Die Toespraak – UJ Prysuitdeling
(met vae skakering van ʼn madelief-lied)
ons mag maar verse vir die mense skryf
– toesprake – waarin die hart van die digkuns
so suiwer besing word
– met ʼn loflied vir elke daad –
dat dit na buite toe wil oopbreek
sonder enige weerstand
sodat ons goed maar ook boos
kan verstaan
haar toespraak is op almal se lippe
dit kry ʼn swanelyf vóór ons dit kan begryp
vóór ons dit so balsem ons harte kan invrywe
is al haar woorde soek
en staan ons met bordjies en broodjies en glasies
in die hand
maar, o wee, in die voetval van haar woorde
is daar ʼn dinamiese stilte wat lumier
en in daardie stílte
– wat niemand kan verwoord of wil laat los nie –
kan ons aan mekaar se asems sterf,
in slowmotion
kan ons
tot op die randjie
van die afgrond dans
en ter nabetragting
is haar toespraak
woorde van lof
vir juis dit waaraan ons verknog is:
dit wat ons – almal van ons – van dag een af
van die digkuns wou maak:
ʼn plek van lewe
maar ook ʼn plek van die afbreek;
waar grense en groeperinge nie meer saak maak nie
dis daardie plekkie
waar ons ligvoets moet wals
om nie oor die afgrond te tuimel nie
óf miskien moet ons spring,
juis in die wete
dat ons ín hierdie tuiste
nie nét moet skrywe nie
maar ook moet lag en sing:
vir madelief, ons hartedief
ek’s obsessief ek’s so verlief
a-ha, a-ha, a-ha
Ingrid Jonker, in die donker
Breytenbach die sterreprag
a-ha, a-ha, a-ha
gee my Brink, gee my Krog
laat my dans in Afrikaans
a-ha, a-ha, a-ha
Oppikoppi, nog ʼn doppie
laat my rok by Wingerdstok
a-ha, a-ha, a-ha
ek loop in dwergietreë
in jou grote seë
vind regverdiging vir jou weë
en wéét, die gedig is vir die mense …
© Bester Meyer, 2023
