Louis Esterhuizen. Om vir ‘n fees totsiens te sê

 

In welke mate jy toegelaat word om te doen. Hierdie gedagte draal die afgelope maande reeds soos ‘n voosgeluisterde refrein deur my gedagtes. En ja, natuurlik voel ‘n mens ietwat gedemp oor die US Woordfees se aankondiging dat die jaarlikse Versindaba poësiefees nie meer as ‘n aparte entiteit aangebied gaan word nie, maar voortaan by die Woordfees se omvattende program ingeskakel gaan word.

Daarom is dit seker nie onvanpas om voor die nostalgie te swig en ter wille van die rekord bepaalde momente rondom dié unieke fees, wat van 2005 tot 2011 elke jaar te midde van ‘n breë front van skeptici  en besonderse uitdagings plaasgevind het, neer te pen nie.

Wat jy toegelaat word om te doen. Hierdie “toelating” is uiteraard ‘n belemmering van sóveel uiteenlopende faktore: befondsing, infrastruktuur, entoesiasme, welwillendheid, gesondheid, ens. ens. Soms lé dié “toelating” in lieflike plekke en dan is die ywer en welwillendheid ‘n gegewe; daarenteen kan dit weer sodanig wees dat jy gestuit voel in jou entoesiasme. Maar, solank jy glo in die sinvolheid van dit wat jy probeer vermag, dwing jy vorentoe in die mate wat jy toegelaat word om te doen wat jy glo gedoen móét word.

So is dit gesteld met bykans alle ondernemings in die lewe. En beslis ook ten opsigte van die feestelikheid genaamd “Versindaba”.

Versindaba 2005

Versindaba 2005

Hoe goed onthou ek nie die besonderse Saterdag toe Marlise (Joubert) met die voorstel gekom het dat ons ‘n eksklusiewe poësiefees moet reël as vertoonkas vir die digkuns en haar digters nie … Saterdag, 11 September 2004. Ons staan saam met ‘n groepie digters buite die boekwinkel en gesels na afloop van die dié betrokke Saterdag se Boekpraatjie; ‘n bundel deur een van ons bekroonde digters wat uitgegee is met ‘n tweekleuromslag en gedruk is op blygemaakte fotostaatpapier.  Ek maak die opmerking dat die manier waarop dié bundel uitgegee is – ter wille van kostebesparing, natuurlik – ‘n belediging is vir die poësie wat op daardie bladsye gedruk is. En oombliklik: gróót gesprek oor hoe gemarginaliseerd die poësie is. Gevestigde uitgewers gee maar enkele digbundels uit (so min soos 2 titels per jaar); selde indien ooit jonger digters. Op die boekblaaie van koerante en tydskrifte verskyn daar hoogs by uitsondering ‘n resensie. Ensovoorts, ensovoorts.

Maar dan moet ons ‘n fees reël ten einde die digkuns te bemagtig, stel Marlise meteens voor; ‘n fees wat nuwe talent ontbloot en die wye verskeidenheid van die Afrikaanse digkuns demonstreer.

Vir die volgende klompie weke is dié voorstel weer en weer bepraat by die huis; met talle mense is daar in gesprek getree oor die moontlikheid van ‘n poësiefees. Deurgaans was die gevoel skepties, selfs toetentaal afwysend, om die minste te sê. Maar met die infrastruktuur van die Protea Boekwinkel wat ek en Marlise in 2002 op Stellenbosch gevestig het, en die meelewende ondersteuning van ons hoofbestuurder, Nicol Stassen, het ons kans gesien vir dié bepaalde uitdaging.

In welke mate jy toegelaat word om te doen. Uiteindelik het Jannie Mouton, hoofdirekteur van PSG, ingestem om dié fees in sy privaat hoedangheid te borg nadat die PSG direksie téén ‘n borgskap besluit het. Sy onderneming was egter om net dié eerste jaar te finansier; daarna sou ons op ons eie wees, finansieel gesproke. Dog, Jannie sou uiteindelik die fees finansieel bly steun selfs tot en met die laaste een verlede jaar …

Na dié skenking het die belemmerings in meer gunstige plekke begin val en op 4 Junie 2005 kon ons die volgende persverklaring uitstuur. Ek plaas dit volledig hieronder aangesien dit al die doelstellings van die fees bevat. 

