Te velde
“Hoe het hy dit ervaar?” vra ek die prof
aan ’n tafel met twee bottels rooiwyn.
“Hoe het hy op die plaas gedink dié jaar?”
Ek vertel van die huis tussen bloekoms
lank terug waar oupa John Bull gereed was
om sy perd op te saal en te gaan veg
teen die Britse aantog van die see af,
gewillig om sy Mauser op te neem
en vir die Vrijstaat se vryheid te sterf.
Ek sien die bloedjong man op die foto’s
in die kamp naby Pietermaritzburg
nadat hy die eed van trou sou teken.
Die prof huiwer asof hy nog nadink,
my kans gee om aan meer vrae te dink
en sê dan: “Onthou, dit was ’n ander tyd.”
© Johann Lodewykk Marais