Die Heilige Berouvolle Rower (oorl. 33 n.C.)
Was dit die spykers wat deur pols en enkels dring
of jou makker se geworstel en wrewel en gevloek
wat skielik die skrander en skrynende insig bring,
of die bloedbevlekte blaaie van jou lewensboek?
Was dit die oplig vanaf die aarde wat perspektief
verleen, die gestrekte arms van ‘n swygsame man,
of die géselspore en doringkrans, ootmoedige dief,
wat die hardnekkige drang na selfgelding wan?
Wat noop jou om na die Een langs jou uit te reik
wanneer die dood steeds dower in jou ore druis,
sodat jy roep: “Dink aan my, Here, in u koninkryk”?
Heilige rower, wat ternouernood die saligheid steel,
bid dat ook ek wat hang aan ‘n hartstog se kruis
saam met die leeu en lam voor sy voete mag speel.
*
Die Heilige Paulus van Thebe (oorl. 341 n.C.)
– Feesdag 15 Januarie
Voor die vervolgers kom, laat Paulus alles vaar,
vlug dae lank al hoe dieper in die klipperwoestyn,
‘n stoffie wat oor die vlaktes dwarrel tot alles draai
en hy, Goddank, waar die rante purper, rosig skyn,
‘n toevlug vind by ‘n palm, grot en kabbelende aar.
Daar waar dit dadels drup en ‘n voorsienige kraai
elke dag sy rantsoen van ‘n halwe brood bring,
word sy hart ‘n ligtende spelonk, ‘n glinsterfontein,
en hy ‘n rysige, rankende stam wat dankliedere sing,
wanneer daar saans ‘n bries deur sy wit hare waai.
Maar as die sterre soos maagde dans in hul kring
en die sekelmaan ‘n swart hemel ploeg met sy skaar,
is dit hy wat kruis en dwars ‘n kleed van palmblaar
vleg tot die Daeraad alle duister gedagtes verdring.
© Jacobus van der Riet / 2014