Posts Tagged ‘Nini Bennett resensie’

Resensie: “Mag die diep slaap jou dan” (Hilda Smits).

Tuesday, November 16th, 2021

 

 

Mag die diep slaap jou dan deur Hilda Smits. Protea Boekhuis, 2021

 Resensie: Nini Bennett

 

Die intimiteit van vervreemding

 

Die literêre gemeenskap het met verwagting uitgesien na Hilda Smits se tweede digbundel. Smits, ’n sielkundige, was die 2017-wenner van die Ingrid Jonker-prys vir die bome reusagtig soos ons was. Die digter stel nie teleur nie.

Dit is ’n uitdaging om Smits se jongste bundel, mag die diep slaap jou dan, te resenseer. Die digter breek amper met elke denkbare literêre konvensie. Dis ’n bundel van evokatiewe krag wat die grense en skynbare beperkinge van die taal toets om nuwe estetiese belewenisse van poësie in die hand te werk. Smits se enigmatiese gedigte word gekenmerk deur onvoltooide en gebroke sintaksis – soms selfs ’n doelbewuste versnipperde effek waarin byvoorbeeld werkwoorde, selfstandige naamwoorde of bywoorde weggelaat word. Dis verse wat allereers gekenmerk word deur beeldrykheid en die gebruik van vrye assosiasie. Die betekenis van die poësie onder bespreking bly in ’n toestand van flux; dit transendeer. As medeskepper van betekenis word die leser uitgedaag om die hiate in die poësie in te vul. Derrida se arbitrêrheid van uitgestelde betekenis, of différance, kom ter sprake. Hierdie leser se interpretasie van Smits se verse is subjektief en postuleer bloot een mening. Die titel kan bes moontlik só gelees word: mag die diep slaap jou dan: “mag”, as modale hulpwerkwoord, dui op ’n waarskynlikheid, ’n moontlikheid, dis nié ’n vaste of definitiewe gegewe nie, dit dui op nie-werklikhede of nie-feitelikhede. “dan”, die laaste woord in die titel, impliseer ’n wending. Die werkwoord “oorval” of “inhaal” ontbreek; “oorval” kan dui op ’n toestand van oorrompeling en berei die leser daarop voor dat die leesaksie, binne die droomstaat, in velerlei opsigte “oorrompelend” mag wees en eise aan die leser mog stel. Die titel aktiveer dus moontlikhede van slaap, drome, die domein van die onderbewuste waar handelinge en gewaarwordinge vloeibaar word. Dis die newelwêreld waarin die  gestaltes, gebore uit die brein se tetagolwe, hul opwagting maak. Paul Celan se uitspraak, “the poem today shows a strong tendency towards silence” (1960) raak met die lees van die bundel weer relevant. Die verse is surrealisties en die leser dink waarskynlik aan Uys Krige se seminale voorwoord in Éluard en die surrealisme (1962), wat steeds staan as testament vir surrealistiese poësie in Afrikaans.

“Een van die sleutels tot die skatkis van die onderbewussyn, het Freud bewys, is die droom. Byna die helfte van ’n mens se lewe word aan slaap gewy. Soos Nadeau dit uitdruk, die skat wat ’n mens snags in jou slaap vergaar, verkwis jy in kleingeld bedags […]. Die droom, dus, is bron van poësie: die slapende droom, die droom uit daardie geheime grensgebied tussen werklike slaap en uiteindelike wakkerword, asook die wakende droom gevoed deur die onderbewussyn. Die droom moet by die digter die penser dirigé, die gerigte of beheerde gedagte, vervang; die poësie ‘moet praat van siel tot siel […]’. Die digter is nie langer slegs ‘sonore eggo’ of profeet of siener nie; hy word nou bo alles magicien of towenaar […]”.

“Diep slaap” figureer as assosiatiewe spel in die droomwêrelde van Hipnos en die dood, Tanatos. Die invloede in Smits se werk is onder meer Breyten Breytenbach, Gert Vlok Nel, Gilbert Gibson, e.e. cummings, Ingrid Jonker en die Russiese rolprentmaker, Andrei Tarkofski, maar Smits is geensins ’n epigoon van enigeen nie.

Baudelaire se beskouing dat poësie ’n universele analogie is waarin geen beperkinge op die woorde of beelde wat die digter byeen bring, bestaan nie, en waarin die oorrompelende aard van die dromer/digter se leefwêreld ondersoek en gesublimeer word, vind relevansie hier. Laasgenoemde stem ooreen met Freud se beskouing dat die vrye assosiasie van taal die meganisme word waarin die wêreld van die onderbewuste bestudeer kan word; die drome, die konflik, die parapraksis, ensomeer. Hierdie spontane neerskryf van gedagtes sonder selfsensuur het ’n groot invloed op psigoanalise. En vrye assosiasie by die spreker-digter wek uiteraard ook vrye assosiasies by die leser, byvoorbeeld Poe se bekende uiting “…all that we see or seem / is but a dream within a dream”. Die tradisionele spelreëls van poësie geld nie vir Smits se jong oeuvre nie. In haar geval herskik die digter die konvensies van poësie.

Van die opsigtelike stilering is kosmeties; doelbewus en selfbewus. Die onkonvensionele grootte van die bundel val op – dit is ook ’n bundel wat sal uitstaan op ’n boekrak, letterlik en figuurlik. Die ongetitelde kunswerk op die omslagontwerp toon ’n collage van die kunstenaar, Benjamin Silberstein, wat klaarblyklik Hilda Smits se eggenoot is.

Die distorsie van taal of gemelde gebroke sintaksis kom gereeld voor. Vir die oningeligte leser mag van die verse selfs as gibberish vertoon, maar die onus berus op die leser om die verse te voltooi. Let as voorbeeld op die volgende.

Die invoeg van parentese in ’n gedig:

 

“as die morfien jou

dit sneeu iewers in ’n ander land

inhaal” (36)

 

Reël 2 is ingevoeg – ’n ander lesing is met ander woorde “as die morfien jou / inhaal”, wat die titel, “mag die diep slaap jou dan (inhaal)”, eggo. Smits se gebruik van parentese word ook gekenmerk deur hakies, ’n breuk met kousaliteit of ’n afwesigheid van kommas of aandagstrepe: met ander woorde die nomale interpunksie ontbreek. Die funksie van hierdie tegniek is onder meer om die willekeurigheid van die onderbewuste te beklemtoon.

Die spel met fonts: “as jy ’n ligtoring was / op ’n mooi blou dag / as jy ’n ligtoring was / en langs jou ’n klein blou vlaggie” (50) dui op die visuele verandering wat afstand teweeg bring. Die kleiner font-grootte (wat hier deur kursivering aangedui word) trek die leser se aandag na die spreker-digter se bemoeienis met ortografie.

Die weglaat van woorde in hulle onderskeie woordsoortposisies noop die leser om die ontbrekende woorde in te vul.

 

viool gespeel in die aand soos wafferse

sodat die verkeer soos muise stil geword tot stillstand ge-

om vir ons & die huis ’n kokon van lig agter &

ons dirigent die bonkige asdrom van baie hande […] (6)

 

“Die bonkige asdrom van baie hande” herinner op assosiatiewe vlak aan dié van dromgrawers waarin die handeling om te dirigeer ontluister word – dit wat verhewe is, word nou banaal gemaak. Verder eksploiteer die digter die taal in “tot stillstand ge-om”, waarin die ontbrekende ‘k’ in “gekom” die verkeer se abrupte tot-stilstand-kom treffend verbeeld. Om dit in gewone omgangstaal te stel: daar is ’n “method in the madness” in Smits se werk, alhoewel die lees en ontrafeling van die verse waarskynlik meer op ’n intuïtiewe as ’n kognitiewe vlak geskied. Op tekstuele vlak lees die taalfoute, of pogings om laasgenoemde te korrigeer, soos parapraksis of verdoeselde Freudiaanse glipse. Die verse se betekenis kan ambivalent óf oop wees; as voorbeeld dié ongetitelde gedig op p. 20:

 

as jy vlieg klein (geheim) in die kajuit die lug blou sal jou elke haar asem–

opgehou verder as die oog se bal verder as die aarde & als Potchefstroom daarop

oor die kontinent haar konsonante kryger regop ! in die lang lang gras

sal jou Stuyvesant in die hempsak sal jou (     )

 

Die bundel se rubrisering is onkonvensioneel.  In die “inhoud” agter in die bundel word die inhoudsopgawe aaneenlopend, soos ’n stuk bewussynstroom, aangegee; tog, met die lees van die onderskeie dele vind die leser telkens ’n oop bladspieël wat mag dien as onderbrekings in hierdie stuk bewussynstroom. Die ongewone idioom waarin die verse beweeg vorm egter nie ’n patroonmatigheid in die leesaksie nie. Die leser word uitgedaag tot selfrefeksie en Barthes se scriptible (writerly) is hier van toepassing. Die leser bevind hom in die oneindigheid van meervoudige betekenis; van betekenis wat by wyse van die superponering van woord en visuele effek sy opwagting maak in die bundel. mag die diep slaap jou dan is met ander woorde ’n literêre aanbod en beslis nie ’n lisible teks, waarin verbruikersvriendelike, voorafbepaalde konvensies en gepaardgaande betekenis noodwendig aangebied word nie.

Die losse rubrisering geskied in ses dele – bygesê, dis vir die leser om te besluit of ‘n bladspieël op ’n verposing of blaaskans (Luftpause in musikale terme) dui.

Temas soos liggaamlikheid en die intieme verwysings in die tweede persoon, die “jy” as minnaar en/of ander sibbe, herhaal. Binne die konteks van vrye assosiasie lees ek die herhalende leitmotiewe as déjà-vus wat spontaan en willekeurig deur die teks bly vleg. Die inleidende motto (5) vorm deel van dié déjà-vu wanneer die digter se jeugherinneringe aan bome via haar debuutbundel deursypel:

 

’n eerste gedagte jy was toe al bloekombome

& al die lug daar om soos ’n valskerm

 

Die eerste reeks gedigte het ’n nokturniese strekking. Donkerte, nagrokke en motte vorm kodes wat herhaal. “die huise staan in die nag” (12) lei ’n kleindorpse sfeer binne, waarskynlik Potchefstroom, waar die digter grootgeword het. Op p. 20 word daar dan ook inderdaad verwys na die dorp, Potchefstroom. Smits skryf hoogs persoonlike poësie wat kan staan as universele betekeniskorrelate vir die leser. Die spreker se belewenis van skool, ’n moeder, vader en tante kom volgende aan die beurt. Die gevoel van angs, vervreemding en anomie kenmerk hierdie gedigte. Temas oor die spreker se familie, soos dit voorkom in die debuutbundel, herhaal – selfs detailverwysings na die rooi Anglia; dit kan binne die konteks van vrye assosiasie uitgebrei word na meer digterlike déjà-vus.

