Ha Longbaai
(In Viëtnamees: Baai van die neergedaalde draak)
Die gode het drake gestuur
om dié land te bewaak. Kalksteenvingers
het voor indringerskepe verskyn
en nou vier die drake hul oorwinning
tussen sluimerstil eilande.
Hoor hoe stilte oor swaar gesoute
water roep terwyl ons in Mosesmandjies
sjliep-sjlap-sjlop
in die afwesigheid van riete
tussen rotsformasies roei.
O, om vir ewig in hierdie
doofstomstilte te kan leef.
Die water kring stemloos
om ons uit en in my
het stomheid saad geskiet
en tot ’n moederdraak gegroei.
Ek het die stilte in my nog nooit
met so ‘n heilige vuurtong
hoor praat nie.
© Marthe McLoud, 2022