Eksamenlokaal
ons oë ontmoet
ek sien die herkenning
die gedeelde
wete; die onthou — hy knik
jare gelede sy Portugese pa
superette in ons woongebied
en sy ma kloekend oor hom
en sy sussie altyd onder haar vlerke
een oggend my man in die winkel
niemand by die geldlaai
onbeheerste snikke agter
die pa — sy vrou die vorige aand dood
rooftog by die huis toe hulle
voor die motorhuis stop
die geldsak van die dag
sy klou, ’n skoot
die kind is nie dood nie
hy sit in die eksamenlokaal
skryf al twaalf jaar
sonder sy ma
© Marthé McLoud, 2026
