my saturnus v
Only one thing remained reachable, close and secure amid all losses: language. Yes, language. In spite of everything, it remained secure against loss. But it had to go through its own lack of answers, through terrifying silence, through the thousand darknesses of murderous speech. It went through. It gave me no words for what was happening, but went through it. Went through and could resurface, enriched by it all. – Paul Celan
wanneer daar geen dood meer is nie
en ons die swart melk van dagbreek drink
tot in die namiddag totdat die nagtelike ure
ballades in die vlugtigheid van gister word
totdat die honde ophou blaf die grafgrawers
uiteindelik gaan slaap en die oorlewendes
met slange in die vergetelheid bly dans
op hierdie eensame plek waar die dood
’n fuga in die afgryse van die geträumten is
en niks waar is nie maar als toelaatbaar is
waar selfs die tyd sy eie tyd opneem en ons
gebroke ons die pas markeer soos net die hand
wat aanhou skryf die witskrif die verweerskrif
die getuigskrif van die taal van uitwissing
van margarete und sulamith van nelly sachs
und hermann lenz van ingeborg und meine gisèle
onder ’n spookson waaruit die lig gedwonge skyn
uit hierdie troebel water van die seine waar daar
oplaas ’n rusplek vir die gebrokenes sou wag
omdat daar geen dood meer is nie nie in berlyn
of boekarest of ’n kerkhof in ’n wolkbank nie
wanneer daar geen dood meer is nie
sal ons buite tussen die sterre staan en wag
vir die oneindigheid om ons weg te voer
na ’n halte waar die lugruim skoon en helder is
en ons die ringe van saturnus kan herken
sonder dat die melancholie van voorheen
gedemp word deur die nederige stem van hoop
wat in die cimetière de thiais bly droom
© Mellet Moll, 2022