Resensie: De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” deur Yves T’Sjoen. 2025. Scribis.
Resensent: Marlies Taljard
Op 24 November 2024, die dag waarop die digter Breyten Breytenbach oorlede is, skryf Yves T’Sjoen die laaste woord aan De ontdekking van het eiland: breytenbachiana – die derde in ‘n reeks “notaboeke” oor die werk en transnasionale betrokkenheid van die digter Breyten Breytenbach. (In 2023 verskyn Kwintet en in 2024 Breyvier.) Die titel van die boek is ontleen aan die Algerynse digter Tahar Djaout se L’invention du désert (1987).
In die “Woord Vooraf” skryf T’Sjoen dat dit nie die doel van die boek is om “kritische evaluaties uit te spreken of een close reading te ondernemen van teksten” nie. In haar “Uitleiding” beskryf Louise Viljoen die aard van die werk soos volg:
T’Sjoen bied sy boek aan as ’n “werkskrif ” of “notaboek” in die heuristiese tradisie, dus ’n tradisie wat lesers sal bemagtig om bepaalde aspekte van Breytenbach se oeuvre te ontdek en self verder te ondersoek. Die verskillende formate waarin die onderskeie stukke aangebied word (gesprekke, notas, kort kommentare, verslae van argivale soektogte, ’n elegiese coda), is tekenend van hierdie konteks-gebaseerde, soepel, pragmatiese en ondervragende benadering. Eerder as om ʼn bepaalde onderwerp tot op die been te kloof, dui hy vir sy lesers potensiële ondersoekspunte aan, nooi hy hulle uit om deel te word van die gesprekke wat hy voer en stimuleer hy hulle tot verdere nadenke oor die Breytenbach-oeuvre.
Die meeste van die opstelle wat in die bundel vervat is, het vantevore in ʼn vroeër weergawe op die webwerf Voertaal/LitNet of op die diskussieforum Samespraak verskyn en verskaf ʼn wye blik oor die werk, oeuvre en internasionale betrokkenheid van die digter Breyten Breytenbach. Benewens digter, was Breytenbach in Europa veral as modernistiese beeldende kunstenaar, politieke aktivis en filosoof bekend wat vir sy volgehoue bemoeienis om die menswaardigheid van alle mense onthou sal word. In dié verband wys Louise Viljoen daarop dat T’Sjoen ʼn belangrike faset van Breytenbach se oeuvre in die betrokke werk belig, naamlik “die nomadiese beweeglikheid daarvan, deur die transnasionale en translinguale benadering wat hy volg”. Die voordeel vir die leser van die werk is dat T’Sjoen Breytenbach persoonlik geken het, goed met hom bevriend was en oor dekades ʼn studie van Breytenbach se werk gemaak het. Vir Suid-Afrikaanse lesers is die skrywer se invalshoeke dikwels nuut en uitdagend, en daag dit kritiese gesprekvoering en debat uit.
De ontdekking van het eiland bestaan uit vier hoofdele, tewete “Breytenbach en de Lage Landen”, “Breytenbach en het verzet”, “Breytenbach en Afrika” en “Breytenbach en vertaling”. Hieruit behoort dit reeds duidelik te wees dat daar ʼn groot verskeidenheid temas aangesny word, en blaai ʼn mens deur die boek, is dit ook duidelik dat verskeie tekstipes verteenwoordig word. ʼn Hele paar insiggewende onderhoude vorm deel van die werk, onder andere met Joost Nijsen en Krijn Peter Hesselink oor Breytenbach se werk in Nederland, asook die vertaling daarvan na Nederlands. Enkele ander skrywers soos Alwyn Roux en Adriaan van Dis (oor sy vertaling van Breytenbach) kom ook aan die woord.
