Posts Tagged ‘Clinton du Plessis’
Tuesday, December 6th, 2016
Die vaderland des aanstoots
Iewers, tussen lojale patriotisme en digterlike sinisme, staan daar altyd ‘n kaal, gulsige keiser, met voete van klei, met sy gevreet op ‘n banknoot en sy rojale agterstewe in die land se botterbak.
En wee die digter wat hom durf teëspreek.
Vir menige skrywer word die vaderland, of dan eerder, die politieke bestel in sy geboorteland, op een of ander stadium, dit wat weersin wek, wat jou inderdaad soos Opperman instinktief “trots” wil laat rym met “kots.” Hoe gepas het Antjie Krog dit ook nie verwoord nie: “ek wrok volkome.”
In 1999 kruis my paaie met ‘n aantal uitgeweke skrywers. Onder hulle, ‘n aangename, goedige, gentleman, Jack Mapanje – hy lyk vir my heel onskadelik.
Hy kom uit Malawi en was die middelvinger in die stiksienige oog en die hand skrywende teen die muur tydens die bewind van Hastings Kamuzu Banda – die despoot en lewenslange president. Tydens Mapanje se tyd in aanhouding, word sy springtou waarmee hy fiks bly van hom weggeneem, omdat hy homself (volgens die owerhede) daarmee sou kon beseer.
Mapanje stut sy loop met ‘n kierie, ek is op krukke en later teken hy vir my sy digbundel, Skipping without ropes.

Hier lees Mapanje sy gedig voor aan ‘n groep leerders.
<iframe width=”340″ height=”90″ src=”https://www.youtube.com/embed/qtyXsEYIhqQ” frameborder=”0″ allowfullscreen></iframe>
Nader aan die tuisfront is daar vele voorbeelde van wordkunstenaars se onvrede met die bestel, van tas pak en die vreemde ‘n blyplek probeer maak.
Die digter-dramaturg Vincent Magombe, uit Uganda ( ‘n soldaat het ‘n geweer teen sy kop gedruk, die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie), praat oor hierdie pyn en vervreemding:
“You start forgetting everything. Even the impression of what an African forest is like, the smells, the colours. Your poetry becomes drier and you compensate by making it more combative. But then you worry about writing propaganda.”
Vir my bly een van die mees tragiese verhale van hierdie land, die verloop van die kort lewe van joernalis-skrywer, Nat Nakasa.
 Nat Nakasa
Bron:http://www.sanef.org.za/awards/about_the_nat_nakasa_award/
Nat Nakasa
As alles té veel word
wens jy dat jy vlerke kon groei,
kon vlieg, ontvlug,
weg van ‘n wêreld
waar alles té duidelik is,
waar die skeidslyne
net té helder getrek lê:
swart of wit,
wit of swart.
Dan vertrek jy,
hoopvol, sonder paspoort,
met ‘n eenrigting-vat-jou goed-en-trekpermit.
New York is anders:
kouer, nie die beloofde Hiernamaal,
die vroue meer koelbloedig, berekend,
bleekblond, serebraal, maar jou vel bly uitroepteken,
wat jou plek, minder subtiel, maar tóg nóg, bepaal.
Jy verlang na die knus sjebeens van
Jozi, Sophiatown,
die gladde lyf van die bottel,
die reuk van afval,
met stampmielies en pampoen,
die ritme op die dansvloer,
die wiegende heupe van Afrika,
die tongklap van die taal
van die hartland,
die gehate land,
die hartseerland,
die oop vure,
die broeiende verset
ondergronds brommend soos
die veraf rammel van ‘n donderstorm wat kom.
As alles te veel word
in die vreemde,
wil jy vlieg,
selfs sonder vlerke,
terug na ‘n wêreld
waar alles té duidelik is
waar die skeidslyne
net té helder lê:
swart of wit
wit of swart.
Jy wik en weeg,
in die venster,
huiwer op die smal balkon,
tussen lewe en dood,
jou woorde stol.
Jou geboortegrond
‘n meulsteen
‘n kruis
om jou nek
trek jou snel
aarde
toe, jou lewensboek
slegs 28 bladsye dik.
Mag die digter hom bly verset teen onreg. Met woorde, soos met bomme.
