Refleksies op ʼn Helder Volmaan Kersfees
“… ons elkeen
aan die ander kant op ʼn stellasie van asem” – Bibi Slippers
in die veraf nagtelike swye deur die skakerings van jou pienk gereis
om my geleende tyd aan die sinjaal van die wind te bind –
die volmaan beier in dieselfde stoffering as ʼn Karoonag van helder sterre
immerbruin was nog altyd die mode van die wind
dit wat ons aan die sterverhale van ʼn meester kom bind
asof die springgety ʼn blye tyding
vir ons kuste sal bring
in die aangesig van ʼn bloeiseltjie
vrou
ek herhaal die nag om na jou toe uit te reik
kilometers weg in ʼn ander hiernamaals van reën-
deurweekte wedywerings –
plant vir jou ʼn vers Alta
Kersfees het gekom en gegaan
soos rook wat oor die horison verdwyn
na jou gereis deur konstellasies van drome
die roete se uiteinde nooit ʼn aankoms nie:
eerder ʼn technicolour dreamcoat
van woorde wat herhaal word
omdat omdat is is
ál wat oorbly is my asem
wat na jou meditatiewe buitelyne soek
en aan jóú anderkant val die reën
mot mot
soos ʼn klokreël
oor ons ewige asem
© Bester Meyer, 2023