
Vandag is inderdaad ‘n dag vir spesiale feesvieringe, want dit is presies ‘n jaar gelede wat ons hierdie webblad op die internet geplaas en via nuusbriewe en persverklarings aangekondig het. En watter ongelooflike jaar was dit nie gewees nie …
Laat ek egter maar reg aan die begin erken: toe Marlise in Januarie verlede jaar begin praat het oor die moontlikheid van ‘n webblad ter ondersteuning van die Versindaba-fees, het ek ernstige bedenkinge gehad oor dié projek. Hoeveel aftrek sal ‘n betreklik eksklusiewe webblad soos hierdie eintlik kan verwag om te kry, het ek gestry. Veral gesien in die lig van ander formidabele (en omvattende) webtuistes vir die Afrikaanse Letterkunde soos byvoorbeeld LitNet, Roekeloos en Woes. Maar nou ja, toe ek my oë uitvee, het Marlise webspasie via ‘n diensverskaffer in Cambridge bekom, ‘n blog-program (WordPress) aangeskaf en naarstigtelik begin om dié nuwe program te bemeester. Boonop moes ingrypende aanpassings aan die program gemaak word, aangesien dit wat ons mettertyd beoog het, ‘n vreemde kombinasie was tussen ‘n konvensionele webblad met vaste inhoud en ‘n aanlopende, interaktiewe weblog met (hopelik) nuwe inhoud elke dag.
Tog het sy dit alles binne enkele maande tot stand gebring; te midde van ernstige gesondheidsontwrigting, bygesê. Vir die laaste klompie weke vóór die amptelike plasing op die internet moes sy byvoorbeeld alles met ‘n skootrekenaar, plat op haar rug in die bed, doen. (Synde die tegnologies-agtergeblewene wat ek is, kon ek haar nie eens hiermee help nie … Ai, ai, wat ‘n verwoestende, dog opwindende tyd was daardie klompie weke nie!)
Nietemin, aanvanklik was ons idee om soort van gesigloos in die agtergrond dié webtuiste vir die Afrikaanse digters in stand te hou en aan hulle vrye toegang te verleen na goeddunke ten opsigte van bydraes en kommentaar. Spoedig het ons egter besef dat dié beleid nie gaan werk nie, want ou wrokke is uit die kaste gehaal, afgestof en uitgestal. En mense het seergekry in dié proses. Dáároor is ons verskriklik jammer. Vir ons was die keuse egter duidelik: óf ons raak met mag en mening betrokke as “redaksie” by die beheer en uitbouing van dié blad, óf ons verwyder dit na afloop van die Versindaba-fees. Maar albei inisiatiewe sou ons gewoon nie kon bedryf nie; veral weens die emosionele lading wat daarmee gepaard gaan en die druk wat dit op ou, gevestigde vriendskappe begin plaas het. Op daardie stadium was die aanduidings egter reeds daar dat dié konsep van ‘n webtuiste gaan werk, want die mense wóú gedigte en ook kwaliteit inhoud óór gedigte lees. Toegegee, ons was ook van mening dat ons met die webblad as instrument meer sou kon bereik ter bevordering van die Afrikaanse digkuns as met die fees.
