Laataand in Kambodja
In die maandeurstraalde water
dryf ek, roei ek met my arms
om rots en riete;
die swembad kronkel
soos ’n waterslang,
in die skadu van Angkor Wat
die mosbegroeide tempelstad
waar waternimfe op klip
oor eeue strek.
Die water vloei deur die nag;
ek swem in my eie grag.
Terug in die kamer,
op my uitgekerfde hemelbed,
wag ’n Khmer-slaapstorie —
opgerol en gestrik
in die dowwe lanternlig.
Die apsaras weef
deur my drome.
© Marthé McLoud, 2026
