Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 April 2025

Jan Pretorius. Assessering

 

Assessering

 

ʼn Rubriek is ʼn rubriek, maar ís dit wat dit is?

Wie té stip sou staar sit die pot dalk mis?

Wit is wit en grys is grys, water lyk soms op ys –

wie wil graag die ysberg wys?

 

Dinsdag 1 Julie 2025, 14:22

Aan:                      Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Honneursstudent se rubrieke terug

 

Geagte Dr. Fürstenburg

 

Ek heg met ʼn skeut huiwering,

maar in lyn met kundige pedagogiek,

die drie rubrieke

van u student se aanbieding aan.

 

Ek wil bevestig

dat ek dit enigermate vreemd vind

dat Dr. Edeling se punt

relatief laag is – séstig,

 

wat ongunstig vergelyk

met die ander assesserings –

beide tagtig, geen geringe verskil nie,

van Prof. Delport en Dr. van Wyk.

 

Met vriendelike groete,

Dr. Anton Cloete

Dinsdag 1 Julie 2025, 16:02

Aan:                      Dr. A.P. Cloete

Onderwerp:      Honneursstudent se punte

 

Geagte Dr. Cloete

 

Dankie vir kranige werk tydens

en na die aanbiedings.

Daar is iets wat my pla,

so ek wil vra

 

of u opmerk die blokkies van Dr. Edeling se rubriek is leeg,

sonder aanduiding dat die kriteria deeglik oorweeg is.

Sy punt is skynbaar uit die duim gesuig;

lyk dit vir u ook of die reëls gebuig is?

 

By aanbiedings is ons Assesseringbeleid

uiteraard bepalend, veral deursigtigheid;

om dinge te verdoesel, lyk onbillik,

of – behoede ons – oneerlik.

 

Boonop is daar ʼn enkele opmerking:

“Die sub-vrae van die navorsing is ʼn groot beperking.”

Genoemde dosente is op standaard;

Dr. Edeling, daarenteen, laat my beswaard.

 

Met hartlike groete,

Dr. Hendrik Fürstenburg

 

 

 

Dinsdag 1 Julie 2025, 17:42

Aan:                      Dr. J. Edeling

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Rubriek van Honneursstudent terug

 

Geagte Dr. Edeling

 

Ag kollega, dit spyt my,

ek moet ʼn saak van die bors af kry.

Ek doen dit met aarseling:

u rubriek roep om verbetering.

 

Die kwessie is gewigtig;

al voel ek effe skigtig

wil ek hoflik vra of u tog,

as dit u geval, nog ʼn slag

 

na u rubriek sal kyk en toepaslike

punte in die onderafdelings intik?

Die totaal moet optel tot sestig –

dis dán eers geldig.

 

Met hartlike groete,

Dr. Anton Cloete

 

 

Woensdag 2 Julie 2025, 8:43

Aan:                      Dr. A.P. Cloete

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. J. Edeling

Onderwerp:      Onvolledige rubriek en teleurstelling

 

Geagte Dr. Cloete

 

Om nóú punte in te voeg, sal nie doen nie;

dít is nie met aanvaarde praktyk te versoen nie.

Ek blý onvergenoegd dat die onderafdelings leeg is;

ek twyfel of dit oorweeg was.

 

Die aansienlike verskil pla steeds –

u het dit reeds uitgewys.

Ek wil voorstel dat u

Dr. Edeling se punt ter syde stel.

 

Met vriendelike groete,

Dr. Hendrik Fürstenburg

 

 

Woensdag 2 Julie 2025, 10:22

Aan:                      Dr. H. Fürstenburg

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. A.P. Cloete

Onderwerp:      Teleurstelling en woede

 

Geagte Dr. Fürstenburg

 

Ek het u e-pos met teleurstelling

ontvang, met ʼn opwelling van woede.

U was agterbaks om sodanig te kommunikeer;

van kollegialiteit moet u nog heelwat leer.

 

Ek wil u daarop wys dat die rubriek deels verkeerd is;

iemand soos u, wat tog ver geleerd is:

sou mens die onderafdelings bymekaar tel,

is die totaal honderd-en-twintig; moet ek dit eenvoudiger stel?

 

U is arrogant om opdragte uit te deel;

u sal u nogal wat verbeel.

O, dan ʼn laaste mededeling:

hierdie universiteit is ʼn wêreldklas-instelling.

