Vier volmane
Wit
Die naglug is ʼn stola, ʼn gladde strook
fluweel; die maan is daaraan vasgesteek,
ʼn perlemoenkamee.
Geel
Dié liggeel lelie bly oop in die nag, dryf
op ʼn Monet-erige visdam.
Blou
1883, Krakatoa. Agter die kantgordyn as
hang die Delftse bord ongestoord.
Rooi
Die naghemel buig oor ons: ’n blink, donker
blaar. Nou en dan, as ons gelukkig is, sien ons
die groot lieweheersbesie daar.
© Elmarie Viljoen-Massyn, 2022