Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 December 202310 December 2023

Ope Brief: ‘n Professionele liggaam vir literatore?

 

Selfs vir iemand soos ek wat sosiale media so ver as moontlik vermy, het dit die afgelope tyd duidelik geword dat daar weer eens – soos so dikwels vantevore – vuriglik gedebatteer word oor wie mag resenseer en wie nie. Eintlik ʼn futiele speletjie, want die afgelope dekades het dié debat al tot vervelens toe gewoed en niks is daardeur bereik nie. Die debat het hierdie jaar voortgespruit uit ʼn artikel van Nini Bennett-Moll op Versindaba https://versindaba.co.za/2023/11/24/nini-bennett-moll-wanneer-bemarking-paradeer-as-literere-kritiek/  en woed blykbaar veral op Facebook (dit sê ook al byna alles!) LitNet het ook nou ernstig tot die debat toegetree. Ek het nie tyd of lus om weereens die gure debat in besonderhede mee te maak nie, veral omdat ek reeds al die “argumente” en beledigings van die verskillende belangegroepe ken, maar ook omdat geen konkrete oplossings gebied word nie en die vlak van redenasie oor die algemeen ʼn druippunt verdien. Ek het wel opgelet dat emosies oorloop, mense hulleself en andere “literatore”, “letterkundiges”, “resensente” en “literêre krititici” noem wat dit streng gesproke nie is nie en dat menings as feite aangebied word asof dit uit die mode gaan. Min konkrete redenasies kom voor (ek sluit mense soos Willie Burger – op LitNet – hierby uit). Die beledigings, aannames en insinuasies wat rondgegooi word, is werklik onsmaaklik, maar tipies Facebook. Dit is ook duidelik dat dié “debat” deur verskeie partye aangeblaas word en nie die genade van ʼn stil dood gegun word nie. Dat mense wat voorgee om professioneel te wees, tot so ʼn laagtepunt kan daal, verstom my. Daar is egter hoop.

Eerstens my eie standpunt wat ek al by herhaling oor die jare op verskillende forums gestel het: Dit is ʼn kriminele oortreding as iemand voorgee om ʼn dokter, ʼn apteker, ʼn ingenieur, ʼn prokureur, ʼn onderwyser, ʼn chef, ʼn elektrisiën, ʼn loodgieter of ʼn stadsbeplanner te wees en as sodanig uitsette lewer wat slegs deur lede van die betrokke professie gelewer mag word of om as sodanige professionele persoon te praktiseer of om jouself as sodanig te adverteer. Dus: As ek voorgee om ʼn dokter te wees en ʼn voorskrif vir ʼn pasiënt uitskryf, kan ek tronk toe gaan vir die oortreding. Ek kan egter as leek iemand van regsadvies bedien (goed of verdoemend) solank ek dit duidelik stel dat ek nie ʼn prokureur of ʼn advokaat is nie. Ek mag ook ʼn lekkende kraan in my huis of in my buurman se huis regmaak, maar moet myself dan nie as “loodgieter” uitgee nie. Enige professionele persoon moet ʼn akademiese kwalifikasie behaal om ʼn bepaalde beroepsnaam te mag gebruik. Jy moet byvoorbeeld ʼn MBChB-graad hê om jouself ʼn dokter te noem.

In die literêre bedryf is dit egter heel anders: enige Jan Rap en sy maat wil en KAN homself ʼn letterkundige, ʼn literator of ʼn resensent noem en wegkom daarmee. Die rede is dat professionele beroepe beroepsrade het wat streng waak oor wie tot die beroep mag toetree en wie homself byvoorbeeld ʼn ouditeur of ʼn ingenieur mag noem. Mense met die regte kwalifikasies kan dan aansoek doen om by die beroepsraad te registreer, en dan mag jy formeel na jouself as wat-ook-al verwys.

Die probleem is dat letterkundiges nie deur ʼn beroepsraad verteenwoordig word nie en dus nie ʼn voet het om op te staan as hulle beroep deur leke as ʼn stokperdjie beskou word wat deur enige geletterde mens beoefen kan word sonder die voldoening aan bepaalde reëls, regulasies of kwalifikasies nie. Daarom moet ons nie kla as Jan, Piet en Anna die term “resensent” of “letterkundige” gebruik sonder dat hy/sy ten minste ʼn Meestersgraad in Literêre Teorie het nie.

