Resensie: “verveertaal” deur Ilse van Staden. Imprimatur, 2023
Resensent: Marlies Taljard
Ilse van Staden se nuwe bundel, verveertaal het pas by Imprimatur verskyn. Dit is ʼn waardige toevoeging tot haar poëtiese oeuvre. In 2003 debuteer sy met Watervlerk waarvoor sy sowel die Eugène Marais-prys (2004) as die Ingrid Jonker-prys (2005) ontvang. In 2008 volg Fluisterklip, in 2009 Die dood is ʼn mooi blou blom en in 2016 Waar die oog van stil word.
Die titel van die nuwe bundel, verveertaal, is ʼn samestelling waarin verskeie woorde vervat is: veer, verveer en taal. Op die voorplatskildery deur die digter self word ʼn ibis uitgebeeld wat staan op ʼn basis van vere en letters in spieëlskrif. Links hang ʼn vis aan ʼn lyn. Sowel die titel met sy uiteenlopende interpretasiemoontlikhede as die visuele aspekte van die voorplatskildery moet in berekening gebring word by die interpretasie van die bundel. Voëls en visse kom van die begin af dikwels in Van Staden se poësie voor en maak in hierdie bundel weer veelvuldige verskynings.
In die antieke Egiptiese kultuur was die ibis byvoorbeeld die simbool vir die god Thoth wat verbind word met kennis en die skryfkuns, luister en stilte. Voëls oor die algemeen is dikwels simbolies vir die siel. Misterie, vryheid, hoop en vrede is toestande wat deur voëls gesimboliseer word. Die bekendste vissimbool is Ichtus wat die liggaam van Christus versinnebeeld en wat verbind word met bevryding en spirituele versterking. Dit is lank voor die Christelike era reeds beskou as heilige voedsel wat as offerandes aangebied is en vir mense verbode was. Visse word deur die eeue verbind aan vryheid en bevryding, maar ook balans en stabiliteit – beslis ʼn kenmerk van Van Staden se gedigte in hierdie bundel. In antieke kulture was die vissimbool soos dit in Christelike simboliek gebruik word, ʼn simbool van die vrou wat die vagina en die maandelikse siklus voorgestel het. Mense wat onder die vissimbool (Pisces) gebore is, word beskou as wispelturig en kreatief, sensitief en intuïtief.
Dit behoort uit die voorafgaande duidelik te wees hoe die voorblad lesers reeds op sekere aspekte wat in die digbundel belangrik is, instel. Die titel is ʼn verdere sleutel tot die belangrikste temas wat in die bundel voorkom. Om te “verveer” is ʼn natuurlike verskynsel by voëls om eenmaal per jaar die ou vere met ʼn nuwe verekleed te vervang. In poëtiese terme sou mens hier kon dink aan verskillende vorme van vernuwing – hetsy in styl, tematiek of selfs (digterlike) identiteit. Ons sal sien dat dit ʼn belangrike tema in “verveertaal” uitmaak. Die “veer” is natuurlik (veral as dit by letterkunde kom) die skryfinstrument. Skryf en Ars Poëtika is belangrike temas in die bundel, net soos “taal” wat natuurlik direk met skryf en die skryfproses verband hou. “Taal” as woord of deel van ʼn samestelling kom in ten minste sewe gedigtitels voor en woorde wat daarmee saamgaan, soos “verhaal”, “skrif”, “gedig”, “woord” en “praat”, kom in ʼn verdere agt gedigtitels voor: “ver taal” (p.9); “taalkatedraal” (p.22); “skriptorium” (p.25); “woord” (p.16); “lyfskrif” (p.49) is maar enkeles.
Vir ʼn digter wat al sedert 2012 in Australië woon, is Afrikaans as taal in die vreemde uiteraard problematies en uit verskeie gedigte blyk die digter se worsteling met die taal wat ʼn deel van haar identiteit is en inderdaad soms haar inkommerstatus en vreemdheid in ʼn nuwe omgewing metafories verwoord. Die aanleer van ʼn nuwe omgangstaal in die vreemde en die aflegging van die ou bekende taal is inderdaad ʼn proses van ververing wat, soos dit uit verskeie gedigte blyk, nie eenvoudig óf onproblematies is nie. Die inleidingsgedig en die slotgedig sluit ten nouste by mekaar aan in dié verband:
ver taal
ver in die wêreld
oor die see
ver oor die aardbol uitgetree
waar talle tale tonglepellê
spruit sprokies
word sprak gesprook totdat
anderstaliges eendag
dié taal gebroke aftelsê:
A is vir Afrikaans.