In die tweede reeks word temas soos die liefde, asook die siekte van ’n vader, belig. Smits se openingsvers “ek het jou lief en jou hande klein” (25) herinner aan die kunsgrepe van die reeds gemelde rolprentvervaardiger, Andrei Tarkofski, een van Smits se muses. Daar word klem gelê op sensitiewe atmosfeerskepping en die indrink van die statiese beeld. “mag jy van 9 lewens” (27) se slotreël eggo die gelyknamige bundeltitel; die sterwende se fases van afskeid word beskryf as dié van woede, weerloosheid en pyn. Die digter se vername duimafdruk is waarskynlik die gebruik van ongewone en mooi trope, wat op ’n diep synsvlak sin maak.

 

as die morfien jou

dit sneeu iewers in ’n ander land

inhaal

toe ek begin draf

die groot hart stil in afwagting soos ’n rooi granaat

vlak water & lig die oneindige longe

stuur jy ’n swerm swaels soos ’n sagte oorlog deur die lug

bo my

toe die morfien jou soos sneeu inhaal

soos swart letters wat nog samehangend

vir ’n oomblik

in die groot wit lug               (36)

 

Hierdie hipnotiese gang word voortgesit as ’n kort intermezzo wat opgevolg word deur ’n reeks beeldgedigte. Kuns vorm ’n vername motief in Smits se poësie. Die aanspraak is op die visuele en hierdie ekfrasis tree in gesprek met verskeie kunstenaars se werk.

In die vers, “Pienk engele, De Kooning” (46 – 7) val die fokus op kleur en die taktiele belewenis van die skildery. Die meer aggressiewe gebruik van die kleur pienk, wat ’n seksuele vroulike ondertoon sinjaleer, kom voor. ’n Kenmerk van die skildery is die biomorfiese figurasie van die skilder se werk   wat neerslag vind in Smits vers. In “Rooskleurige dagbreek by Louse Point, De Kooning” (48) word gesinspeel op die digter, deur aktivering in die titel van Homeros se gunsteling aanhaling in Die Odussea, naamlik “emos d’erigeneia phane rhododaktulos eos”, oftewel “but when early-born rosy-fingered Dawn appeared…” Hierdie pienk tint word by wyse van liggaamlikheid soos “ribbebene, die lang dun arms van krieke, oë, die swak maar vasberade arms van ’n kewer, bene, handpalms”, ensomeer vergestalt.

In ’n ander beeldgedig, “Tuin op die vlak, Paul Klee” (49), ’n waterverfskildery, word die digter Arseny Tarkofski, die reeds genoemde rolprentmaker se vader, betrek by wyse van interteks: “daar was die allerhande kleure van struike soos kerse ná ’n feesmaal afgebrand” (49). “My sight, which was my power” resoneer met dié vers:

 

“I am a candle. I burned at the feast.

Gather my wax when morning

arrives

so that this page will remind you

how to be proud and how to weep

[…]

 

In “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee” (50), ook bekend as “Fish magic”, word die magiese droombelewenis ontsluit.

“Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz” (52), ’n evokatiewe swart en wit foto geneem deur Stieglitz van sy destydse model en toekomstige vrou, O’Keeffe se hande (1919), vorm een van meer as 300 foto’s wat hierdie kunstenaar van haar geneem het. Smits se sensitiewe beelding van die hande tref en roep velerlei verse van Ingrid Jonker voor die oog. Hande as subjek kom volop voor in Rook en oker en Kantelson.

Smits se bemoeienis met liggaamlikheid – patos met die mens se lyflike weerloosheid – val vervolgens op in “Marthe in die bad, Bonnard” (54 – 5). Die subteks rondom Bonnard se vrou, Marthe, is geil – daar is bewerings van bedrog, verraad en geestessiekte aan haar kant, maar Smits verkies om haar beeldgedig “lig” en “roserig” te hou, ’n kleur wat ook aandag in die skilderye/beeldgedigte onder bespreking geniet.

Die digter het deernis met eensame, wanaangepaste kunstenaars, soos haar keuse van André Kertész en Van Gogh aantoon. Die vers, “Washington Square, winter, Andre Kertész” (53) verwys na die kunstenaar se 1954-foto. Hy het na ’n nuwe woonstel in New York Washington Square Park getrek, vanwaar hy van die twaalfde verdieping met ’n telefotolens die plein afgeneem het. Kertész het al meer geïsoleerd geraak soos hy ouer geword het en die fisieke afstand tussen kunstenaar en fotosubjekte dui op ’n emosionele onttrekking van die wêreld. Hierdie eensaamheid en vervreemding word gesimuleer in die vers. Smits werk ook met die tekstuur van woorde en beelde: let op die ruimtelikheid van die veerligte sneeulandskap.

 

val die sneeu geluidloos soos ’n silwer vurk    /

soos die wonder van ’n valk bo die wit vlaktes van ’n bord gehang

jy is ’n lang oogknip

’n ballonnende hart in die korrel van ’n jas

’n babalokomotief     /     van asem

met voete van seegras sal jy al langs die rivier jou ysige metgesel

want die dag soos ’n klein dood behoort net aan jou

wat die breë stilte soos ’n sneesdoekie in die hand van ’n mier oop / vou      (53)

 

Die gepaardgaande eensaamheid van kunstenaarskap word voorts belig in “Reën, Van Gogh” (58) en “Koringlande met sipresse, Van Gogh” (59). Dis insiggewend om daarop te let dat die omgewing nou ’n waarnemer word van van Gogh: “jy is weer alleen / die ver huise weet dit / die bome ook” (58). Die skilder het die skildery gemaak tydens sy vrywillige verblyf in Saint-Rémy-de-Provence, ’n inrigting vir geestesversteurdes. Die vers suggereer ’n gevoel van versadiging. Die skilder ontgin die Bybelse metafore rondom graan, al het Van Gogh tydens dié periode fasette van sy Christelike geloof verruil vir ’n meer spirituele siening.

