Kenmerke van ‘n dinamiese digkuns

Gevleulde woorde

Gevleuelde woorde

Dikwels hoor ‘n mens dat so en so digkuns ‘n besonder dinamiese digkuns is. Maar wat beteken dit in wese? Watter kriteria word toegepas ten einde tot die slotsom te kom dat Digkuns A byvoorbeeld meer dinamies is as Digkuns B? Uiteraard bly dit dikwels ‘n aanvegbare stelling wat merendeels op veralgemenings gebaseer is.

Nietemin, by Cobra het daar onlangs ‘n resensie van die Amerikaanse digter Robert Hass se gedigte in Nederlandse vertaling deur Bart van der Straeten verskyn en in sy aanloop tot die resensie verwoord Van der Straeten die kriteria waarvolgens die dinamika waarvolgens digkunste beoordeel behoort te word, besonder helder.

Graag haal ek vir jou leesgerief die toepaslike gedeelte volledig aan: “Het Nederlandstalige poëzielandschap is kerngezond. Er bestaan tal van kanalen waarin dichters hun ei kwijt kunnen. Elk jaar verschijnt een behoorlijk aantal bundels van dichters van alle generaties en gezindten. In tijdschriften en op het internet wordt druk gedebatteerd over hun werk en hun opvattingen. Er bestaan thematische en literairhistorische bloemlezingen, er zijn (wat minder, maar er zijn er) overzichten van de Nederlandse poëziegeschiedenis. Anders is het gesteld met de hedendaagse buitenlandse of anderstalige poëzie. Die sijpelt maar moeizaam in ons taalgebied door. De grote klassiekers en de canonieke werken worden nog wel vertaald, zoals de voorbije jaren onder meer het werk van Rilke, Eliot, Lorca en Celan. Maar wie iets te weten wil komen over de levende poëzie van buiten de Laaglandse grenzen, moet doorgaans zelf op zoek in de oorspronkelijke taal. Des te opmerkelijker is het daarom als er af en toe toch eens een vertaling verschijnt van een nog levende buitenlandse dichter.”

En ja, uiteraard wil ‘n mens dié uitsprake ook op ons eie digkuns van toepassing maak. Ten opsigte van poësie-produksie en verbandhoudende “kanale” vaar ons myns insiens besonder goed. Ook ten opsigte van die tematiese en stilistiese reikwydte van aanbod; so ook ten opsigte van ouderdom en geslag. En sekerlik is dit veral die groter prominensie van jonger digters die afgelope jare wat ‘n mens dankbaar stem. Ook vermoed ek dat die aantal bloemlesings ten opsigte van die poësiemark en -produksie heeltemal voldoende is. En ja, selfs ten opsigte van vertaalde tekste in Afrikaans.

Wanneer ‘n mens dus kyk na Van der Straeten se kriteria, kan ‘n mens nie anders as om tot die slotsom te kom dat ons eie digkuns nie te sleg vaar nie. Ruimte vir verbetering is daar egter altyd: so sou ‘n mens graag die verkope van bundels wou aanwakker; eweneens die kopersweerstand teen vertaalde tekste wou afbreek. Maar bowenal sou ‘n mens graag wou sien dat daar meer Afrikaanse gedigte na ander tale vertaal word. Ten opsigte van Nederlandse vertalings is daar beslis ‘n oplewing, maar helaas, vertalings in Engels is nog totaal ontoereikend …

Maar gee tyd; ook dié toedrag van sake sal mettertyd aangespreek en (hopelik) verbeter word.

Soos in ‘n vorige Nuuswekker gesê: ons kan uitsien na ‘n kroonjaar vir ons digkuns.

***

Van kopersweerstand teen vertaalde tekste gepraat: môreaand om 22:00 kan jy in “Vers & Klank” op RSG luister na Daniel Hugo wat sy vertalings van Rutger Kopland se gedigte gaan voorlees. Dié vertalings het verlede jaar in die bundel Onder die appelboom by Protea Boekhuis verskyn.  Die programleier is Margot Luyt.

***

Sedert Vrydag het Desmond Painter ‘n blog met ‘n besonderse gedig van die Brasiliaanse digter, Carlos Drummond de Andrade, gelewer; Amanda Lourens se bydrae oor ras, geslag en klas is eweneens ‘n móét lees. Van Ilze Gertenbach is daar ‘n besonder insiggewende – en omvattende – artikel oor die (moontlike) terapeutiese waarde van skeppende skryfwerk ontvang.

Ten slotte – in die gedigtekamers van Andries Bezuidenhout, Johannes van Jerusalem en Piet van Rooyen is daar nuwe verse geplaas.

Hierdie week begin omtrent op die voorvoet. Of wat praat ek nou?!

Lekker lees en laat rol die kommentare.

Mooi bly.

LE

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •