My Hooglied-Ouma
My Ouma se wangbene is hoë plooiberge
en haar wange is ‘n swerm pienk flaminke.
Haar gesig rippel soos water
waaroor die bergwind swiep.
Haar slape is kranse
en bo haar lippe is klein klofies.
Haar wenkbroue is oorhangrotse
en in haar oë woon bruin vleiloeries.
Maar nou is die triestige dae hier
wat oumense in blaarskelette verander,
die swartryp-dae begin ontvou
wat liggame knou.
Ouma begin nou skeeftrek
soos rumatiekvingers.
Swaartekrag trek haar krom –
al nader aan God en aan die grond
© Marthé McLoud, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.
In 16 reels saam met jou ouma oud geword. Uitstekend.