(p.9)
aftelrympie vir immigrante
as A maar vir appels was,
was paradyse eenvoudig
tóg, hopelik praat jy nog Afrikaans
en ken jy woorde soos bliksem en buidel
alles aards en eg, geen Made-in-China-etikette
verstaan jy dalk die Aussie-slang en dialekte
(…)
ex afrika – uit soveel wat onbekend is
is dalk meer as ʼn ydele hoop te haal:
die uiteindelike oorlewing, van a tot z,
van ʼn slapelose taal
(p.62)
Die bostaande gedig (die slotgedig) is ʼn opnoem van Afrikaanse woorde wat die digter koester en, te midde van die verwarrende tale wat in Australië gehoor word, nie wil vergeet nie. Soos kledingstukke van ʼn afgestorwene waaraan die reuk nog vaagweg kleef … Ook op ander plekke in die bundel kry ek die gevoel dat die digter doelbewus Afrikaanse woorde koester as ʼn tipe toonleer-oefening “ín teen die groot vergeet” – net om in oefening te bly. Enkele Engelse gedigte wat ook in die bundel opgeneem word, is tekens daarvan dat die “verveerproses” aan die gang is.
Woorde is een van die belangrike temas in verveertaal. Veral opmerklik is Van Staden se klankryke woordgebruik, soos in “vinnige skets van ʼn bromvoël” (p.18), “op telefoondrade” (p.28) “to feather” (p.32) en “tarentaal” (p.10):
die poelpetaat
se spikkelkode wit op swart
ʼn wilde dinosaurushoender
wat kekkelpraat
in Morsekode pik-pik-pik-pêk
(…)
In ʼn ars poëtica-gedig, “instruksies vir die vou van ʼn gedig” (p.24) skryf die digter: “ … woorde het soveel kante soos wat jy wil hê”. Woorde is die boustof van gedigte:
ʼn mens kan gedigte op boksies skryf
die poësie as argitektuur bedryf”.
(p.24)
Dit is interessant dat die digter hier na die “bou” van gedigte verwys, want wat ook opval in die bundel is die fyn gestruktureerdheid van letterlik elke gedig. In “skriptorium” (p.25) word eweneens verwys na die maak (bou) van gedigte – hoedat “ons” wat die “grondteks” is – “die rou feite en kerngegewe” – deur skribas in poësie omskep word. Die maak van gedigte is dus die werk van vakmanne. Dit verg aandagtige besinning, fyn afwerking, eindelose herskrywing en die volg van “instruksies” of reëls. Poësie kom deur die “tong en taal” tot lewe en ʼn kardinale aspek daarvan is dat dit uit palimpses bestaan, dus gelaagd, meervlakkig, ambivalent en meerduidig is, maar ook deur vorige gedigte onderlê word. Dit kan ons sien in verwysings na ander digters – T.T. Cloete in “oopooggebed by Sondagmiddagete” (p.47) en “lyfskrif” (p.49):
“… want in oog en mond en dy
is duisendmaal meer poësie
as in lewer, eelt of fluim”.
N.P. van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland” is die grondstof vir “vier gebede by seegetye in die onderland” (p.40) en D.J. Opperman se “Te klip om te boom” vind neerslag in “om te (t)aal” (p.35).
Ingebed in die woord “verveer” is verlies – in hierdie bundel ook soms die verlies van ʼn vorige bestaan, van geborgenhede en sekerhede, soos in die gedig “leë kou” (p.16) waarvan die slotreëls lui:
soms hink ʼn noot nog woordvas voort
eggo’s van stamelende sinne sterf af
en in die tralielig pik hoopvol ʼn oog
na iets wat lyk soos krummels brood
Samevattend: verveertaal is ʼn bundel waarin élke gedig sekuur en presies afgewerk is na inhoud én vorm. Die gedigte behandel, benewens die vind van ʼn eie, nuwe identiteit, ook ander universele temas soos verlies, die onmag om emosies te verwoord, buitestanderskap, verlange na ʼn onagterhaalbare verlede en die vreugde van woorde wat ons gegewe is. Die hand van ʼn kundige eindredakteur is duidelik te bespeur. Die digter het beslis streng dissipline toegepas in die seleksie van gedigte, want daar is nie – soos ons tans alte dikwels sien – ʼn oordaad gedigte waarvan baie onafgewerk bly nie. Sou ʼn mens kritiek móét uitspreek, sou ek die gebrek aan tematiese en strukturele variasie kon noem. Bygesê: minimalisme is iets wat tans in die Afrikaanse digkuns ontbreek en hier ontsier dit nie die eindproduk nie. Ilse van Staden het, soos ons van haar verwag, hier ʼn bundel gelewer wat uiters leesbaar is vir professionele lesers én lesers wat vir genot lees. Koop die bundel! Jy sal nie spyt wees nie!