Blommetjiebraaksindroom
In Japanees is dit Hanahaki se siekte:
Dit spruit uit eensydige liefde,
die liefde wat onbeloond
en onbeantwoord bly.
Mens ontwikkel ‘n onbedaarlike hoesbui,
braak aanhoudend blomme
tot jy versmoor van verliefdheid.
Dus dwaal ek terminaal deur ons land
se biome en vomeer:
Astertjie en bergbruidjie
swartoognooi en klaprosie
blouklokkies, bitterwortel en brandogie
kapelpypie en kinkelbossie
kruidjie-roer-my-nie
leeubekkie, vlamlelie
ag, vergeet-my-nie.
Ek wend my tot ‘n holistiese heler,
kry ‘n elikser van plantgif om af te wurg.
Nou is ek teen wil en dank genees
maar ook my liefdeswaansin kwyt,
waarop my hart volstrek weier om my te vergewe.
Daarom klim ek Heksrivierberg se krans uit
en reik na ‘n rooi disa.
© Jakes Möller, 2025
