Komkommer
Die komkommer het nie bloed nie,
wel binnegoed soos nat, fyn glas,
pitte soos skerfies ivoor.
Die komkommer het ʼn dik vel,
liggies gestekel om sy koelte
koel te hou.
Die komkommer is ʼn lang, groen keel, in ringe ge-
sny deur my. Sy hele stem ruik die kombuis vol:
95% water, ʼn skeut koolhidraat en proteïen,
die glasige swelling van ʼn binnekant,
sonligraaisels in die skadu’s van groot blare,
lank gelede toe dit bloeityd was.
© Elmarie Viljoen-Massyn