Die belewenis van Smits se poësie is die intimiteit van vervreemding.

Die vyfde reeks gedigte bevat verse aan die spreker se vader, aan Brixton B (heel moontlik die ontslape musikant Brixton Barnard), die spreker-digter se eggenoot, asook verwysings na plekke soos “Highgate Cemetery” (67). Die laaste reeks bevat drie kameegedigte.

As die diep slaap jou dan is ’n bundel waarin poëtiese taal in hoogspanning verkeer; dis inderdaad ’n boeiende teks soos die voorganger, die bome reusagtig soos ons was. Die mees geslaagde gedigte is waarskynlik dié waarin die mooi beeldspraak behoue bly by wyse van ‘n meer tradisionele sintaksis – soms grens die linguistiese spel in die bundel aan oordaad, wat die aandag van die trope weglei. In haar tweede bundel gebruik Smits meer progressiewe tegnieke om Verfremdung in die hand te werk. Die digter skryf téén die weerstand van poëtiese konvensies in, ’n bundel wat in verskeie opsigte verruk en grense skuif.

Hierdie wegdoen met konvensies loods egter ook ’n totale aanslag op die leser. Laasgenoemde sal moet besluit of die bundel vernuwing bring en of die ooraanbod willekeur en doelbewuste ondermyning van tradisie die leser se stamina sodanig beproef dat dit ’n leesversperring skep. Hoe dit ook al beskou word, die digter verdien lof vir die dapper digterlike aanbod. Hierdie bundel onderskryf die gedagte dat poësie ’n intieme en vertroulike ervaring tussen die digter en die leser is.

 

Resensie: Hierdie Maandag is abstrak (Anita van der Walt)

Thursday, July 22nd, 2021

 

 

 

 

Resensie: Hierdie Maandag is abstrak deur Anita van der Walt. Turksvy Publikasies, 2021.

 Resensie: Nini Bennett

 

Turksvy Publikasies se jongste bundel is die debuut van die Kaapse dokter, Anita van der Walt. Met die eerste pandemiebundel, Maskers en Mure het die samestellers, Daniel Hugo en Francois de Jongh ’n belangrike leemte aangespreek deur ‘n tydsdokument te skep waarin 142 digters ’n stem gegee het aan Covid-19. Volgens dié jong uitgewery is daar ’n hele paar opwindende boeke, waaronder digbundels, in die pyplyn.

Van der Walt noem in ’n persverklaring dat Versindaba en die jaarlikse poësiefees, die Tuin van Digters, digkuns vir haar ontsluit het. Hierdie Maandag is abstrak is die resultaat van jare se werk aan ’n bundel.

Die verse neem die leser op ’n reis deur die digter se geliefde natuurplekke in Suid-Afrika, asook Italië, Nederland en die binnereise van afskeid, liefde en dood.

Die bundel is losweg in 12 dele gerubriseer. In die programgedig, “Afrika” (pp. 13-14) posisioneer die spreker haar as kind van Afrika. Die vers gee in kwashale ’n oorsig oor Suid-Afrika met verwysing na fossielvondse (“kraterwieg”, oftewel die Wieg van die Mensdom), die historiese Distrik Ses en gepaardgaande gewelddadige verwydering van mense, asook die Voëlvry-beweging en Mandela se vrylating. Die Sterkfontein-grotte in strofe een skakel met die ontwikkeling van “Sterkstroom se geboortekanaal” in die tweedelaaste strofe. Hierdie vers, as historiese opgaaf, sluit aan by die tweedelaaste slotvers, “Nag, Ma” (p. 114), waarin die gedigsiklus in vroulike metafore voltrek word.

Besinnings oor fauna en flora kom voor: die reisiger-digter staan stil by plekke van persoonlike betekenis. Die verse herinner aan Bildungsreise, oftewel reise wat die self opvoed of verryk.

Die geslaagde kwatryn, “Ooitjie” (p. 21) bevestig die digter se behendigheid met die vaste versvorm, soos die latere tankas en haikoes in die bundel ook toon. Die sterkste gedigte in die bundel is die spreker se meer eksakte waarnemings, soos “Rakelings” (p. 22), of die daaropvolgende “Wolwehuis” (p. 23) wat ’n visuele voorstelling gee van die gekronkelde grondpad se klein ekosisteem. Hierdie verse, wat steun op waarneming, is vry van die hinderlike digterlike clichés wat volop in die meer nostalgiese verse voorkom.

“Vaalwater” (p. 25), met die Bybels-geïmpliseerde melk en heuning, verras wanneer die enigste stortingsterrein vir kernafval, Vaalputs se aardkors “melkwit borrel”. Die geomorfes is aktief, alhoewel dit bekend is dat hier geen aardskuddings voorkom nie. Die refrein, “hierdie kolostrum proe heuningsoet” besing enersyds die vrugbaarheid van hierdie terrein, andersyds dien dit as waarskuwing dat die aardoppervlak híér dalk juis onstabiel is. Enkele verse dra kenmerke van pastorale poësie, byvoorbeeld “Joy of my soul” (p. 24), ’n Karoolandskapvers wat met sy versugting van versadiging en dromerige kwaliteit resoneer met Bach se gelyknamige koraalwerk. Die opeenvolgende “Huisdans” (p. 26) en “Reënverse uit die Klein-Karoo” (p. 27) ontroer in hul aardsheid; die landskap word hiperkonkreet en tasbaar verbeeld en skep ’n sinvolle oorgang tussen fisiese en psigiese ruimtes.

