Posts Tagged ‘Ronel de Goede gedig’

Ronel de Goede. kauri

Monday, June 27th, 2022

 

kauri

 

Ouma se stopskulp

in Ma se naaldwerkkissie

waar sou dit vandaan kom

hoe het sy dit in die hande gekry

’n kauri in die haai Karoo

 

die laat glip in die sokkie

die woldraadjie natpunt gemaak

deur die oog van die naald gemik

die eerste stekies om die rand

dan die draadtrek

diékant toe

en daaikant toe

dan die weefwerk

bo-oor en onderdeur

en ten slotte die afrond en klaarmaak

 

die voormoeders

in hul indagtige stopwerk

van klein vredes

het hulle ooit oor die skulp gedink

die blinkkoel porselein

die bont spikkelpatroon

die riffelgleuf ’n gewimperde skrefie

of lippe wat wil-wil snak

of grimtandjies wat gryns

het hulle ooit

 

slymdier met mantelvlies

oor die glans gevou

tentakels wat trillend speur

na sponse om af te rasper

op koraalriwwe en diepseebodems

versamel vir amulette

vir wiggel en dobbel

saam met ander skulpiesgeld

vir krale en ornamente en slawe

skepe met skulpe en slawe

 

hoe vroeg hoe ver

strek ’n ondersese Karoo

 

© Ronel de Goede, 2022

 

Ronel de Goede. Herfs

Sunday, June 19th, 2022

 

 Herfs

ná sewe jaar se vergesigte

van Valsbaai se kurwes

eindelik weer ’n behoorlike

Bolandse herfs

 

met okertinte en milde taferele

wanneer blare swierig afdwarrel

die laaste akkers op ’n afdak val

eekhorings verbete skarrel

om kos op te gaar

hul saamgeflanste neste

reeds flenters gewaai

sou hulle nuwe tuistes beplan?

 

wingerde wat vergeel verrooi verbruin

eike en platane halfpad geraamte

met die Helderbergreeks

wat sigbaarder raak

as vlugte van die verbeelding

en die Lourensrivier

wat ná elke buitjie

bietjiesgewys stem dik maak

 

o die gewyde seisoen

van soeler sentimente

van besinging en besinning

in mineurtone

tyd van nestel en treusel

terwyl die rooioogduif

op die balkonreling

my skeefkop begluur

 

terwyl stompkopkewers

tonnels grou tot in

ons diepste grein

terwyl afval en drek

riviere dikbek in oseane

laat stort

terwyl ander name

nog sluimer

 

o die gloeiende

herfstelike verlange

na ’n bekoorlike

Bolandse vers

 

 

© Ronel de Goede 2022

 

Ronel de Goede. Teddy & Nora

Monday, May 16th, 2022

 

Teddy & Nora

 

Teddy & Nora het saam gelewe

op Toys ‘R’ Us se uitverkooprak.

En toe bankrotskap die baas laat bewe,

ontsnap in ’n plastieksak.

 

Teddy & Nora het saam geswerwe;

honger gely in New York se strate.

Stry gekry – hul vryheid aan skerwe.

Gevang oor hul doene en late.

 

Teddy & Nora moes apart gaan woon

in ’n traliekamp vir emigrante.

Konsert gehou en met kos beloon

vir hul rolle as figurante.

 

Teddy moes jag in ’n Mowgli-oerwoud;

Nora moes duik in ’n Frozen-plaspoel.

Met drome en planne as hul enigste behoud,

en ontvlugting as hul opperste doel.

 

Teddy wou na sy voorsate gaan soek

deur te ryloop na ’n piekniekbos.

Nora wou vaar na ’n vreemde uithoek

met ’n sneeukoningin op ’n eenhoringros.

 

Teddy & Nora het apart gesterwe:

hy op ’n knersvlak, sy op smeltys.

Daar’s niks as hul stories om oor te erwe.

Net die waarheid as droefste bewys.