 

Met hoogagting,

Dr. Janus Edeling

N.s. Dr. Cloete, ek heg die volledige rubriek aan, ek verpes die ding.

 

 

Woensdag 2 Julie 2025, 13:22

Aan:                      Dr. J. Edeling

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Verwys rubriek weer terug

 

Geagte Dr. Edeling

 

Ek het voorbehoude:

u punt is verwronge;

ek moet u noodgedwonge wys

op brutale foute.

 

U het vyf punte toegeken by “Inleiding” –

in die blokkie vir sewe tot agt, en dan,

onder “Doelstellings” het u sés; dit kan tog nie?

Verder wil ek u wys op die fout by “Aanbieding”.

 

Ek voel verleë om u teleur te stel:

die rubriek se totaal is inderdaad reg.

Dr. Edeling, ek voel sleg

oor wat hier gebeur het,

 

maar, gesien dié rubriek, ingedien deur ú,

is ek nou redelik sku

om u punt te aanvaar;

die gevaar –

 

wat die saak bemoeilik –

is dat ons, indien ons u punt verreken,

ʼn knoeiery sou vergoeilik

en dan stuur ons daarmee ʼn verkeerde teken

omtrent dié wêreldklas-universiteit.

Ek besluit dus met spyt

om u punt tersyde te stel,

maar ek stuur wel

 

warm groete.

Vriendelik die uwe,

Dr. Anton Cloete

 

 

Donderdag 3 Julie 2025, 8:22

Aan:                      Dr. A.P. Cloete

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Korrekte rubriek aangeheg

 

Geagte Dr. Cloete

 

U het my daarop gewys dat my rubriek verkeerd is.

Ek hoop nie u dink dat ek daardeur ongeleerd is nie.

Die gestuurde rubriek was net ʼn rowwe stuk werk;

ek het hierdie rou poging nou ruim versterk.

 

Ek heg die rubriek aan – met korrekte punte omkring.

Groete,

Dr. Janus Edeling

 

 

Vrydag 4 Julie 2025, 8:45

Aan:                      Dr. J. Edeling

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. A.P. Cloete

Onderwerp:      Groottotaal bekyk

 

Geagte Dr. Edeling

 

Kom ons kyk na die groottotaal.

Sou u gewillig wees om ten enenmaal

te bekragtig:

tel die rubriek uit honderd, of honderd-en-twintig?

 

Met vriendelike groete,

Dr. Hendrik Fürstenburg

 

 

Maandag 7 Julie 2025, 17:14

Aan:                      Dr. A.P. Cloete

Cc:                         Prof. D. Delport, Dr. D. van Wyk, Dr. J. Edeling, Mev. A. Odendaal

Onderwerp:      Tyd het hom ingehaal

 

Geagte Dr. Cloete

 

Dr. Edeling het nou dae gehad om my vraag

te beantwoord. Ek het hom uitgedaag

om die totaal te bevestig.

Ons móét weet hoe hy gekom het by honderd-en-twintig.

 

Ek twyfel of hy gáán.

U mag wonder: waarom dring ek aan

op bevestiging van die groottotaal?

Raak my argument kant nog wal?

 

Laat my verduidelik: om te begryp

hoekom hy so stil is, is die tyd nou ryp

om te gaan kyk na sy vorige e-pos:

u sal onthou dat hy mos

 

op neerhalende wyse geargumenteer het

dat die rubriek uit meer as honderd tel en so probeer het

om my navraag en voorstel belaglik

te laat lyk, maar toe vergat hy sy naam ontsaglik.

 

Nou raak dit duidelik dat hy my ʼn verskoning skuld

en ek wag geduldig,

maar om “ekskuus” te vra is integriteit nodig –

en dít het hy nie, want hy blý mý verwyt.

As hy nie sy punt verklaar nie

kan ons dit beswaarlik aanvaar;

ek wil boonop graag

opvolg met ʼn nuwe vraag:

 

u is ʼn wiskundige: u sal dus weet

ek hét ʼn punt hier beet:

die rubriek tél honderd, dít het u bevestig;

ek voel dus op dié vraag geregtig:

 

hoekom, as hy dag dat dit te groot is

ʼn punt uit honderd neerskryf? Wat hier ontbloot is,

is iets wat ons moet vermy

want dit is duidelik ʼn knoeiery.