‘n Indaba om die Verskuns opnuut vonk te gee!

Die Afrikaanse poësie word wyd beskou as die  genre wat waarskynlik oor die afgelope 100 jaar die meeste tot die status van die Afrikaanse letterkunde bygedra het. Dit is opvallend dat twee digters (N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach) vroeër vanjaar deur ‘n paneel letterkundiges uitgesonder is as die skrywers wat die meeste tot die Afrikaanse kulturele bewussyn/erfenis bygedra het.

En wat het ons behou van ons letterkundeklasse op skool?  Flertse verse, poëtiese beelde, dalk selfs ‘n hele gememoriseerde gedig, die toonsetting van ‘n Ingrid Jonker- of Boerneefvers. Sonder dat ons daarvan bewus is, is die Afrikaanse poësie deel van die meeste Afrikaanssprekendes se woordeskat en gedagtewêreld.

Tog wil dit voorkom of die Afrikaanse poësie oor die afgelope dekade aan status ingeboet het.  Bewyse hiervoor lê onder meer daarin dat gevestigde uitgewerye tans gemiddeld twee tot vier digbundels per jaar uitgee. Voorts is die ruimte wat in die gedrukte media aan boekbesprekings afgestaan word, ernstig ingekort.

Desnieteenstaande geniet Afrikaanse digters heelwat aansien in die internasionale arena en heelwat van ons digters word gereeld genooi om aan internasionale poësiefeeste deel te neem.

‘n Omvattende bloemlesing oor die Afrikaanse digkuns het ook enkele jare gelede in Nederland verskyn. Etlike Afrikaanse digters se verse word gereeld in ander tale vertaal en oorsee versprei.

In ‘n poging om die marginalisering van ons digkuns teen te werk, is daar besluit om ‘n Afrikaanse poësiefees te reël waartydens sowel ons voorste digters as jonger, ontluikende digters saam kan deelneem. Die oogmerk van hierdie fees is om as waarmerk te dien vir die stand van poësie in Afrikaans soos dit tans daaruit sien.

Daarom heers daar groot opgewondenheid by die organiseerders om die eerste poësiefees vanjaar  gedurende die naweek van 9 en 10 September 2005 in die HB Thomteater, Victoriastraat, Stellenbosch aan te bied. Die verrigtinge sal Vrydag om 18:00 begin. Die program bestaan uit drie sessies: Vrydag van 18:00 tot 22:30, Saterdag van 10:00 tot 17:15 en van 19:00 tot 23:30.

Tydens die gala-geleentheid Saterdagaand in die HB Thomteater sal ‘n nuwe prys vir die beste digbundel van die voorafgaan jaar oorhandig word. Die toekenning word deur Protea Boekhuis en die Jannie Mouton-Stigting geborg. Hulde sal voorts aan enkele senior digters gebring word.

Die program tydens die fees bestaan uit voorlesings deur digters, voordragte deur professionele woordkunstenaars, onderhoude, lesings, musiekitems, ‘n vasvra-kompetisie, ‘n bekgeveg en ook die dramatisering van gedigte. Dit beloof om ‘n gevarieerde en hoogs vermaaklike program te wees!

Twintig gevestigde en 8 opkomende digters word genooi. Verskeie vermaaklikheids-kunstenaars sal saam met hulle optree.

Die lys digters wat gaan optree, sluit in: Hennie Aucamp, Martjie Bosman, Marius Crous, Jan de Bruyn, Philip de Vos, Julian de Wette, Melanie Grobler, Daniel Hugo, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Lucas Malan, Johann Lodewyk Marais, Petra Muller, Charl-Pierre Naudé, Henning Pieterse, Peter Snyders, Lina Spies, Marlene van Niekerk, Ilse van Staden en George Weideman.

Die opkomende digters wat deel van die program is, is Thérèse Bartman, Toast Coetzer, Erns Grundling, Ronel Kamfer, Tertius Kapp, Loftus Marais, Adolph van Coller en Johannes van Jerusalem.

‘n Bloemlesing bestaande uit enkele verse van die deelnemende digters sal spesiaal deur Protea Boekhuis gepubliseer word en by die fees te koop wees.