Die tweede gedeelte, “Italië”, herinner aan die inleiding van Breytenbach se bundel, nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde: “Die ware landskap is een van rus.” Die verse is afgestem op die visuele, byvoorbeeld in “Stiltetyd” (p. 32) versmelt die belewenis van reis met die “vasvang van ’n skildery”. Hierdie deel, met sy magiese, mitologiese en historiese verwysings, sorg vir ’n welkome respyt tussen die Afrika-plekgedigte. “Kyk is verniet” (p. 35) se meerduidige visuele aanbod knoop ’n spel aan met die leser: daar is ’n dubbellensfokalisator – die swaan én spreker – teenwoordig in die gedig, wat die leser uitdaag om (steeds) te kyk.

In die volgende gedeelte, “Hartstog” skryf die digter verse waarin poëtiese taal die bestekopname van herinnering vorm. So byvoorbeeld is “Suikerbekkiesoet” (p. 40) ’n uitasem, crescendo-agtige vers wat met die vaart van enjamberende versreëls die simultaniëteit van sinestesie in die hand werk:

 

[…]

’n vetplant bloedrooi bloos

in aalwyn se oggendblos

pelargonium ruik saans

na kaneel, vanielje-orgidee

die Perlemoenskoenlapper flans

’n stille melodie saam

[…]

sowaar, dié palet pas

 

“Vir altyd” (p. 42) besing die idille van ’n plaasopstal. Hierdie binneruimte aktiveer ook ’n dagdroom van saligheid en herinner aan Gaston Bachelard se sienings van ’n huis in sy ikoniese The Poetics of Space: “I should say: the house shelters day-dreaming, the house protects the dreamer, the house allows one to dream in peace. […] Daydream transports the dreamer outside the immediate world that bears the mark of infinity.”

Die laaste strofe:

 

[…]

Mag die klapperhaarmatras se holte pas.

Die volmaan helder waghou

en jou huis stewig op stelte staan

die raku van gekraakte pleister sag lispel

dat geluk deurgaans skemertyd haal.

 

Die vierde gedeelte, “’n Mondvol” handel oor die sensoriese sensasies van kos, en ’n twaalftal tankas kom voor. In “Bek-af” (p. 45) word vrugbare grond as lewende organisme met kosmologiese assosiasies voorgestel. Met “Tankas uit die Tankwa” (pp. 47-49) wys die digter haar slag met ’n dosyn gedigte in dié eeu-oue Japannese digvorm. “Tanka” beteken “kort lied” en is tradisioneel geskryf as ’n ononderbroke reël bestaande uit 31 lettergrepe, of ’n vers van 5 reëls wat rofweg verdeel is in 5-7-5-7-7 lettergrepe. Die natuur, seisoene, liefde en emosies is onderwerpe waaroor gedig word. Ek haal aan, die laaste tanka in die reeks:

 

Koekblik vol briewe

en ongemerkte grafte

liefde spook alom.

Die nag koud en sterverlig

laat die donkies huis toe kom.

 

Die verse in “’n Snak na asem” handel onder meer oor die ongeskonde ervarings vanuit die oogpunt van ’n kind of jongmens, byvoorbeeld “Kabouterland” (53), “Vanwaar, meisiekind?” (p. 54), “Matriekdans” (p. 58) en “Heimwee” (p. 67), met sy versweë jeugdige erotiek. Die titelgedig, “Hierdie Maandag is abstrak” (p. 56) voer ’n woordspel met die plekname wat die lewe se (dikwels) noodlottige wel en weë reflekteer, die slotstrofe: “Môre teken ek my naam. / Wág op die nuwe Maandag.” Die dae van die week word voorgestel as sikliese tydeenhede waarin abstraksie die lewe se onsekerheid en onbekendheid sinjaleer.

Deel ses, “Op soek na waarheid” temper die voorafgaande liriese gang en die spreker se stem is sober in verse wat herinner aan rasionele of akademiese betoë. ”Onoorwonne” (p. 70) beskryf Mount Everest se geomorfes en gletsers as ’n vorm van argitektuur en Bachelard se siening van “geleefde ruimtes” kom ter sprake. ’n Mens beleef ruimtes nie as blote Euklidiese ruimtes nie: dis is belewenisse en emosies wat aan ruimtes hul karakter of identiteit gee.

 

[…]

die berg gluur valleie ongenaakbaar deur gletsers aan

spirale waterkristalle omvorm goties

ragfyn die art nouveau na bo

[…]

hiérdie klim vereis die fokus van ’n valk

 

Die daaropvolgende “Onse Vader wat in die hemel is” berig oor Bybelgebeure, Boesmans en straatverkopers en -bewoners. Dit is egter nie religie wat die pas aangee nie; dit is humanitêre denke en menslikheid, soos die treffende “Straatkollekte” (p. 80) getuig:

 

met die hande bak

loer oë oor die Prado

se vensterrand omhoog

en vra ’n brood se geld

“my mense koop vaalwyn met rooi doppies”

en verdwyn skugter

straat-af

muntstuk in die hand.