 

Die agbare doktor het besef

dat hy hom misgis het wat die groottotaal betref;

hy moes toe sy fout wanhopig verdedig,

maar sy pogings lyk lamlendig.

 

Hy moet dissiplinêr verhoor word,

andersins sal ons aansien verloor.

Ek hoop nie nóg studente het gely onder hom nie;

bekyk ál sy assesserings om dít te voorkom.

 

Ek wil dit duidelik maak dat, wat mý aangaan,

assesserings deur hom nou van die baan is;

ás hy my weer dreig, raak dié saak slegter:

as hý hom kom kry, staan hy voor ʼn regter.

 

 

Ingesluit by ons korrespondensie is my prokureur –

sy sal my verteenwoordig in wat verder gebeur.

Dít het ek nou deur dié proses geleer:

kom ʼn man met ʼn stok, gryp jy jou geweer.

 

Ek bedank u vir u hantering van hierdie saak;

u beginselvastheid het my diep geraak.

 

Met vriendelike groete,

Dr. Hendrik Fürstenburg

 

 

Dinsdag 8 Julie 2025, 7:38

Aan:                      Dr. J. Edeling

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. H. Fürstenburg; Dr. D. van Wyk

Onderwerp:      Assesseringbeleid

 

Geagte Dr. Edeling

 

Ek heg die Universiteit se Assesseringsbeleid aan;

u sal opmerk die regulasies reik wyd,

alles voorskriftelik – om deeglik te bekyk

en dienooreenkomstig te handel; dit blyk

 

dat u dit weer moet oorweeg. Sien u dat

akademici nie rubrieke moet teken wat

onvolledig is nie? Besef u ook dít kan verder uitkring:

“Akademici mag nie onbehoorlike veranderings aanbring nie”?

 

Sien u ook dat ons konsekwent moet assesseer en lees u

dat assesserings deursigtig en betroubaar moet wees?

“Terugvoer,” lees ek, “moet tydig gegee word – en akkuraat.”

Dr. Edeling, sien u dat dit u nie sal baat

 

om u langer te beroep op leuens, beskuldigings

en vae ontkennings nie;

Ek beveel aan u vra Dr. Fürstenburg om verskoning;

ek háát dit om te preek – maar eerlikheid is koning.

 

Met vriendelike groete,

Dr. Anton Cloete

 

 

 

Dinsdag 8 Julie 2025, 16:17

Aan:                      Dr. A.P. Cloete; Prof. D. Delport; Dr. H. Fürstenburg; Dr. D. van Wyk

Onderwerp:      Ek gee hom nie gelyk

 

Geagte kollegas

 

Ek wil reïtereer dat Dr. Fürstenburg ons probeer mislei.

Hy poog nogeens om u sover te kry

om my punt te verwerp. U het gevra dat ek die rubriek weer moet merk;

deur sy teistering het hy my persepsie versterk

 

dat hy besig is om my te ondermyn;

maar sy rok skyn deur:

hy konkel om my ondergang te bewerk;

ék het nougeset gemerk.

 

Ek daag hom uit om my aan te kla.

Ek weier ook om hom om verskoning te vra;

ék slaap rustig; daar is habba wat mý pla.

Hy sal nié ʼn apologie kry nie.

 

Met agting,

Dr. Janus Edeling

 

 

Donderdag 10 Julie 2025, 9:32

Aan:                      Dr. H. Fürstenburg; Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. J. Edeling

Onderwerp:      Mededeling

 

Geagte kollegas

 

Die Assesseringskomitee het vergader.

Ons is enigsins nader

aan ʼn finale oplossing.

Ek wil dié verslag aan u bring:

 

ons het die Assesseringbeleid geraadpleeg

en dit grondig oorweeg.

Ons het besluit dat die volgende reglemente oortree is:

6.1.1 – dat die verkeerde totaal gebruik is toe die punt gegee is;

 

8.8 – dat die assessering nie deursigtig en juis was nie.

Dis ʼn oortreding dat die punte verander is – dít druis in

teen 9.6.1. Laastens mag onvolledige rubrieke nie geteken

word nie (12.2.3). Dr. Edeling se punt is dus verkeerd bereken.

 

Prof. Delport, ek wil dit onder u as Departementshoof se aandag bring

dat die skade aan verhoudings in die Departement nie gering is nie.