Van die musiekkunstenaars wat gaan optree, is Philip de Vos, Peter Snyders, Toast Coetzer en die Buckfever Underground, Marica Otto, Helena Conradie, Laurinda Hofmeyr, Ancient Men en André Howard wat ‘n liedsiklus “en skielik is dit aand“, bestaande uit toonsettings Wilhelm Knobel-gedigte deur Hendrik Hofmeyr sal sing.

‘n Breedvoeriger program asook ‘n naamlys sal mettertyd beskikbaar wees.

 ***

Die res is geskiedenis. Opsommenderwys kan die volgende tabel voorgehou word. (Let wel: dit reflekteer slegs die vyf feeste waarvoor ek en Marlise verantwoordelik was.)

JAAR

BEGROTING

GEVESTIGDE DIGTERS

ONTLUIKENDE DIGTERS

BYWONING

2005

R 63,582

20

8

517

2006

R 81,287

20

6

620

2007

R 97,905

11

4

425

2008

R 99,019

14

8

513

2009

R 85,726

10

5

378

TOTAAL

R 427,519

75

31

2,453

Verrassend genoeg het net die eerste fees ‘n verlies van R397 getoon. Met al die ander feeste het ons gelyk gebreek en selfs ‘n geringe wins getoon wat dan oorgedra was na die volgende jaar se fees. Nooit was die oogmerk om dié fees vir eie gewin aan te bied nie. Dít kon ons vermag deur éérs die program saam te stel met ‘n kosteberekening daarby. En dáárna is geld afgesmeek by instansies soos Het Nationale Fonds Jan Marais en die Hiemstra Trust. Ook by individue wat ons begroting anoniem help balanseer het. En hoe sekuur was Marlise nie in haar boekhouding nie … Elke jaar perfek in die kol.

Die amfiteater loop vol...

Die amfiteater loop vol...

In die proses is blootstelling gegee aan 106 digters vir wie geen onkoste ontsien is nie. Nie net was hul reis – en vliegkostes is ten volle betaal nie, maar hulle is ook vervoer en in luukse gastehuise gehuisves. Want dit was tyd vir die Afrikaanse digkuns om te pronk. Om aan die liefhebbers van die digkuns te wys wat die standaard en omvang daarvan is. Skaamteloos. Daarom dat die beleid van meet af aan was dat alle digters van wie daar ‘n digbundel in daardie betrokke jaar verskyn het, by die fees te betrek. Plus “ontluikende” digters soos hulle – meestal deur Marlise – geïdentifiseer is. Hieronder tel etlikes was sedertdien gedebuteer het en vandag as van ons vernaamste “jong stemme” gereken word: Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Jasper van Zyl, Danie Marais, Carina Stander, Bernard Odendaal, Melt Myburgh, Johannes Prins, Jelleke Wierenga, Aniel Botha, Fourie Botha en Karen Kuhn. Ander stemme die sluimer egter nog en ‘n mens kan maar net kwylbek uitsien na hul debuutbundels: Pieter Odendaal, Bibi Slippers, Lou-Ann Stone, Annie Klopper, Therésè Bartman, Toast Coetzer, Tertius Kapp, Erns Grundling, Illona Edwards, Charlton Lee George, Jitsvinger, Suzanne-Louise Bezuidenhout, Marius Swart, Johan Swarts en nog vele ander.

Hartseer genoeg het ook ‘n hele aantal digters – en etlike van hulle dierbare vriende van ons – ons gedurende dié tydperk ontval: Jan de Bruyn, Ronnie Belcher, Barend Toerien, George Weideman, Lucas Malan. Almal van hulle wat met entoesiasme aan die feestelikheid deelgeneem het en vir my en Marlise by soveel geleenthede met welwillendheid en kommentaar ondersteun het. Want doen kan jy net doen in die mate wat jy toegelaat word om dit te doen.

Nietemin, die Versindaba-feeste was inderdaad ‘n geskakeerde feestelikheid wat die volle dinamika van die digkuns tentoongestel het. So wil ons graag glo. En dat dit al die doelwitte wat ons ons voor oë gestel het, gerealiseer het.

