Digters uitgenooi na Tuin van Digters
Die Breytenbach Sentrum bied op 14 September 2013 die tweede Tuin van Digters op Wellington, waartydens ’n verskeidenheid digters sal kom gesels en van hul nuutste werke voorlees. In een van die sessies word alle digters genooi om te reageer op ’n gedig van Marlene van Niekerk.
Vroeër vanjaar het Van Niekerk die gedig “Mud School” aan die basiese minister van onderwys, Angie Motshekga, geskryf wat in die Mail & Guardian gepubliseer is. Dié gedig volg nadat afgevaardiges – waaronder die skrywer Njabulo Ndebele en die aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk, Thabo Makgoba – die haglike omstandighede van die sogenaamde modderskole in die Oos-Kaap beleef het. In die Sunday Independent van 12 Mei 2013 nooi Makgoba die publiek uit om druk te plaas op Motshekga en die regering om dringend aandag te skenk aan die verwaarlosing van ons skole.
Die Breytenbach Sentrum nooi nou alle digters uit om op Van Niekerk se onderstaande gedig te reageer en om dan hul gedigte van saam-protesteer, of dan teenkanting, te kom voorlees. Belangstellendes moet teen 2 September 2013 ’n gedig e-pos na Theo Kemp by theo@breytenbachsentrum.co.za om te kan deelneem. Die Tuin van Digters sluit nie net voorlesings in van digters soos Wilma Stockenström, Clinton V du Plessis en Tom Gouws nie, maar ook optredes deur Hemelbesem, ’n woordkunsprogram, Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte met Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Nicole Holm, Waldemar Schultz en Kyle Seconna. Die dag sluit af met musiek deur Gert Vlok Nel, Laurinda Hofmeyr, Albert Frost, Schalk Joubert, Nicole Holm en Vernon Swart.
Die volledige program is beskikbaar by 021-8732786 of per e-pos info@breytenbachsentrum.co.za.
Hier heel onder verskyn die program ook.
Mud school
(For the children of the Eastern Cape, twenty years after Freedom)
Minister Motshekga, your name is mud. Let’s see
what we can do with you. We can fire you and make
of you a brick, and add you to our school, maybe
as the corner stone. In rain you’ll turn into a turd.
We’ll skip over you and laugh. We can smear
you thickly on our walls and watch you crumble
in the summer wind, we’ll use your flakes to learn
subtraction until there is nothing left to reckon with.
We can bake a cake with you and pretend we ‘re eating
lunch, or mould you to a wafer to serve us as a thin,
melting sacrament. We can press you in a frame
to form a wet slate and write this poem on you
with a twig and send the president a truck of sun-
baked tiles to read until he weeps. But maybe he
will only grin and say, why complain? Look where I
have gotten to with only standard six, I hold an honorary
doctorate from Beijing! Mrs Mud, we could erect for you
a headstone in every school and every morning march
around it chanting, till it falls down like the walls of Jericho.
But will it help if the element is air, or song, or pristine hope?
Mud is a multi-purpose substance, Minister, we can fling
it in your face, if you would show it to us, but you rarely come.
A grateful word for rhyming, too, this mud that is your name,
for chewing on, like a dumb beast on its cud, until one day –
having baked, skipped, eaten, written, reckoned,
ruminated, marched, prayed and chanted in its medium,
inhabited its frailty and studied well its force –we mix our blood
in it, and turn it into rock, and fan it into flame and furl
it into smoke and shout and tread under our feet the very buds
of spring, the things you should have nurtured,
the flowers of fresh learning, that we should have been.
– Marlene van Niekerk
TUIN VAN DIGTERS 14 SEPTEMBER 2013
BREYTENBACH SENTRUM
Program
Woord & beeld – 30 x 30
Met kunswerke deur Hanneke Benade, Willie Bester Hardy Botha, Anton Brink, Estelle Marais, Keith Dietrich, Jan du Toit, Sharle Mathews, Diane McLean, Henk Serfontein, Jaco Sieberhagen, Annette Snickers, Sue Tatham, Pienaar van Niekerk, Shany van den Berg, Clementia van der Walt en Ingrid Winterbach. Met hierdie groepsuitstalling is uiteenlopende kunstenaars gevra om hul gunsteling Afrikaanse gedigte op ’n 30 x 30-doek uit te beeld. Die uitstalling duur tot 13 Oktober 2013.
Breytenbach Galery. 9:00 – 17:00. Gratis.
Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte
Samestelling en spelleiding deur Juanita Swanepoel. Met Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Nicole Holm, Waldemar Schultz en Kyle Seconna. Leserskring, in samewerking met By en RSG, het ‘n bloemlesing en CD bekendgestel met die 100 gewildste Afrikaanse gedigte, soos deur ‘n openbare stemming gekies. Met hierdie aanbieding verpak ‘n bekroonde geselskap al dié gunsteling gedigte in ‘n reis deur die Afrikaanse poësie-skatkis. Van Jonker tot Krog, Totius tot Letoit, Opperman tot Small, Marais tot Eitemail.