Bronne:
- Uittreksel uit onderhoud met Vincent Magombe: http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/i-had-never-come-to-a-western-country-before-it-is-good-for-my-writing-1580734.html
Thursday, November 27th, 2014
Hallusinasie – onthou is drogbeelde
Ek het gidse, aanwysers, nodig
om my te lei
van die hede na die verlede
die kronkelpad,
my onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding.
Die ongeskonde era van die heuningby is verby
die bedreigde skoenlapper fladder vlerkverdwaasd in reservate.
Die geskiedenis – boesmanrotstekeninge
teen reuse swartborde van vergeet.
Oranje-Vrystaat, waar jy kon kooi slegs met permit
Die Tuisland vir Kaffer om, buite sig, te pik en te spit.
Tussen Brandfort
en Die Eiland is die pad glad nie kort
by Verkeerdevlei wag nou ‘n nuwe tolhek
(they paved paradise and put up a parking lot.)
Dáár iewers staan die kerktoring penis-orent:
Excelsior se 19
die dominee en die duiwel,
die gróót taboe,
die donker nagmaal
se soet verleiding,
die paal ken geen perk,
die ontrou, oor die tou
trap wat uitloop op
die gróót skaamte,
die slapnekhang aan ‘n tou
die hoer en die hof
die vergryp aan die meid
my onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding.
Die breë hoofstraat
eens, effe Joods en Portugees,
en nou die vele leë gebou
eens gekaart en getransport aan Kerk
verhuur aan Sanlam en Staat se geheimlike pynpolisie
wat waak oor die dun grys grenslyn
tussen waarheid,
tussen lieg,
tussen bedrieg
tussen máák bieg:
die inkopiesak oor die kop
die ongelaaide pistool se snellertrekfop
die natgepiste vrees van die verganklike vlees
en die verbrande briewe wat die prisonier nooit mog lees.
Vensters sukkel ruitloos
om die meeluister te onthou
dit wat eens só ankervas, só seker was
Geloof, Gelofte en Hoop
verval
gesloopte fondamente,
skaam monumente.
Al die geykte Afrikaanse idiome kom lê soet, vol genoegdoening in die mond:
die wiel draai,
daar’s ‘n wind wat waai,
gogga maak vir baba bang,
die bordjies word verhang,
elke hond kry sy dag,
wie die laaste lag.
John Vorster Square – die onvaste greep,
die vervlakste val na die gly op die seep.
Die nuwe Opperman
met die merk van die dier
staan trots met die land se leisels
in sy geëlte hand
hy, die Ou Taai Coon,
Koebaai Kanjani,
outa,
Utata,
Ou toppie,
profeet in die buik van die walvis
olike Jorik, kwalik nugter,
wedergebore as Marco Polo,
Raka, Shaka, Koki
mens, Dier, Ding
o waar, o waar, is ‘n Baltzhasar of Koot
in die volk se uur van nood?
My onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding
Janusz, Pools, met geleende pistool
draai sy gesig na die spieël
sien die bebloede lem en die lintwurm.
Selfs Derrida dekonstrueer die dooie Thembisile,
die kommunis as postmodernis
daar sit betekenis
laag op laag op laag,
onder die sin se soom
die dood is juis ‘n palindroom.
Ons vir jou
laat nou
vir wie koud?
My onthou en jou vergeet
net, dáár lê die onding
Boelala, my basterboer.
(c) Clinton V. du Plessis / 2014
Tuesday, August 6th, 2013

Iemand het jare gelede teenoor my opgemerk dat “poetry will never lie down in the grave that has been prepared for it”. En telkens staan ek verstom oor hoe hardnekkig dié gemarginaliseerde kunsvorm op soveel uiteenlopende – en hoogs kreatiewe – maniere haar na vore dring ten einde haar voortbestaan te verseker. Neem nou byvoorbeeld die hele kwessie van mikropoësie, of te wel twitter-poësie ( “twihaikoe”) wat vinnig besig is om internasionaal een van die gewildste poëtiese uitdrukkingsvorme te word.
Daarom dat ‘n artikel deur Charlotte Cripps op The Independent se webtuiste, my oog gevang het. “Poetry in 140 characters? What would Sylvia Plath have made of tweet poems?”, begin Cripps haar relaas. “Twitter poetry (also known as “twihaiku” or “micropoetry”) is still in its early stages, but could it bring poetry back to the forefront of the modern world?” By wyse van ‘n antwoord haal sy Chloe Garner, artistieke direkteur van die Ledbury Poetry Festival aan: “I think Twitter poems will become a new form, the modern-day version of the haiku. Poets love writing to different forms, even just as a way of exercising the poetic muscles.”