En dié feeste het onbedoelde winste tot gevolg gehad:

 

  • Met elke fees het daar ‘n geleentheidbundel verskyn wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. Gedigte van al die digters wat by dié betrokke fees betrokke sou wees, is hierin opgeneem en vandag is elkeen van hulle ‘n besonderse tydsdokument.
  • Versindaba 2007 is deur entoesiastiese ondersteuners vir ons op DVD vasgelê en watter vreugde is dit nie om van tyd tot tyd hierna te kyk nie … Afgesien van die betrokke digters, ook nog besonderse items deur Anton Goosen (met my en Marlise wat feestelik agter hom en Schalk Joubert verby dans – óók haar idee gewees, bygesê!), David Ferguson, Jitsvinger, Riku Lätti en Niel Rademan.
  • Die groot aantal digters van wie daar in jare nie ‘n bundel verskyn het nie, wat plotseling weer hul terugkeer tot die digkuns maak …
  • Die toename in aantal debuutbundels wat per jaar verskyn; ook die aantal bundels deur meer gevestigde digters. Net duskant die 20 per jaar die afgelope tyd. Bykans elke bundel word geresenseer op die koerante (en tydskrifste) se boekbladsye.
  • En met haar verjaarsdag op 17 Desember 2008 ontvang Marlise as verjaarsdaggeskenk bykans onbeperkte bandwydte by ‘n oorsese diensverkaffer van haar skoonseun. En sy besluit om ‘n webblad te begin ten einde die fees in September te adverteer; ‘n gelyknamige webblad wat amptelik op 28 April 2009 op die internet gevestig is …
  • Binne enkele dae besef ons dat dié webblad baie groter wil wees as wat ons aanvanklik beoog het; trouens, dat dit ons in staat stel om ‘n nuwe uitdaging aan te spreek: enersyds om die plaaslike poësiegemeenskap attent te maak op oorsese verwikkelinge en andersyds mee te help om die Afrikaanse digkuns ook aan oorsese poësieliefhebbers bekend te stel.

 

Om te doen wat jy toegelaat word om te doen.

Ons moes ‘n keuse maak, want belemmeringe ten opsigte van wat moontlik is en wat nie, het ons genoodsaak om bepaalde individue te kry om ons te help met die Versindaba-reëlings. Ons kon gewoon nie die fees, die webblad (en in my geval die boekwinkel) te midde van ander (persoonlike) komplikasies behartig nie. Ons kon egter niemand vind om die fees saam met ons te help beplan en reël nie. Uiteindelik het ons besluit om die organiseerders van die US Woordfees te nader met die oogmerk om die fees in sy geheel oor te neem en as aparte, verdere Woordfees-projek te bedryf. (Daarom dat die aanvanklike naam “Versindaba” behoue gebly het.)

In welke mate jy toegelaat word om te doen.

Danksy die US Woordfees is die Versindaba-fees se lewensduur (en impak) met twee jaar verleng; twee besonderse geleenthede wat die fees wat in 2005 te midde van soveel doemprofete begin is, op ‘n verhoog geplaas het waartoe ek en Marlise gewoon nie in staat sou kon wees nie, vanweë ons eie tekortkominge ten opsigte van infrastruktuur en befondsing.

Maar, liewe leser, die persoon wat ten slotte ‘n handeklap verdien, is uiteraard Marlise Joubert. Vir haar visie, vir haar toewyding, haar ywer. Vir dit wat sy so spontaan en op so besonderse manier vir soveel jare reeds aan mede-digters bied. Sonder om ooit eie belang of erkenning daarvoor te verwag; gesigloos, agter die skerms, toegewyd.

Soos dit ook die geval is met hierdie webblad.

Nie net omdat jy toegelaat word om te doen nie; ook omdat jy moet kan glo in dit wat moontlik is en bereid moet wees om opofferings daarvoor te maak.

Dit is immers so maklik om gal te braak, fout te vind en te kritiseer. Die vraag is egter: Wat plaas JY teenoor dit wat jy kritiseer? Wat is JY besig om te doen in die mate wat dit vir JOU gegun is?

Maar wag, ek dwaal af. Ten slotte salueer ek almal wat by die sewe Versindaba-poësiefeeste betrokke was; in welke hoedanigheid ook al. 

