Slangdans
Kom, neem my saam na die Fundudzimeer,
omgewe deur die Thuthe Vondowoud
en gevoed deur die Mutalerivier.
Neem my na waar die groot, wit krokodil,
die reuseslang, die god van vrugbaarheid,
en die weerlig van die vuurvoël hou.
Kom, neem my saam na die Fundudzimeer
met al sy geheimenisse en dans
verruk vir my die domba van die slang.
Neem my in hierdie maanverligte nag
wanneer die ngoma tot die ligdag dreun –
breek uit die kronkels tot in my arms.
Kom, neem my saam na die Fundudzimeer,
want liefde vir jou is my bestemming
en die misterie van hierdie lewe.
© Johann Lodewyk Marais, 2022