moshoeshoe, plaas teenoor die figuur van Oleg en oor die betekenis daarvan – sien pp 284-286. Daar is natuurlik ook aspekte van al Krog se werk in en rondom drama wat aangeraak word in haar gesprek met Schaffer waarmee die huldigingsbundel begin.