Ons moes ʼn besluit neem teen ʼn kollega.

Daar was meningsverskille en ʼn geveg sonder weerga.

 

Met vriendelike groete,

Dr. Anton Cloete

 

 

 

Donderdag 10 Julie 2025, 13:41

Aan:                      Dr. A.P. Cloete

Cc:                         Prof. D. Delport; Dr. D. van Wyk; Dr. J. Edeling; Mev. A. Odendaal

Onderwerp:      Re: Mededeling en kabaal

 

Geagte Dr. Cloete

 

Dankie dat u die kabaal tot ʼn einde bring.

Al die e-posse van Edeling

het gewemel van persoonlike aanvalle en versinsels.

As sulks was sy verwere en beskuldigings verdigsels.

 

Ek sou my skaam as ek ʼn student so sou benadeel.

Ek betwyfel weereens sy assesseringspraktyke in geheel.

Ek wil dus opnuut vra

dat sy assesserings ondersoek word – gaan dit deeglik na.

 

Gesien sy minagting vir die Universiteit

se amptelike Assesseringsbeleid

wil ek voorstel dat hy geskors word

voordat nog tyd op domastrantheid gemors word.

 

Ek argumenteer dat die saak nie daar gelaat

kan word nie. Het Edeling se sinne hom verlaat?

Dit lyk of hy op ʼn vreemde missie is: selfvernietiging;

hy moet iemand aanstel vir sy verdediging.

 

Met groot waardering,

Dr. Hendrik Fürstenburg

 

 

 

Vrydag 11 Julie 2025, 06:13

Aan:                      Dr. A.P. Cloete; Dr. D. van Wyk; Dr. H. Fürstenburg; Dr. J. Edeling

Onderwerp:      Mededeling

 

Geagte kollegas

 

Dankie vir u korrespondensie oor dié goor saak.

Ek het nie reageer nie, want ek wou so laat as moontlik betrokke raak.

Ek sal dit egter nou opneem met die Dekaan,

Rektor en Menslike Hulpbronne; hierdie saak moet verder gaan.

 

Met hoogagting,

Prof. Doons Delport

Departementshoof

 

 

 

Donderdag 11 Julie 2025, 16:23

Aan:  Prof. D. Delport; Dr. A.P. Cloete; Dr. D. van Wyk; Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Ongure gedrag

 

Kollegas

 

Ek kon nie glo toe ek u e-posse sien nie;

ek het dít nie verdien nie.

Ek werk jare vir dié wêreldklas-instansie –

u optrede pas nie by beskaafde mans nie.

 

U gedrag was dwaas en onguur.

Waar is regverdigheid hier, wáár prosedure?

Ek beroep my op die Dekaan;

júlle kan almal hel toe gaan.

 

Maak reg vir ʼn gedugte geveg;

net hoër gesag kan dié saak besleg.

 

Met minagting,

Dr. Janus Edeling

 

 

 

Maandag 8 September 2025, 16:23

Aan:  Dr. D. van Wyk; Dr. A.P. Cloete; Dr. H. Fürstenburg

Onderwerp:      Dissiplinêre verhoor en ontslag

 

Geagte kollegas

 

Ek dra hiermee met spyt oor

dat dr. Edeling dissiplinêr verhoor is

en dat hy aan growwe wangedrag skuldig bevind is.

Weens sy vyandige gesindheid

 

en onaanpasbaarheid is sy aanstelling

aan ons wêreldklas-instelling

met onmiddellike effek opgehef.

Mag hy uiteindelik sy dwaasheid besef.

 

Met hoogagting,

Prof. Doons Delport

Departementshoof

 

© Jan Pretorius

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Jan Pretorius. 1949 Ford pickup

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Anne-Marie Bartie
  • Stephan du Toit. Witgatboom

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Brief, 10 November 2025
  • Carina van der Walt. Paryse dagboek
  • Joan Hambidge. Philip de Vos – die boek op die regte oomblik
  • Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje
  • Digtersprofiel: Mari Grobler

Nuutste kommentaar

  1. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  2. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  3. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)31 October 2025

    Was es ist! Puik vertaal.

  5. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)30 October 2025

    Dankie, Willemien du Preez. Fried skryf verrassend boeiende gedigte vol abstrakte selfstandige naamwoorde - dit waarteen gewoonlik gewaarsku word deur…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d