 

“Mikrobioom” (p. 83) bevestig dat die lewe in Afrika, ongeag die uiteenlopende herkoms, ’n holistiese bron van lewe vorm: “Biodiversiteit benadruk dat die héle wereld familie is.”

In “Geen kommentaar” fokus die verse op die verwonding van die mens en sy landskap; “Rondomtalie” (p. 91) tref in sy oorspronklike aanbod – die vers is in tweet-vorm geskryf. Ten spyte van die waarskuwing teen aardverwarming, raak die leser bewus van die vervlietendheid en onmag van die sosiale media:

 

tweet

die roesemoes

van denke wat rock-en-roll

rondom die rodeo van aardverwarming

en die storm van oseane nie verstaan nie

se resumé is robuust

tweet

 

“Terloops” lees soos ’n digterlike inlas met verse wat handel oor die liefde, blomme, ’n Tibetaanse gebedemat en opera – alvorens die reisiger-digter traag begin afskeid neem van die leser.

“Ter elfder ure” verbeeld liminale ervarings en Van der Walt toon haar slag met 21 haikoes. In die daaropvolgende “Vir oulaas” is daar ’n terugkeer na onskuld: “Hond se gedagte” (p. 108) beskryf ’n hond se balspel, terwyl “Boeta” (p. 109) ’n jeugherinnering voor die gees roep. In die heel laaste deel, “Vir Ma” word daar deur verdere regressie in tyd teruggekeer na die moeder as oorsprong en bron van lewe. “Siembamba” (p.115) parodieer dié bekende Afrika-lied as ’n vertroostende wiegeliedjie waarmee die moeder ter ruste gelê word. Die voorafgaande “Nag, Ma” (p. 114), met sy teerheid en verrukking, vorm ’n hoogtepunt in die bundel.

 

noudat die laaste myl

in donker skadu geskied

en die wonder van die dood

met jou hand sag in myne

wag

helderblou deins jou oë terug

na die verlede van versies

opsê en lag

herinneringe in fragmente

vanuit ’n fotoraam

met die landskap

naatloos

in twee geskeur

hoorbaar

die stilte

van die onbesproke

vind skuiling in die holkrans

van die lewe en sluit jou dag

sonder vrees, gebonde

aan die uur wat jou weerloos

weglê

 

Hierdie Maandag is abstrak is ’n bevredigende debuut. Die digter ontgin die belewenis van geleefde plekke, ruimtes wat verken word deur die gebruik van taal en die leser uitnooi om dié digterlike ontdekkingsreis mee te maak.

 

Resensie: Klinkklaar (Daniel Hugo)

Monday, June 7th, 2021

 

Klinkklaar deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, 2021.

Resensie: Nini Bennett.

Daniel Hugo is ’n bekende en gerespekteerde digter en literêre vertaler. Hy is onlangs aangewys as wenner van Versindaba se Mont du Toit-kwatrynkompetisie. Klinkklaar, die sewentiende bundel op die digter se kerfstok, het 11 Mei by Protea Boekhuis verskyn.

Hugo se eerste gedigte is in 1981 gebundel in die bloemlesing, Brekfis met vier met mededigters André le Roux du Toit (later, Koos Kombuis), Etienne van Heerden en Peter Snyders. Die digter se artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns het verskyn as Vers en kapittel. Hugo het bykans 60 romans, jeugverhale en digbundels in Afrikaans vanuit Nederlands en Engels vertaal, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom twee maal bekroon sy vertaalwerk.

Die digter is ook bekend vir sy bloemlesings van ander digters se werk, byvoorbeeld die bundel pandemiegedigte, Maskers en Mure, wat Hugo en die digter Francois de Jongh saamgestel het en wat binnekort by Turksvy Publikasies verskyn.

Hugo se betrokkenheid by die Afrikaanse, asook die Nederlandse en Vlaamse letterkunde strek diep en wyd: hy is/was o.m. ’n RSG-aanbieder, akademikus, resensent en ankeraanbieder van die AVBOB-poësieprogram, Ek wou nog sê…

Hugo se jongste bundel dui op ’n voortsetting van vernufpoësie, wat so eie aan sy oeuvre is. Dit is ’n intellektuele spel met die versvorm, stylfigure en met die tipografiese, spellings-, fonologiese, morfologiese, sintaktiese en semantiese moontlikhede van die taal.

Hugo het per geleentheid gesê dat sy poësie ’n produk is van sy brein en dat emosie ondergeskik is aan die digprosesse. Met sy verse allereers as taalkonstrukte, kan mens tereg vra of die digter nie die risiko loop om fasiele poësie te skryf nie. Nee, inderdaad nié. In Klinkklaar wissel die luim tussen geestigheid en erns; elegiese verse kom byvoorbeeld voor in deel “IV Lamento”, en daar verskyn aangypende verse elders in die bundel. Of Daniel Hugo nou woordsmid, poëet of kulkunstenaar van die taal is, hy daag die leser uit om as kreatiewe medeskepper van betekenis die digproses te voltooi. In die persverklaring word Klinkklaar o.m. getipeer as “geslepe” poësie; met die herlees van die verse ontdek die leser telkens nuwe betekenisassosiasies: die digter speel, terg, toets die leser.

Etimologies dui die betekenis van “klinkklaar” (uit die Nederlands) op ”suiwer, onvermeng m.b.t. metale, waar ’n suiwer allooi ’n helder klank gee; in ’n hoë mate; volkome; volledig; klaar; duidelik; louter.”