Ons het dus besluit ten gunste van die voortsetting van die webblad en moes afstand doen van die fees deur dit aan die Woordfees-komitee te oorhandig ten einde dit by hul projekte in te skakel. Ons het doelwitte opgestel, ‘n kolofon ten opsigte van redaksionele beleid, en aangesien dit onses insiens belangrik was dat die Afrikaanse digkuns ‘n sterker teenwoordigheid op die groter verhoog van die internasionale poësie – en verál die digkunste van die Laer Lande – moes verkry, begin om voelers uit te steek na ons kollegas in die ander halfrond. Tot ons vreugde was De Contrabas summier bereid tot ‘n saamwerkooreenkoms en sedertdien word daar gereeld inligting uitgeruil tussen ons en hulle; ook het ons begin met die saamstel van ‘n formidabele groep Vlaams-Nederlandse digters om ‘n kollektiewe blogruimte, Wisselkaarten, te bedryf. Dieselfde resep het ons gevolg deur ook die Nuwe Stemme-digters by die webblad te kon betrek, en saam met ons gevestigde bloggers, wat ons van die begin af op so ‘n skitterende en onbaatsugtige manier ondersteun (en aangemoedig) het, beskik die webblad nou in totaal oor 34 bloggers, en glo my, op sigself is dít geen geringe prestasie nie …

Die vernaamste ontwikkeling die afgelope jaar was egter die toetrede van Fonds Neerlandistiek (Suid-Afrika) ten opsigte van finansiële steun vir die webblad. Daarsonder sou ons beslis nie gestalte kon gee aan ons aspirasies nie, aangesien daar tóg beduidende finansiële uitgawes ter sprake is wanneer dit kom by die instandhouding én verdere ontwikkeling van ‘n webblad van hierdie aard. Ook het ons begin om enkele vaste adverteerders te nader, waarvan NB Uitgewers die eerste is. Net so is die welwillendheid van geakkrediteerde tydskrifte soos Stilet en Tydskrif vir Geesteswetenskappe wat hul poësie-artikels goedgunstiglik aan ons begin deurgee het vir plasing, vir ons iets van onskatbare waarde.
OPSOMMENDE STATISTIEK

By vorige geleenthede het ek al my passie jeens statistiek bely. (Trouens, Marlise begin my al verkwalik dat my entoesiasme jeens dié projek maar net is sodat ek met die statistiek kan versamel en interpreteer …) Dit is egter seker nie onvanpas om by geleentheid van hierdie spesiale viering iets rondom die statistiek te verklap nie, ten spyte daarvan dat dit iets – soos ‘n mens se bankbalans – is wat jy eintlik sou verkies om vertroulik te hou; vergewe dus die statistiek wat ek verkies om nié in die openbaar rugbaar te maak nie.
Nogtans mag die volgende jou interesseer:
- Die één groep statistiek wat ons deurlopend met dankbare vreugde vul, is die vergelykende statistiek met ander poësie-webtuistes wêreldwyd. So is ons webblad tans 103.7% bokant die wêreldgemiddeld vir aantal besoeke, 51.6% bokant vir aantal bladsye gelees en 43.9% bokant vir tyd per besoek op die webblad deurgebring.
- Die afgelope maand se statistiek dui daarop dat ons in ‘n sterk groeifase is met 56.2% nuwe besoekers, waarvan 22% die webblad elke dag besoek het, terwyl 7.66% van ons besoekers die webblad die afgelope maand meer as 200 keer besoek het.
- In Suid-Afrika is besoeke vanuit 101 sentra ontvang, met die meeste besoeke uit Pretoria, gevolg deur Oakdale, Kaapstad, Bellville en Stellenbosch. Internasionaal beskou word besoeke uit 62 lande ontvang, met as vernaamstes uiteraard Nederland en België (28.7% van ons totale besoeke), gevolg deur die Verenigde Koninkryk, die VSA (waar daar vandeesmaand ‘n 67% toename was …) en Australië.
- Vandeesmaand was die Gedigtekamers die meeste besoek met ‘n totaal van 805 bladlese, gevolg deur die Nuuswekkers, Bernard Odendaal se analise van digkunsontwikkeling en Danie Marais se essay “Stilte in die hof!“. Onder die Wisselkaarten is Chris Coolsma se huldeblyk aan Rudy Kousbroek die meeste gelees, gevolg deur Ester Naomi Perquin se blog oor “Versmelten“.
- Terugskouend oor die afgelope jaar het die Gedigtekamers wéér die meeste bladlese gehad met 4,866 in totaal, gevolg deur die Nuuswekkers, Blogs, Publikasies, Foto’s en Brieweboks. Interessant genoeg het relatief nuwe toevoegings, soos die kollektiewe blogs, besonder goed gevaar: Nuwe Stemme beklee naamlik die 16de plek en Wisselkaarten die 37ste.