Volgens Judith Palmer, hoofdirekteur van die Poetry Society in Brittanje, die volgende: “There’s a renewed interest in the form of British poetry at the moment and the constraints of the 140-character limit play to that, in the same way as the 14 lines of the sonnet or the 17 syllables of the haiku. Twitter poems tend to be playful and are often collaborative, but they’re also good for ‘Imagist’-style observation, or philosophical musing. They can reach a wide audience in moments but they’re also ephemeral, evaporating pretty as the Twitter-feeds roll relentlessly on.”
En verskeie digters doen met gróót entoesiasme mee. Soos Benjamin Zephaniah, byvoorbeeld: “I like to send out little treats of poetry every now and then to make people think a little bit. It’s a great way to connect daily with your audience. It is a better way of saying, ‘I’m in the shop.” En ook George Szirtes, wenner van die T.S. Eliot-poësieprys in 2004 en iemand oor wie ek onlangs nog geskryf het: “I write in Twitter because I am interested to see what a form as short and as evanescent as Twitter can do: in effect, it does anecdote and shorter forms of poetry quite well, which is why I have written some 20,000 as an experiment.”
Selfs Billy Collins, voormalige poet laureate in die VSA, spreek hom ten gunste van dié ontwikkeling uit: “Restrictions, like the rules of the sonnet, can be liberating in the right hands… So there’s nothing wrong with poets finding a new box to play in, even though Twitter has co-opted a once perfectly useful word to describe birdsong.”
Nou ja, toe. Maar gaan lees gerus die volledige artikel by The Independent. Daar is ook heelwat voorbeeldgedigte wat aangehaal word.
Ten slotte, hier by ons aan die anderkant van die halfrond, is dié versvorm uiteraard nog maar net ‘n piepkleine tintinkie in die nes … Met die uitsondering van Clinton du Plessis, natuurlik, wat reeds verlede jaar ‘n bundel, Flitse, met twitter-verse die lig laat sien het. In die onderhoud wat Robert Pearce met hom gevoer het, het hy dié gedigte soos volg beskryf: ““Die gedigte is kort, in die trant van twitter-boodskappe. Die nuwe sosiale netwerkgenerasie se briewe in bottels wat miljoene per dag die kuber-oseaan ingestuur word.” (Lees ook Bernard Odendaal, wat eweneens sy hand al aan heel indrukwekkende sms-gedigte gewaag het, se resensie oor Flitse.)
Vir jou leesplesier volg twee mikroverse uit genoemde bundel.
***
Oes
Ek gerf vir jou verse om in jou hand te pas
ek pak warm woorde in jou reistas
sodat jy my kan onthou
as jy alleen aan die strooihalms van ons liefde klou.
***
Duskant
Die splinters van hierdie droewe land
se kruis, sit nog vas in die palm van my hand,
iewers anderkant kleur
moet ons weer die gedeelde taal van menswees leer.
© Clinton V. du Plessis (Uit: Flitse, 2012: Ama-Coloured Slowguns)
Sunday, November 11th, 2012
Dorp
Die Portugees met die bakkery
en die Griek met die vis & chips was híér op die hoek,
híér waar die nou vreemde tongval
sit en skaak speel tussen die
Cd’s en die waslappe,
die selfoon-rechargers, die superglue,
plastiekwasskottels, naelknippers, wasgoedpennetjies,
die adibas-tekkies, ingevoerde grappe,
en die gordels
om stywer te trek om die krimpende maag,
die gadgets vir Afrika
all made in China,
híér het die bank besigheid gedoen,
Volkskas, arbeid adel,
ABSA het bo-op die treinspoorbrug, by die ingang van die dorp
windgat die toekoms ingestaar met
‘n boer, sy seuntjie aan die hand
en ‘n goue koring-oes op die ge-photoshopte land,
“As dit eendag alles syne is, sal ons steeds hier wees,”
maar dáár waar die tellers was,
dáár speel ons nou lotto,
vat ons almal een uit ‘n miljoen of meer kanse,
in Mister Foo se China Shop,
Mama Norah en Prof. Make Beliefe van Ghana,
beloof tradisioneel rykdom, gesondheid en ‘n groter orgaan,
híér waar Blessing en God Help Us en Beautyful haarsalonne langs mekaar probeer bestaan,
híér het Afrika kom wortel,
híér knoop die Pakistani’s rats weer onwillige
selfoonseine aanmekaar,
en oral is daar cash loans,
rente word die opium van die sakpatriot,
graad twaalf bring jou geen werk
of parkeer jou in ‘n hoek as ‘n toonbankklerk,
almal leef
op toekomstige inkomste
verdiskonteer môre se loon
vir vandag se oorleef,
tussen botter en ‘n brood
is daar net so min wat rande nog kan koop
alles hier word nuut en anders,
net Avbob gaan nog ongestoord
onder die bloekombome voort,
want die dood, dié is nog altyd met ons.
