my saturnus
hoe kan ek jou dan vertel
dat ek ook sien wat jy kan sien
dat die wit kimme van jou nag ook myne is
en dat die umbra’s van gestorwe sterre
ook oor my tussenwêreld waak
hoe kan ek jou dan vertel
dat jou versluierde planeet
ook my versluierde planeet geword het
en dat die ver komete nogmaals
in hul verbyvlug oor ons albei sterte kry
want dit is ons wat die kuns van die duende
teen die nag se koepel projekteer –
die wandelaar van friedrich
wat in die onrus van ons harte skuil
as ons hunkerend na rusplek soek
dit is ons wat met die spoke loop
en die melancholie van blake en dürer
in die berge en die wolke
en die braaklande van eliot herken
as ’n klankbaan van preisner speel
hoe kan ek jou dan vertel
dat ek voor dieselfde binne-altaar buig
in ‘n film van kieslofski of angelopoulos
en die anatomie van weemoed
in die ringdans van saturnus sien
as ek en jy en paul verlaine
die nag met glasige oë instaar
© Mellet Moll, 2022
Baie dankie, Joan.
Dankie vir die mooi kommentaar, Bester.
Angrypend en slim.
Vandat ek op hierdie kus van Versindaba kom vertoef het, is die een van die mooistes. Dit vang die hemelse dog aardse feilbaarheid vas. Melancholie, ja, maar ook ‘n jubeling van ‘n menslike mensheid. Geluk daarmee!