Die eerste afdeling van die boek bestaan uit vyf opstelle en handel veral oor Breytenbach se verhouding met die Lae Lande en die Nederlandse letterkunde. Die eerste bydrae is ʼn onderhoud met H.C. Ten Berge: “Zwervend door verbeelde streken / denk ik vaak aan jou, penseur sauvage in nomadenland” waarin die (literêre) verhouding tussen Ten Berge en Breytenbach krities beskou word. Nog ʼn interessante bydrae is “Raakruimtes: Crossmediale dialoog tussen Breytenbach en Henk van Woerden”. Besonder kosbaar is die brief wat Ampie Coetzee aan Breytenbach geskryf het en wat as Inleiding dien tot Die hand vol vere – ʼn diepgaande analise van Breytenbach se werk. Coetzee en Breytenbach was sedert hulle jeug heg bevriend en juis daarom het Coetzee besondere insig gehad in sy vriend se werk.
Die tweede bundelafdeling word gewy aan minder bekende aspekte van die Beytenbach-oeuvre en Breytenbach se lewe. “ ‘Will of a Rebel’ (1979), een toneeltekst over Breytenbach” is ʼn toneelstuk wat Breytenbach as persoon belig. In “Alles baie stil gereël en niemand het geweet” word die rol van H. van der Merwe Scholtz in Breytenbach se vrystelling uit die tronk onder die soeklig geplaas. Ook die opstel oor die Berend Schuitema-saak soos vertel deur Conny Braam bevat inligting wat tot dusver nie alombekend was nie. Vanuit ʼn biografiese oogpunt is hierdie afdeling besonder interessant en gee dit insig in die werk en filosofie van die digter, veral vir jonger lesers wat nie die toestande onder apartheid wat Breytenbach se lewensfilosofie en sy ganse lewe gevorm het, eerstehands beleef het nie.
Sewe opstelle oor Breytenbach se veelvlakkige verhouding met Afrika vorm die voorlaaste deel van die boek. Wat interpretasie van die oorkoepelende temas in Breytenbach se oeuvre betref, is hierdie myns insiens die belangrikste afdeling van die boek. Sy betrokkenheid by die voormalige slawe-eiland, Gorée en die Gorée-instituut in Senegal word in besonderhede in hierdie afdeling ondersoek. In die eerste opstel, “Van ’n Popperiaanse filosofie op weg na ’n Afrika-filosofie” besin T’Sjoen en Alwyn Roux oor die invloed van Karl Popper se filosofie van die “oop samelewing” op Breytenbach se werk. Hierdie opstel is veral van belang omdat dit nuwe navorsingsmoontlikhede suggereer – ook in aansluiting by Francis Galloway se insigte soos dit vervat is in haar boek Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990). Twee opstelle ondersoek Breytenbach se siening van die land MOR. “My afrika ek kom” belig Breytenbach se konstruksie van Afrika, onder andere gebaseer op sy 2016-lesing by die Universiteit van Pretoria, “Modernities & our inner Africas”.
In die laaste afdeling, “Breytenbach en vertaling” handel dit oor vertaalde Breytenbachtekste. Twee onderhoude met vertalers is belangrik omdat die vertaalstrategieë van verskillende vertalers naasmekaar gestel word. ʼn Derde onderhoud betrek een van Breytenbach se Nederlandse uitgewers, Joost Nijsen van Podium in Amsterdam. Die opstel “‘Wanneer de duisternis is neergedaald over het stadje in het Oude Land” is belangrik omdat dit lig werp op ʼn relatief onbekende Nederlandse vertaling uit Katastrofes (1964) van Frans Kellendonk.
Noudat Breyten Breytenbach se oeuvre afgesluit is, sal daar waarskynlik tientalle en selfs honderde navorsingstukke oor sy werk verskyn. Yves T’Sjoen se bydrae kan in dié opsig nie onderskat word nie. Hoewel die werk onder bespreking geskryf is tydens sy lewe, vorm dit op ironiese wyse, tesame met die twee werke wat dit voorafgegaan het, ʼn baie volledige besinning op Breytenbach se werk – ʼn besinning wat meer vrae suggereer as wat dit antwoorde verskaf. Dus ʼn uitnodiging tot verdere gesprek, nuwe fokuspunte en interpretasiemoontlikhede.
Sien die uitgewer Skribis by die volgende skakel:
https://www.skribis.be/nl/vers-van-de-pers/de-ontdekking-van-het-eiland.html