- Onder die bloggers is Philip de Vos se blogs die afgelope jaar die meeste gelees (9de op die lys van alle bladlese), gevolg deur Andries Bezuidenhout (20ste), Carina Stander (26ste), Yves T’Sjoen (27ste) en Charl-Pierre Naudé (32ste). Ten opsigte van die individuele inskrywing wat die meeste gelees is die afgelope jaar, is Charl-Pierre Naudé bo aan die lys met sy blog-inskrywing “So lyk die provinsie op sy bedenklikste“. (Let wel: Hierdie is die statistiek vir die jaar in sy geheel. Uiteraard wissel dié rangorde van maand tot maand na aanleiding van die aard en hoeveelheid van nuwe plasings; ook ten opsigte van iemand soos Desmond Painter wat maar betreklik onlangs as blogger bygekom het …)
TEN SLOTTE – DIE GROOT DANKIE-SÊ

Uit bogenoemde blyk dit dus duidelik dat dit besonder goed gaan met die webblad en dalk júís as gevolg daarvan is daar sommer ‘n hele bondel mense wat hiervoor bedank moet word … In die eerste plek JY wat hier sit en lees. Dankie vir JOU ondersteuning en belangstelling, want elke kliek van jou muis op hierdie webblad versterk nie net die impak van hierdie inisiatief nie, maar dit motiveer ons ook om daadwerklik te dink en te beplan hoe om dié webblad verder te ontwikkel tot iets wat jou, sowel as ons digkuns, tot eer strek.
Ten tweede, ‘n besonderse GROOT dankie aan al ons bloggers wat so gereeld nuwe inhoud plaas en hul gedagtes en ervarings met ‘n gesiglose massa deel … Nie net verg dit moeite nie, maar dit geskied dikwels ook maar te midde van besonder moeilike persoonlike omstandighede. Daarom – dankie, dankie, dankie. Of jy nou een van die “gevestigdes” is, of ‘n “Nuwe Stem” of “Wisselkaart“.
Iedereen se bydrae is van enorme belang.
Dankie ook aan almal wat op soveel verskillende maniere tot die webblad bydrae: Bernard Odendaal vir sy deeglike resensies, al die nuwe verse wat ons ontvang vir plasing, die artikels, essays, onderhoude … En veral: die kommentare. Ai, mense, wéét julle hoe sielsverwoestend dit is wanneer jy ‘n nuwe blog plaas en niemand reageer daarop nie?! Daarom, asseblief: Lees, raak opgewonde en neem deel. Al is dit net om waardering uit te spreek.

En dit ALLES word deur slegs één persoon georden, voorberei, op datum en funksioneel gehou vir foutlose toegang te alle tye. Daarom kan ek nie anders as om ten slotte ons Webmeester se skoene blink te vryf nie … Watter ongelooflike voorreg is dit nie om saam met jóú by projekte soos hierdie betrokke te kan wees nie, Marlise. Dankie vir jou toewyding, jou deeglikheid, die ure der ure van “redaksionele vergaderings” en bowenal: die lewe saam met jou.
Dêmmit. En nou moet ek ‘n hele jaar wag voor ek weer so lekker kan uitflap oor die webblad … Maar, toegegee, ek kan amper nie wag om te sien waaroor ek in my volgende “jaarverslag” sal kan berig nie.
Ter afsluiting – by geleentheid het wyle Lucas Malan my heftig gekritiseer omdat ek verseg om my naam voluit onder aan die Nuuswekkers te plaas, maar vanoggend – as spesiale oogknip na hom – wil ek dit tóg graag doen …
Daarom –
‘n Vreugdevolle dag vir almal toegewens; en skink gerus vanaand (of wanneer ook al) ‘n glasie op die Afrikaanse digkuns. Dit gaan immers goed daarmee, of hoe?
Mooi bly.
