Creatio ex nihilo
Dis alles kringlope van stof na stof
uit organismes wat die sonsopkoms
soos blinde minnaars in die voordag ken.
Die selestiële muezzin roep vergeefs
in bundels ongebuigde naklanke
wat in die oneindes die eggo’s word
van krete in die kosmiese gety.
En ons, die weerloses, omkring die as
van wentelinge in ons enigheid:
omdat ons alles is, volmaak alleen
geskape as die embrio’s van stof.
Ons is die ewening van elke ster
wat snags ’n lofrede in pulse stuur;
die bedoeïene wat die seile span
en na die episentrum navigeer
deur die meridiane langs ons vaart.
Maar Carl, ek soek die ewigheid se stof:
die fyngestroopte DNS wat ons voltooi
in sterrelande waar die dooies weer
die vars lug van die oerbewussyn proe
en opkyk om die liefde in ons oë
in sterte van komete te herken.
Ek hoop ek vind jou êrens onderweg.
© Mellet Moll, 2022