Die soeke na, of preokkupasie met die trefseker rymwoord in die bundel roep Opperman se bekende segging voor die oog: “Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: / jou doen en dink, jou soek na ander en jou wag.”

Die bundel is gerubriseer in ses dele en handel tematies oor die digter-spreker se verblyf in die Lae Lande, die liefde, seisoene, die dood, Covid-19 en Ars poëtikale prosesse. Geloofskwessies word sardonies bedig, en Hugo wys sy slag met die vertaling van enkele klassieke gedigte. Vorige leitmotiewe, byvoorbeeld die eikebome of ander waarnemings in die digter-spreker se tuin, kom weer in Klinkklaar voor.

Die sonore titel as die helder klank wat die muntstukke (van ’n suiwer allooi) voortbring as hulle teen mekaar klingel, figureer in ’n paar verse.

Die opdraggedig:

 

Vir Marlene

 

woorde kan soos kleingeld in ’n broeksak

klingel totdat ’n vuis hul vasvat:

die vers wat soos ’n beursie toeklik    (p. 5)

 

En die titelgedig, waarin 1 Korintiërs 13 se metale resoneer:

 

Klinkklaar

jy hoor dadelik

die dowwe klank

van ’n vals munt

 

oombliklik herken jy

’n swak allooi

 

in die smeltkroes

van jou liefde

 

is ek gepuur

en opnuut gegiet

 

tot ’n klinkende

metaal, ’n suiwer

simbaal

 

hoor net hoe

my verse

fluister en skal       (p. 14)

 

Asook die vers op p. 87 waarin die digter ’n paar munte aan sy volhardende lesers wil nalaat. Hugo se droë humor is prikkelend.

 

Kennisgewing

ek het nou genoeg ryme verslyt

in die klinkende munt van die taal:

die voorraad is byna uitgeput

 

ek wil nog graag enkeles nalaat

vir ander wat nagte gaan deursit

en reken op ’n sinryke slot

 

hiermee gaan ek my rekening sluit

 

Kwatryne soos dié op p. 11, “Jacob Israel de Haan: kwatryne” en p. 17, “Twee winterkwatryne”, waar Prometheus as vuurdief en aanstigter van die liefde verbeeld word, bevestig die digter se meesterhand met die kwatryn as digvorm. In “Kuberpos” (p. 18) word Edward Lorenz se metafoor van die vlindereffek met betrekking tot die chaosteorie ingespan om te illustreer hoe skynbaar nietige aktiwiteite kan eskaleer in groot, onvoorsiene, of kosmiese gevolge:

 

’n vlinder klap sy vlerke in ons tuin:

’n tifoon tref Japan

 

ons hond vang ’n bal:

die aarde hou dadelik op met tol

 

ek steek my pyp op:

die Amasone bars uit in vlamme

 

jy stuur vir my ’n eenwoord-e-pos:

ek hoor die musiek van die sfere

 

“Grysland” (p. 20) tree in gesprek met Opperman se bekende “Ballade van die Grysland”, maar Hugo ekstrapoleer die grysland tot ’n angswekkende astrale ruimte; die nalewe selfs. Verse soos “Bieg” (p. 21) en “Naskrif” (p. 22) spot tong-in-die-kies met die naderende dood.

In “III Lente” word die intieme skryfruimtes, soos in Hugo se vorige bundels, weer betrek, byvoorbeeld die eik in “Lente” (p. 26):

 

die eikeboom is ’n klooster

met heeldag die dreungesang van bye

 

monnikke wat neurieënd werk

in die biblioteek van die tye

 

Die ekosisteem van bye, tortels, valke, insekte en eekhorings inspireer die spreker, word sy muse, en uiteindelik versmelt Ars poëtikale prosesse met dié van die natuurlewe, soos “Eik” (p. 27) ook illustreer. Die digterspreker se leefruimtes in Stellenberg, Durbanville, en Prins Albert in die Groot Karoo word, soos in vorige bundels, liries belig.

“Duif” (p.28) ontroer as ’n huldeblyk aan die ontslape digter, Gisela Ullyatt. Met p. 29 se “Digteby” krap die leser vir ’n oomblik kop oor die “heuning se soet raaiselrym”. Dié verwysing kom waarskynlik uit Rigters 14:14. Nadat Simson ’n swerm bye in die karkas, van die leeu wat hy verskeur het, ontdek het, het hy hierdie raaisel aan die Filistyne gevra: “Uit ’n eter kom daar iets te ete, uit ’n sterke kom daar iets soets.”

 

hy vlieg dan terug met ’n geheim

wat onontsyferbaar bly:

die heuning se soet raaiselrym

 

Liriese gedigte oor bye bevestig ook die spreker se ekologiese bewustheid: die planeet se vername bestuiwers is ‘n bedreigde spesie.

Daar word die draak gesteek met met C. Louis Leipoldt (en sy bekende sekretarisvoëlgedig) in “die digter mor” (p. 31), die slotstrofe: “en voëls wat raas / brom sekretaars”. Die geraas word voorgestel as ’n distorsie van die woord, “sekretaris”, en Hugo se nuutskepping skuif na die bywoordposisie.