Route 69
Sy reis aand na aand deur
geheime donker poorte met mans,
sakemanne en dié wat geslepe kans
vat, met note kan kies, kus en keur,
sy maak vir verlore siele deure oop
laat haar ure met ‘n gekibbel verkoop,
ontsnap met lywe vir ‘n wyle
word vir die oomblik ‘n geile, geile,
fantasie: sy die heilige begeester van peester,
as skooldogter, sekretaresse of verpleegster
sy luister, dié skunnige vleesterapeut,
na elke hunker, elke onmenslike skeet:
sy is almal se halfweghalte, almal se stasie,
die beste hoer reis lig, sonder bagasie.
Friday, August 19th, 2011
Aan die gatkant van die maan*
Etienne praat in die Victoria Manor oor vergeet & onthou & hy laat my dink:
om te onthou is om selektief & nostalgies te vergeet,
ek onthou;
die Bruce Lee movies, no chinese & dogs allowed,
aan die rand van die dorp – die draak wat wag met skrefies-oë
om sy tentakels verder uit te strek,
om besit te neem, soos wyle Dirk Opperman:
edms bpk; “dis my gebied” “alles…alles my eiendom,”
iswe lethu, die grond is myne, het Sobukwe se kaders vergeefs gechant,
maar die dice van die bank was klaar geskommel & loaded,
ek onthou,
skrywers in Cradock oor ‘n naweek,
ek die minor poet met geen major literary ambitions,
soos die dromskrapers in vodde flenters krap ons in die vullisdromme rond na oorskiet
vir ‘n storie, gedig of meer,
Olive was hot vertel die skrywer, jagsmaakmateriaal…
& skynbaar gewillig
Gannahoek se eie Paris Hilton, minus die sextape,
altyd op medikasie,
ek wonder of sy ooit ‘n joint sou rook, op die seilkoppie, of teen oukop?
ek onthou,
Goniwe in sy Honda,
Calata in die pop band in Lynleystraat,
te oud om te droom, te jonk om op te gee,
lokasie & dorp,
rook van oop vure, Goodyear tyres & tuine met swart outas & pissende beeldjies
& hoofman oom opperste PW in sy hoed & die vryheid van die dorp geketting om sy nek,
ek onthou,
in wat eens heilig katoliek & kerk was
lees & luister ons, dissipels van die woord, kyk ons na 101 kerke,
‘n vervalle Bantu Dutch Reformed Church word ‘n skrif aan die muur,
maar die res van die dorp
bly afstandelik eenkant,
afvallig sit mense op stoepe in die son,
iewers braai iemand op maat van Michael learns to rock,
kyk families op plasma-skerms super-something rugby,
iewers verkrag iemand ‘n vrou of ‘n kind of ‘n hond,
die taverns is oop tot vroeg in die oggend,
& ons skryf gedigte & romans & probeer tot ons sinne kom,
rondom lang glase rooiwyn & sop & brood verwek ons karakters,
onthou ons & vergeet ons,
maar niemand van ons hier glo meer in wonderwerke nie,
wie kan uit hierdie vyf brode & die Visrivier
die menigtes voed?
om te vergeet is om selektief & nostalgies te onthou.
*na Heather Parker Lewis se “Olive Schreiner – the other side of the moon.”
10/07/2011, geskryf na die Karoo Writer’s festival in Cradock
© Clinton du Plessis. 2011
|
|