Bôrdienghuis Teater, 9:30, 75 min. R60. Bespreek by 021-8732786, info@breytenbachsentrum.co.za
In die skadu van soveel bome
Met Hennie Nortjé
In Hennie Nortjé se debuutbundel, In die skadu van soveel bome, waarmee hy met die Eugène Marais-prys bekroon is, word ’n fyn ewewig gehandhaaf tussen emosie en intellek in weloorwoë, delikate woordkuns. Dit is verstegnies vaardige en deernisvolle gedigte waarin die bome van Suid-Afrika beelde word vir menswees en psigiese ervarings. Fyn natuurwaarneming, trefseker woordkeuses en speelse humor, ook satire, maak van die bundel ’n boeiende verkenning van die menslike psige en ons verhouding tot die natuur. Hennie gesels oor sy reis op soek na die uitsonderlikste bome en gedigte.
Onderste lokaal, 11:00. 45 min. Gratis.
Rangeer
Met Clinton V du Plessis & Erns Grundling
Rangeer is Clinton V. du Plessis se sewende bundel – en die gedigte hierin beweeg soos ’n stoomtrein deur die verskillende landskappe: of dit nou oor ’n politieke wildernis wil vertel, oor die oppervlakkige moderne stadsbestaan of die leë behoeftes van die vlees. En ook in die saamgesels met die Afrikaanse letterkunde herken jy jouself op verskillende stasies – ’n Noupoort, ’n Kookhuis, ’n De Aar.
Breytenbach Galery. 12:00. 30 min. Gratis.
Taalportret – Van die Kaap tot die Karoo
Samestelling en regie: Sophia Passerini.
Artistieke ontwerp: Marinda du Toit.
Met die Breytenbach Sentrum se drama-studente: Glemorene van Rooyen, Gretchen Arendse, Edroy Kyster, Jamie-Leigh Ephraim, Justine Krieling, Davon Nontas, Hizel Riffel, Jonathan Fransman, Joslin Arendse, Raymile Small, Mané-Lee du Plessis, Shar-Nell Swarts, Hildry Jacobs, Ishwill Jacobs, Chimene Jacobs, Shu-Aib Isaacs, Eunique Agenbach, Chante van der Berg, Ebrahim Steenberg, Ashlynn Vaughan en Jessica Titus. Ons pragtige land, sy herkoms en uiteenlopende karakters word uitgebeeld deur middel van die digkuns, sketse en sang. Bekende skrywers se werk word voorgedra wat nie net heimwee sal oproep nie, maar ook die voorreg van Afrikaans-wees vier.
Vierkant. 12:30. 30 min. Gratis.
Leliebloem se digters
Onder leiding van Thérèse Hulme en Renée van den Berg.
In 2012 het die Breytenbach Sentrum, in samewerking met die Music Therapy Community Clinic (MTCC), ‘n Poësie en Liriek- projek geborg as deel van die jeugprogram van die Leliebloem Jeugsentrum in Athlone. Hierdie groepie jong digters het sedertdien ander geïnspireer om ook te begin skryf! Vanjaar neem elf jong vroulike digters van verskeie jeugsentrums op die Kaapse Vlakte deel in hierdie program van gedigte-voorlesings en sang, begelei deur marimba, kitaar, trom en klavier.
Bôrdienghuis Teater. 13:00. 45 min. Gratis.
Heuningland
Met Tom Gouws en Willem Pretorius
Tydens hierdie gesprek sal die landskapkunstenaar, Willem Pretorius, en die digter, Tom Gouws, ons inlig oor hulle simbiotiese werkservaring met die skep van Heuningland.Tom sal vertel hoe die skildery hom prikkkel om pen op te tel en Willem sal vertel hoe die gedig hom inspireer om kwas op doek te sit. Besigtig gerus ook die meegaande uitstalling.
Breytenbach Galery. 13:30. 45 min. Gratis.
Hemelbesem & die Wellington-digters
Met Hemelbesem en digter-voorlesings deur Edroy Kyster, Fiona Fertyn, Merle Dannhouse, Theresa Carstens, Nazlee Jeppie, Gaireyah Fredericks, Annelize Laban en Madelein Adams. Hemelbesem is een van die gewildste en produktiefste Hip-Hop kunstenaars in Afrikaans. Met sy skerp lirieke en aansteeklike ritmes sal hy sorg dat jy nie vir lank stilsit nie. Sy optrede word voorafgegaan deur voorlesings deur die opkomende digters in ons skryfskool, wat deur die ATKV geborg word, en aangebied word deur Diana Ferrus.