Wat ‘n wonderlike klompie jare was dit nie! Watter onvergeetlike, onherhaalbare geleenthede wat elkeen so uniek en totaal Don Quixote-agtig was.

Soos die Portugese bosvegters tydens die grensoorloë graag gesê het: A luta continua. Die stryd duur voort.

By wyse van groet plaas ek graag die slotparagrawe uit Nicol Stassen se inleiding tot die Versindaba 2010-geleentheidsbundel hieronder. Die volledige inleiding kan gelees word by Essays. (Maar kóóp tog die geleentheidsbundels; sommer die DVD óók. Hulle gaan versamelaarsitems word …)

***

Hoewel daar vier gevestigde uitgewers van Afrikaanse poësie is, is daar nie eers vier boekwinkels in die land wat ‘n gesaghebbende aantal Afrikaanse digbundels aanhou nie. Uitgewers sal dus kreatiewe oplossings vir hierdie gebrek moet vind.

Die entoesiasme wat die vorige vyf Versindabas vir Afrikaanse poësie geskep het, kan nouliks onderskat word. Daar is min twyfel dat die sesde Versindaba, vir die eerste keer onder die bekwame bestuur van Stellenbosch se Woordfees, op hierdie tradisie sal voortbou en selfs ‘n nog groter sukses daarvan sal maak.

Dit is egter so dat die uitgee van digbundels nog geen uitgewer of digter al buitensporig ryk gemaak het nie en dat hierdie probleme, in die afwesigheid van groot bemarkingsbegrotings, besonder kreatief aangepak sal moet word. Gelukkig het uitgewers van Afrikaanse poësie nog nooit vir uitdagings teruggedeins nie!

(Uit: Versindaba 2010: Inleiding, Nicol Stassen)

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Om vir ‘n fees totsiens te sê”

  1. Cas Vos :

    Louis en Marlise verdien ‘n ruiker van lof vir die ywer en toewyding waarmee hulle die Versindaba fees die afgelope jare bestuur het. Ook die ondersteuners van die fees, en al die deelnemers. Dit het ‘n vonk gelaat wat lig sal bly gee. Oor die toekoms kan ons maar net droom en gesigte sien. Dankie, Louis en Marlise!

  2. Louis :

    Regstelling. Met die herlees van my stuk hierbo besef ek dat dit die indruk wek dat die digkuns se blomtyd die afgelope jare deur my vir Versindaba se rekening geneem word. Nie net sal só ‘n aanname arrogant wees nie, maar gewoon ook nie waar nie. Baie instansies, inisiatiewe en ander rolspelers het almal daartoe bygedra dat die digkuns vandag beter daaraan toe is as wat dit tien jaar gelede die geval was. Hierin het inisiatiewe soos Woordfees, LitNet en vele ander ‘n beduidende rol gespeel.
    Waarskynlik is die Versindaba-poësiefees se enigste prestasie dat dit die digters wat sedert 2005 gepubliseer het, byeen kon bring ten einde aandag op hulle te fokus; iets wat direk tot die ontstaan van hierdie webblad aanleiding gegee het, byvoorbeeld.
    Nietemin – die essensie van my stuk hierbo is gewoon om met entoesiasme en waardering terug te kyk op ‘n wonderlike avontuur wat weens bepaalde (gunstige) omstandighede vir my en Marlise gegun was om te onderneem.
    Danksy Woordfees het dié avontuur ‘n verdere twee jaar geduur … En watter pronkgeleenthede was daardie twee feeste nie!

  3. Evette Weyers :

    Louis en Marlise-
    Julle is inderdaad kuns of dig-aktiviste van walvis formaat! Baie dankie vir al julle vindingryke insiatiewe, werk, deeursettingsvermoë en uitvoering daarvan! Mag die Versindaba en Versindaba digbundels voortleef en jong, veteraan en gevestigde digters se werk steeds wyd bekendstel.
    BAIE BAIE DANKIE AAN JULLE. ONS SAL ‘N NUWE STERRESTELSEL MOET RAAKSIEN OM NA JULLE TE VERNOEM.
    evette

  4. Johann Lodewyk Marais :

    “Ons sterf aan hierdie tyd” (N.P. van Wyk Louw, “Germanicus’).

  •