Louis Esterhuizen
Inhoudsbestuurder: Versindaba-webblad (en mag die 2de “b” van “webblad” nooit ‘n “k” word nie!)
Geluk, geluk, geluk. En dan die wysheid… Baie dankie vir hierdie mooiste van mooi hoeke.
Geluk. Ek snuffel gereeld hier rond.
Doe so voort!
Viva die digkuns (en die digters wat dit maak werk)!
Maar die eerste “b” het wel n “k” geword. Welgedaan.
My besoeke aan die Versindaba webblad is elke
dag ‘n hoogtepunt, ‘n leerskool en ‘n geleentheid om my passie vir die Afrikaanse taal en sy skrywers uit te leef.
Ek klink graag ‘n glasie op julle sukses en wens julle geluk met die keurig versorgde
webblad.
Net om te sien wat julle alles in die jaar reg gekry het, gaan my verstand te bowe.
Daarom besonder geluk met die jaaroudbaba. Hy loop lankal, het lyk dit my, verby die kruipstadium gespring, en as ek dinge reg lees, gaan hy vanjaar nog vlerke ook groei en vir n vale vlieg..
Dankie vir julle inisiatief en harde werk.
Baie dankie, Stefaan. Ons kyk natuurlik selwers met honger oë na wat julle alles daar in Gent vermag. 🙂
{Terloops, ek’s gek na die nuwe voorkoms van die Poëziekrant. Doe zo voort …)
Mooi bly.
Louis
Beste Marlise en Louis,
Baie hartelik gefeliciteer met die eerste verjaardag van julle webblad. Die Versindaba-blog is sekerlik ‘n groot aanwinst om die poësie sowel boven als onder die evenaar lewendig te hou en die bande tussen ons taalgroepe verder aan te haal. Die medewerking van al die verskillende digters, journaliste en literatuurwetenskappers toon ook aan dat die initiatief breed gedragen word.
Vat aan die tweede jaar!
Stefaan Goossens,
Poëziecentrum
Aan Cas, Lewies en almal wat via kommentaar, e-pos, telefoonoproep of sms goeie wense betuig het tydens die viering van die webblad se eenjaarwording op die internet: Baie dankie! Soos reeds gesê is hierdie ding sonder julle maar net ‘n gesnak na wind …
Vriendelike groete,
Louis & Marlise
Louis en Marlise, manjifiek.Julle laat die poëtiese bekers oorloop. En ons drink as julle skink. Vir julle twee-saam van harte geluk met ‘n glorieryke jaar.
Cas Vos
Louis en Marlise, Baie geluk, hierdie webblad is van onskatbare waarde. Versindaba maak seker dat ons poësie ‘n tuiste het wat tegnologies relevant is en in pas is met hoe hedendaagse kommunikasie plaasvind. Ek glo julle het die regte resep hier met hoe die webblad bedryf word, eksklusiewe blog ruimte verseker hoogstaande inhoud. Verwysings, hulpmiddelle/ skakels na artikels/gedigte/essays ens. Die werk wat julle as redaksie doen is net ongelooflik – ek verlees myself elke oggend aan ‘n nuwe nuuswekker. Dan moet ek bely deur Versindaba het die Nederlandse poezie vir my ‘n nuwe groot persoonlike ontdekking geword, ek sukkel maar ek lees en dit gaan al beter en beter.
Versindaba gaan nog in die literêre geskiedenis opgeteken word as ‘n mylpaal. Groot dinge kom nog, MARK MY WORDS!
Louis & Marlise, julle “halte aan die uithoek”, lyk my, het nogal “‘n trajek vir verder gaan”!
Gefeliciteerd! Op naar een volgend poëziejaar!
Louis en Marlise, ek sal beslis later vandag ‘n glasie op die Afrikaanse digkuns klink, en dan sommer ‘n tweede en ‘n derde op julle twee ook. Geluk met wat julle vermag het, en seen toegewens vir die tweede webbladjaar.