 

© Ronel de Goede

 

Ronel de Goede. Don Fausto neem afskeid

Saturday, June 19th, 2021

 

Don Fausto neem afskeid

 

24 Junie 2012

 

jy’t my uitoorlê Ou Grote

ek sou eers oor twee jaar aftree

maar jy het my voorgespring

en ons bondgenootskap verbreek

’n lang pad het ons saamgestap

(dit vul my met heimwee)

vandat ons op Pinta ontmoet het

 

ons het mekaar verstaan

sonder veel gepraat by die watergat

anders as daai flambojante Diego

het jy geen nasaat al was daar vele kanse

hulle sê jy is die raarste wese op aarde

(die eensaamste die afgematste)

die enigste van sy soort

 

jy’t al drinkplek se kant toe gemik

toe ek vanoggend by jou aankom

ons het nog altyd na mekaar omgesien

moes tog wis dit sou gebeur

die een of ander tyd

(vervloekte mensdom)

ek was verdrietig verslae

 

dis die vleisvreters se skuld

die matrose walvisjagters prisoniers

dié wat die balhorige bokke ingevoer het

en Charles wat meegedoen en opgeskryf

en glo vir Harriet ontvoer het

(vreet roof seëvier)

ons almal is skuldig Jorge

 

ek hoor hulle gaan jou nou opstop

met jou oumensnek boontoe uitgestrek

soos wanneer jy my aankyk etenstye

onder die afdak van jou karapaks uit

as jy met mening weglê aan wat ek aandra

(ek sal die hek langsaam moet toetrek)

nie soos jou laaglê vanmôre nie

 

net jou naam

El Solitario Jorge my ou maat

en ek bly oor

by jou kampie

op Santa Cruz-eiland

(met uitwissing as nabaat)

eenling is die mens gebore

 

©Ronel de Goede, 2021

 

Ronel de Goede. die rooi kruikie

Thursday, April 29th, 2021

 

die rooi kruikie

 

“Niña de color quebrado / O tienes amores o comes barro.”

[Sallow-faced girl, either it’s love or you’ve been eating clay.]

– Anoniem, Flor de varios romance nuevos y canciones (1598),

nageskryf deur Lope de Vega, El acero de Madrid (1608)

 

in ’n skildery met ’n skildery omring deur skilderye

in ’n vertoonsaal vol rame en figurante en bespiegelings

onder die plafonuitspansel van die Alcázar

met skadu’s van ’n onseker nou en ’n triestige toekoms

in die hoepelrok van ’n bestaan van balein- en traliewerk

’n opgepofte skepping in ’n steeds uitdyende heelal

van valle en frille en fieterjasies en beloftes

linte gestrik en blomme vasgesteek in die hare

geskik vir die okkasie

vasgevang in ’n koutjie

weerkaatste raaisels

 

staan die infanta

 

*

 

sê die hofdame:

staan net nóg ’n rukkie stil

neem ’n slukkie

van die koel watertjies

uit die búcaro

toe nou

jy kan netnou gaan speel

met Nicolasito en die hond

 

of, sê die hofdame miskien:

neem en drink

die hemels gegeurde water

dit baat die gelaat

dit lewer bewys van ’n lewe

beskerm teen die geniepsige son

dit maak ’n meisie teer

en begeerlik

 

of, moedig die hofdame dalk aan:

neem en eet

knibbel gerus

aan die kleirandjie

dit baat die lyf

jy sal dit nog nie begryp nie

die hartstogte van die hart

die ritme van die rooi

 

of, sê die hofdame waarskynlik nie:

neem en eet

dit baat die gees

dit voer jou weg

na geluksaligheid

dit laat jou ontsnap

uit die raam der rame

dit laat jou sweef

 

*

 

vyfjarige prinsessie

in ’n pronkrok

wyd oor die heupies gespan

haar vingers gekrul

om die rooi kruikie

afkomstig uit Guadalajara

 

neem sy dit

of sit sy dit neer

koppie weggedraai

ogies gevestig op die koning

die engeltjie

 

reeds aan ’t leviteer

 

© Ronel de Goede, 2021

 

 

Ronel de Goede. mingerhout

Sunday, February 21st, 2021

 

mingerhout

 

om wakker te word met die woord

mingerhout

nie te weet waar dit behoort

 

in die oerbos van die brein

mingerhout

wortel geskiet in die ondergrond

 

van vergeet se papiergrein

mingerhout

net ’n akkoord wat pront

 

en groen aanmeld      wellig

’n mingerhout

om te boom in ’n gedig

 

© Ronel de Goede, 2021

 

Ronel de Goede. Ballade van die honderd dae

Wednesday, October 21st, 2020

 

Korona-gedigte

 

 

Ballade van die honderd dae

’n Wintervers

 

Die branders suis, die dae sleep.

