Kudde
Ons veerboot oor die straat van Gibraltar
aan die suidkus van Spanje na Marokko
saam met hennabeskilderde vroue
na die medina en souk van Fez.
Daar volg ons die gids
soos skape, ons oë stip gerig
op sy wit vlaggie van oorlewing:
hierdie moederdoolhof vang verlore kinders.
Ons raak nie, smaak nie, roer nie aan nie
rol ons oë verkleurmannetjierond
en vermy oogkontak, te bang ’n smous
volg ons tot by die hotel.
Die reuk van donkiemis en lamtagine
talm in die lug ons beur terug
verby verdiepinggelaaide donkies,
slangbesweerders en Berbermatte.
Laatmiddag breek ek van die trop weg
en spiraal na binne. Eenling duik ek
deur die hotelswembad se waterskaduwee
die reuk van doolhoofsweet nog vars in my geheue.
© Marthé McLoud, 2023