Hertzog-tertjies
Het julle geweet dit was oorspronklik
‘n Bo-Kaapse lekkerny?
Genoem na Generaal Hertzog
maar ongelukkig met ‘n bitter
nasmaak daarby.
As destydse eerste minister,
is hy toe mos deur
al die bobaas baksters
so vereer uit pure dankbaarheid.
Want hand-en-mond het hy
stemreg belowe vir elke Eva,
insluitende bruin.
Maar toe hulle dit nie kry nie,
het daardie einste dames,
verstaanbaar moerig,
die tertjies herontwerp
deur die klapperskuim
met versiersuiker te vervang:
een kant wit,
die anderkant pienk
is dit tog te kostelik as
“tweegevreetjies”
landswyd bemark.
Maar die vooraanstaande generaal
kon die bespotting nie daar laat nie,
as geslepe militêre strateeg
het hy presies geweet
hoe om die volk terug te betaal:
Skenk vir die ganse santekraam
‘n uiters gesogte literêre prys
en laat hulle tot in lengte van dae
soos kat en hond daaroor baklei.
En nou met soveel kokke in die land
word die tertjies orals aangebrand.
Want wie weet watter sjef se bek
verdien die jam en watter gek,
verkies klappe bo klapper.
Ja, raak gerus maar boos
jou beskimmelde appelkoos,
maar onthou wat sê die wenresep:
Hier bak ons Hertzoggies
nie suurlemoentert.
© Hennie Nortjé, 2026

Lekker laat jy my lag, Hennie! Humor werk ‘n bietjie soos salf.
Uitstekend parodie! Welgedaan!
Briljant en pure lekkerkry!