
Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ‘n B.Com-graad met regsvakke. Hy studeer in die onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, wiskunde en filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis en -skrywer in Stellenbosch.
Marais is ‘n boekjoernalis en skryf ‘n gereelde rock-rubriek vir Beeld en Die Burger. Hy was ‘n draaiboekskrywer vir Binneland sub judice en op Bush Radio medeaanbieder van die musiekprogram The Unhappy Hour saam met Clive Smith, Toast Coetzer en Erns Grundling.
Hy het sy vrou, Karlien de Villiers, se eerste grafiese roman, Meine Mutter war eine schöne Frau, in Duits vertaal. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poezie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban.
Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ‘n misverstand, het in 2009 by Tafelberg verskyn gevolg deur Solank verlange die sweep swaai in 2016.
Hy het ook die bloemlesing As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe (Tafelberg, 2009) saamgestel, ‘n versameling van essays, briewe, kortverhale en strippe oor ervarings van emigrasie en of verblyf in die buiteland. Hy was ook een van die samestellers van Nuwe Stemme 4 (2010) saam met Ronel de Goede.
Verskeie van sy gedigte word in die 2008 uitgawe van Groot verseboek opgeneem en van sy gedigte word ook opgeneem in die versamelbundels Nuwe stemme 3, My ousie is ‘n blom, Honderd jaar later, en Versindaba 2006.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]