Ek sit aan tafel en lees koerant:

“Syfers styg”. “In virus se greep”.

Wat gaan word van die siekes in ons land?

Hul “spartel om asem” en “verdrink” op ’n streep.

’n Malariapil maak mens glo “bestand”.

Kom ons drink maar ’n glas op die valreep!

Wat gaan word van die virus in ons land?

 

Die wêreld verstom: “Ekonomie in sy maai”.

“Miljoene ly honger”. “Gebrek aan kontant”.

Die radio rep: “Kospakkies geskaai”.

Wat gaan word van die armes in ons land?

“Miljarde vir noodhulp”. “Vingers in die laai”.

“Werkloosheid neem toe”. “Dromkrappers astrant”.

’n Stad onder beleg – boekaniers in Valsbaai!

Wat gaan word van die kapers in ons land?

 

Die skedelvlag die waai: “Baba verkrag”.

“Boer vermoor”. Selfone gons: “Iemand

wat ons ken”. “Rowers skiet geldwag”.

Wat gaan word van die mense in ons land?

“Bejaardes gemartel”. “Seuntjie val in skag”.

“Vrou gesteek”. En so gaan dit voort, want

dis ’n gekkeskip – sonder kwarantynvlag!

Wat gaan word van die moordplaag in ons land?

 

L’Envoi

Hoe kan ’n mens dit alles verklank?

Wat gaan word van die siekes van ons land?

Ek sit aan tafel en lees koerant –

vol selfverwyt; een voet op die loopplank.

Wat gaan word van die armes van ons land?

Wat gaan word van die ménse van ons land?

 

© Ronel de Goede, 4 Junie 2020

 

Ronel de Goede. Tofet

Monday, August 17th, 2020

 

Tofet

 

Nog ‘n profesie vervul!

Absoluut verstommend!

Iemand uit Ghana

laat weet via-via-via:

Lees Jeremia 7:32!

“En hule sal in Tofet begrawe,

omdat daar geen plek sal wees nie.”

En waar is Tofet?

(Sê-vra die “Geliefde Broeder”.)

Gebruik Google Maps!

Dis in Italië!

Duidelik ‘n profetiese vervloeking!

Lees en stuur aan na vyf ander!

 

*

 

buite Jerusalem

met die Potskerfpoort se pad langs

by die brandende ashope

van die dal van Ben-Hinnom

daar was Tofet se hoogte

waar kinders

op die maat van tromslae

deur die vuur moes gaan

gewy aan Baäl en Molog

geoffer aan Baäl en Molog

vergewe ons ons skuld

o vergewe ons solank ons skuld

ons doen by voorbaat boete

 

kyk hier is ons kinders

wy hulle in

as koorknape

hulle sing soos engele

hul stemme het nog nie gebreek nie

wy hulle in

as tempelprostitute

hoe aanvallig lyk hulle nie

welbehaaglik vir god en mens

neem hulle in

as offergawes

lewenslustig en onskuldig

die lammertjies

 

by die plek waar aasvoëls sirkel

gierig neerswiep

en stukke vleis afskeur

waar wilde diere en wurms

gulsig vreet aan

die kadawers op die puinhope

waar die vure

deurentyd brand

in die Moorddal

waar God se gloeiende gramskap

nooit geblus word nie

by die uiteindelike helse vuur

van Gehenna

 

*

 

Nee, Geliefde Broeder,

Tofet is orals

waar paters en maters

anderpad toe kyk.

 

© Ronel de Goede, 31 Maart 2020