Ek is hoegenaamd nie gekant daarteen dat enige iemand wat ʼn mening wil uitspreek oor ʼn literêre werk dit op enige forum van sy keuse kan doen nie. Natuurlik is dit almal se grondwetlike reg om dit te doen, maar dan behoort daar nie van terme en beroepsname gebruik gemaak te word wat insinueer dat die persoon wat die bespreking doen, ʼn professionele kwalifikasie het nie.

My insig is dat indien ons amateurs wil verhoed om beroepsname te gebruik wat ʼn Meesters- of Doktorsgraad in Letterkunde suggereer, moet ons onsself beywer om ʼn Beroepsraad vir Letterkundiges en Resensente tot stand te bring wat ons beroepsname beskerm.

 

Marlies Taljard, 9 Desember 2023

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “verveertaal” (Ilse van Staden)
Yves T’Sjoen. Cahier van een lezer [11] →

5e gedagtes oor “Ope Brief: ‘n Professionele liggaam vir literatore?”

  1. Anne-Marie says:
    13 December 2023 at 21:19

    Marlies, jy noem dat die debat nie die genade van ‘n stil dood gegun is nie, maar jy laat geriefshalwe die skakel na die opvolgberig van Me Moll weg, nl
    https://www.litnet.co.za/om-te-flerts-te-jodel-of-te-paradeer/

    Die stof was besig om te gaan lê, toe daar hierdie inspirerende stukkie satire vwrskyn het. As mense hulself uitgee vir toffies, dan GAAN hulle gekou word

    Reply
    1. Marlies Taljard says:
      14 December 2023 at 09:13

      Anne-Marie, ek het nie “geriefshalwe” enige iets weggelaat nie. Dit sou beteken ek was doelbewus oneerlik. Ek skryf oor die debat as sodanig en maak ‘n stelling oor ‘n konkrete oplossing van die probleem.

      Reply
  2. Marlies Taljard says:
    10 December 2023 at 13:09

    Die skryf van ‘n verhandeling of proefskrif is m.i. die beste oefening in resensieskryf. En sou ‘n leser omgee of ‘n teks aangebied word as “resensie” of “boekbespreking” en of die skrywer as “resensent” aangegee word …? Ek weet nie. Dit is die skrywers van sulke tekste ( mense wat nie in Letterkunde gespesialiseer het nie) wat die hardste baklei om hulleself “resensente” te noem en “resensies” te lewer en om as “literatore” bekend te staan.

    Reply
    1. Dietloff van der Berg says:
      10 December 2023 at 17:15

      Ek bepleit iets soos in vertaling waar enige iemand hulself “vertalers” kan noem en die publiek dan maar self moet besluit of die teikenteks en bronteks nog hoegenaamd iets met mekaar te doen het, of in resensies se geval die “resensie” enigsins bydra tot die begrip of kern van die boek. Daarenteen mag slegs iemand met die nodige kwalifikasies en na die aflê van strawwe eksaminering hulself beëdigde vertalers noem wat volgens wet beskerm word.

      Reply
  3. Dietloff van der Berg says:
    9 December 2023 at 21:43

    Ek stem volmondig saam, maar die probleem is dat daar dan ‘n elitistiese skeiding tussen resensente en lesers kan ontstaan. Sover ek weet is daar geen opleiding vir resensente nie. Iemand soos Willie Burger het net die natuurlike regte aanvoeling vir die balans tussen akademiese agtergrond en gewone lesers se belangstelling in leesgenot.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Johann Lodewyk Marais. Swartoogtiptol
  • Hennie Maartens. blommeprag
  • Joan Hambidge. Sheila Cussons en die verwikkelde lyn
  • Johann Lodewyk Marais. Seisoen
  • Koos de Wet. Onse Raka

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Joan Hambidge. Sheila Cussons en die verwikkelde lyn17 August 2026

    Marlies Taljard: Johann se Lange het destyds in "Kaapse Paragrawe" soms oor Sheila Cussons geskryf. Sien byvoorbeeld dié onderhoud wat…

  2. Andries Fourie on Andries Fourie. Soos die val van ‘n veer16 August 2026

    Baie dankie Anne-Marie!

  3. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  4. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  5. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d