Vierkant. 14:00. 60 min. Gratis.
Hierdie mens – Wilma Stockenström
Met Joan Hambidge en Wilma Stockenström
Sedert Spesmase in 1999, is Hierdie mens Wilma Stockenström se eerste digbundel in 14 jaar. Die toonaard is verfrissend speels en lig, die verse meesal kort en gestroop tot die essensie. Dis toeganklike verse, gekenmerk deur ’n ironiese inslag, en fokus op momentopnames van die later lewe. Louise Viljoen skryf oor hierdie verse dat dit “so konkreet is dat jy voel of jy aan hulle kan vat, so bevatlik in hul eenvoud dat jy hulle byna intuïtief verstaan; tog is hulle gevul met ’n gedagtewêreld so ruim soos die heelal.” Joan Hambidge gesels inleidend oor Wilma Stockenström se gedigte, terwyl Wilma van haar gedigte sal voorlees.
Bôrdienghuis Teater, 15:30. 30 min. Gratis.
Nuwe stemme 5
Met Riana Barnard, Loftus Marais; voorlesings deur Desmond Painter, Joan-Mari Barendse en Gerhard Bothma.
Die Nuwe stemme-reeks is ’n opwindende projek waarmee Tafelberg-Uitgewers publikasiegeleenthede skep vir jong digters. Die bundelreeks het met die verloop van slegs ’n paar jaar reeds ’n instelling geword. Vanjaar is daar opnuut bekende en opwindende name opgeneem. Kom luister na hierdie nuwe stemme se verse en hoe die samestellingsproses van die bundel gewerk het.
Breytenbach galery. 16:00. 45 min.
Beste Angie
Marlene van Niekerk skryf die gedig “Mud School” wat vroeër vanjaar in die Mail & Guardian gepubliseer is. In hierdie gedig gooi sy modder na die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, oor die verwaarlosing van ons land se skoolstelsel. Ons nooi alle digters uit om op Van Niekerk se gedig te reageer en om dan hul gedigte van saam-protesteer, of dan tee-praat, te kom voorlees. Indien jy ’n gedig op die hart het, kontak Theo Kemp by theo@breytenbachsentrum.co.za Die gedig “Mud School” is ook op navraag beskikbaar.
Breytenbach Galery. 17:00. 45 min. Gratis.
Onherroeplik
Met Gert Vlok Nel, Laurinda Hofmeyr, Albert Frost, Schalk Joubert, Nicole Holm en Vernon Swart. Voorlesings deur o.a. Carina Stander, Clinton V du Plessis, Diana Ferrus, Loftus Marais en Marius Crous. Die enigmatiese Gert Vlok Nel se debuutbundel, Om te lewe is onnatuurlik, en sy eerste CD, om beaufort wes se beautiful woorde te vergeet, kan tereg beskou word as ’n belangrike baken in die Afrikaanse digkuns en musiek. Na bykans 14 jare se maer jare, verras Gert Vlok Nel met ’n tweede album, Onherroeplik. Hy tree by die Tuin van Digters op saam met die volle span musici wat aan die CD se opname gewerk het. ’n Uitsonderlike ervaring wat aangevul word met digters-voorlesings.
Vierkant. 18:30. 90 min. R100. Bespreek by 021-8732786, info@breytenbachsentrum.co.za
Kuier die hele dag
Al die lokale is op die Breytenbach Sentrum-perseel. Tussendeur die sessies wil ons jou graag uitnooi om saam te kuier en ons te ondersteun:
- The Book Traders bied die beste tweedehandse en versamelaarswerke teen billike pryse.
- Protea Boekwinkel is spesiaal hier om al die digters se nuutste werke, asook CD’s, te verkoop.
- Loer in by die kunswinkel, Kardoes, maak ’n draai by die Kreasie Stasie-kunsskool en die pottebakkerystudio, Earth Butter.
- Besigtig die lapkunswerke in die digterstuin, gemaak deur ons tekstiel- en naaldwerkstudente en koop van hul kreatiewe boeksakke.
- Die Bôrdienghuis Teater se kontantkroeg is die hele dag beskikbaar en sal uitgesoekte kosse verkoop. En moenie vergeet om tee te kom drink in die T-aansluiting nie.
Vir meer inligting
Kontak die Breytenbach Sentrum: Burgerstraat 14 (h/v Burger en Malherbe, info@breytenbachsentrum.co.za, 021-8732786. Die program is onderhewig aan veranderinge wat op ons webwerf www.breytenbachsentrum.co.za aangebring sal word.
Donateurs
ATKV, Dagbreek Trust, Drakenstein Munisipaliteit (wyk 18), Het Jan Marais Nationale Fonds, IDT, LW Hiemstra Trust, Naspers Voorsittersfonds.