Deel “IV Lamento” bevat verse oor gestorwe geliefdes, die dood, die pandemie, asook enkele vertalings. Die wiegelied, die verbeelde bootjie na kammaland word op aangrypende wyse as die sterfgang en uitvaartslied van ’n bejaarde moeder beskryf. Die metafoor van die rivier as moeder word voortgesit in “Gammams”, (p. 39), opgedra aan “Ma Marieta” waar die spreker nostalgies ’n jeugherinnering met sy broers en moeder voor die gees roep. Die spreker ‘troos’ egter homself (én die leser) in die opvolgverse, “Digterstroos” en “Jobstroos” (pp. 40 – 41), maar werk doelbewus selfironisering in die hand, want die gewaande troos word ál erger (die humor word wranger). ’n Paar vernuftige vertalings van bekende gedigte volg: “Herinnering” (“Memory” – W.B. Yeats); “Moenie gelate gaan” (“Do not go gentle into that good night” – Dylan Thomas); “Ballade van die seisoene” (“anyone lived in a pretty how town” – e.e. cummings); en “Die rit” (“Because I could not stop for Death” – Emily Dickinson). Die vertalings beïndruk as netjiese Afrikaanse omdigtings in dieselfde templaat, toonaard, styl en tyd(sgees) waarin die verse oorspronklik geskryf is.

In die apokaliptiese vers, “Gedoemde domein” (p. 51) word die invloed van aardverwarming en die mens se laissez-faire-houding as ’n tipe selfvervullende profesie beskryf. Bybelse metafore word slim versluier: “al roep die klippe hul mening” – (Lukas 19:40: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe uitroep (dat Ek die Seun van God is).”

Die Duitse popsanger, Peter Schilling se liedjie, “The Noah Plan” (1982) kan dalk as interteks dien vir “Noag redivivus” (p. 52) as die spreker in die slotreël verklaar: “ek kry my ruimteskip gereed.” Geen tematiek is te donker nie: die spreker se antidoot teen dood en noodlot is humor, al is dit ook aan die donker kant.

In deel “V Lugtig” word die spot gedryf met insekte (dié wat die mens irriteer of sy rus verstoor). “Lugtig” dui op die dubbelbetekenis, naamlik “versigtig” en/of “in die lug”. Reeds met die vers, “Diagnose” (p. 55) in die vorige gedeelte word die vlieg uit die Egiptiese Plae-boek beskryf as “’n donner met ’n fyn reuk vir verrotte vlees.” Die spreker se gekorswel met hierdie vlieënde wesens word geestig beskryf, behalwe in “Vliegkuns” (p. 58), waar vier vlieë die ‘mededigters’ van ’n vers word.

“Die god van die vlieë” (p. 62) flankeer met William Golding se The lord of the flies, terwyl die geslaagde “Slaaploos op Prins Albert” (p. 63) op speelse wyse A.D. Keet se “Muskietejag” as interteks parodieer:

“Verwekker van malaria / sing maar jou laaste aria” (A.D.K) – “Verwekker van hierdie walm / poep maar jou laaste psalm” (D.H.)

Perdebye en wespe kom ook onder die soeklig. In “Studeerkamer II” druk die spreker heel satiries sy afguns jeens ’n wesp uit:

 

[…] – ek retireer

voor die giftige angel: sy vier

 

die triomf van die analfabeet

haar heksagone oortref my

slordige strofes keer op keer    (p. 67)

 

Deel “VI Klinkklaar” inkorporeer natuurelemente as Ars poëtikale prosesse, soos reeds genoem: “Gul muse” (p. 72), “Brenton-on-Sea” (p. 73), en “Karootuin ná die reën” (p. 74), om enkeles te noem. Die liriese Griekse digter, Pindaros, praat uit die graf met die spreker, en prosodie word beskryf as die voorganger van geënkodeerde tekskarakters – “Morse se kil kode” (p. 76). Die digter gee ’n kopknik (en glimlag) in die rigting van die taalkundige en digter, Jaap Steyn (Onomastiek, p. 77), die literatuurgeskiedkundige en studieleier betrokke by Hugo se doktorale proefskrif, prof. J.C. Kannemeyer (“Fondament”, p. 79), asook die skreeusnaakse “Vir my kritici” (p. 81). Die verdere ontginning van taal en betekenismoontlikhede word in dié afdeling voortgesit, byvoorbeeld die stuitige “II Let op die deelteken”:

 

ek gaan my op die poësie toelê

hoor ek ’n jongeling sê, maar:

die poësie laat haar nie toelê nie

en sy het altyd die laaste sê       (p. 78)

 

Die skryf van poësie as futiele aktiwiteit  resoneer met Auden se retoriese “poetry makes nothing happen.” Die laaste vyf verse het ’n geestelike – én geestige – strekking: ’n bittersoet herinnering aan die vader as predikant, asook die ambivalensie wat die spreker as on-/gelowige Christen beleef. Die bundel eindig ironies met die vers, “Götterdämmerung” – wat o.m. die einde van ’n era beteken – maar steeds is dit het einde niet. Die bundel is nie klinkklaar, binne die betekeniskonteks “klaar; verby” nie – dit open weer met ’n nuwe begin:

 

Götterdämmerung

 

in die hand van die Skepper

terwyl al die sterre verwelk

word ’n gravitasiekolk

die laaste godeskemerkelk

 

’n yskoue planeet kom

plons in die kelk – met ’n groot knal

spat dit uiteen en laat blom

’n verdomde nuwe heelal      (p. 95)

 

Met hierdie bundel lewer die digter ’n klinkklare bewys van ’n soliede digterskap. Dit is ’n bundel wat as ’n hoogtepunt in Hugo se oeuvre geboekmerk kan word, maar ook vir die liefhebber van poësie baie vreugde sal verskaf.