
Resensie: Sandskrif deur Kobus Lombard. Imprimatvr, 2023.
Resensent: Marlies Taljard
Kobus Lombard se sesde digbundel, Sandskrif, het pas by Imprimatvr verskyn. Soos sy vorige bundels (wat by Protea Boekhuis verskyn het), getuig hierdie bundel ook van ʼn vaardige digterskap en – self meer as vantevore – van ʼn deurwinterde en beleë digter wat reeds sy merk op die Afrikaanse poëtiese landskap gemaak het.
Sandskrif ondersoek weer hoofsaaklik die temas wat ons reeds in Lombard se vorige werk aantref. Dit is argetipiese temas wat by goeie digters bykans onuitputlik is en wat in hierdie bundel weer, soos van ouds, die leser boei en tot nadenke stem. Die belangrikste temas in die digter se werk kan uit die titels van sy bundels afgelei word.
Die titel Geknipte naelstring (2001) kan tematies verbind word aan die digter se soeke na sy biologiese moeder en die gedigte oor moederskap; Tussen wysvinger en duim (2005) verwys na skrywerskap en die skryfhandeling, soos die titel Vlerke vir my houteend (2010) ʼn aanduiding gee van die worsteling om “vlerkte te gee” aan die digter se gedagtes om gedig te word; Skadu oor die sonwyser (2015) verwoord nadenke oor die dood wat van die begin af in Lombard se werk teenwoordig is, en Tussen toeval en willekeur (2018) verteenwoordig die filosofiese teenstelling tussen dit wat die mens kies en die lot wat hom toeval. Sandskrif verbind die temas van woestyn (Namibië) en die ontglippende digterlike woord.
Die bundel Sandskrif is struktureel in vier afdelings verdeel wat rofweg handel oor die digter se persoonlike godsdiensbelewing; lewe, afskeid en dood; digterskap en woorde; en die natuur en wetmatighede. Die bundel open met ʼn motto-gedig “Sandskrif” as Ars Poëtika waarin die belangrikste bundeltemas saamresoneer:
Sandskrif
ek skraap met die hand
’n bladsy in die sand
haal lastige stokkies en sade
by voorbaat uit
met my wysvinger
begin ek hurkend skryf
uitvee en skryf
tussen die gepeins deur
trap ’n toktokkie ligvoets
kolletjies op die i’s en j’s
sleep ’n duisendpoot goedsmoeds
oorbodige woorde weg
val droë blare nuwe spasies oop
om my oë te laat rus
slenter ek verder in die sandpad af
ek weet dis tyd om om te draai
voor die wind
my laaste woorde wegwaai
(p. 9)
Sedert sy debuut lê Lombard hom toe op die skryf van korter gedigte en minimalistiese dog treffende woordkeuses en sinskonstruksies. Dikwels is die slotstrofe kort en bevat dit ʼn ironiserende insig op die voorafgaande – in sy later poësie kom dié tipe slotstuk meer dikwels voor en is dit dikwels meer sinies van aard. Metafore uit die natuur word ryklik benut.
Die digter maak, soos baie moderne digters, by voorkeur van die vryeversvorm gebruik. Anders as baie beginnerdigters of Facebook-digters verstáán Lombard hierdie poëtiese vorm en word dit inderdaad poësie onder sy pen. Joan Hambidge skryf op 31 Julie 2023 op Versindaba oor die vrye vers as poëtiese struktuur en wys daarop dat vrye verse nie onbeperkte vryheid aan die digter verleen óf verkapte prosa is nie. Sy wys op kenmerkende eienskappe van dié versvorm, soos die gebruik van alliterasie, assonansie en onomatopee as klankeffekte, die gebruik van dubbelsinnigheid ter wille van meerduidige interpretasiemoontlikhede, die gebruik van enjambement, simboliek, metaforiek en patroonmatighede wat die gedig saambind, soos progressie, herhalende metriese patrone en sinslengtes. Sien by: https://versindaba.co.za/2023/07/31/joan-hambidge-oor-die-vrye-vers/
Sandskrif se eerste afdeling is sterk besinnend van aard. Die verhouding mens-god/gode is die oorheersende tema in dié afdeling en sluit aan by gedigte uit die digter se vroeë werk. In Vlerke vir my houteend skryf hy:
Bedelaar
wie se skurwe hand
met ongeknipte naels
en geelgedrinkte oë is dit
wat my ʼn las vra by die till?
wie is dit wat my seën
met ʼn uittandglimlag
en ʼn spiritusasem?
koop U dan ook by Checkers?
(p. 18)
In Sandskrif is verwondering steeds deel van die digter se godsbelewing en poging tot singewing, maar dikwels is die ironie skerper as in vorige bundels en kom daar kritiek teen dogmatiese godsdiensbeoefening en die kerk voor, soos in die volgende gedig:
Desondanks
(Psalm 127:2)
tevergeefs
dat julle snare afslaan
heupswaaiend
hande in die lug
al harder sing en skree
dat julle deursigtig
agter preekstoele
van perspex
die ondeurgrondelike
probeer verklaar
net so wel gee Hy dit
aan dié wat doodstil
aan sy voete slaap
(p. 15)
In dié gedig met sy Bybelse interteks wat ook talryke bekende gedigte soos Milton se “Sonnet 19” (“They also serve who only stand and wait”) eggo, speel kontraswerking en teenstellings ʼn belangrike rol. Klemplasing op “tevergeefs” en die onsinnigheid van dogmatiese en rituele handelinge wat dan opgenoem word, vind plaas deurdat “tevergeefs” die eerste woord in die gedig is én boonop alleen in die beginreël staan. Dan volg die ironiese teenstellings: “snare afslaan”, “al harder sing en skree”, “heupswaaiend” x “doodstil … slaap”; “deursigtig”, “perspex” x “die ondeurgrondelike probeer verklaar”. Ironies is ook die oorheersing van die s -/sl-klank in sowel die eerste reëls waarin van lawaai sprake is, as in die slotreëls waarin na stilte en slaap verwys word.
Hiermee wil ek sê dat die leser nie die korter gedigte vlak moet kyk nie. Lombard se gedigte is in die meeste gevalle deeglik afgewerk en beplan en poëties sterk opgebou. Progressie is in die meeste gedigte duidelik aantoonbaar en bind gedigte tot ʼn hegte eenheid saam. Ook langer gedigte is struktureel sterk en sinvol – vergelyk byvoorbeeld “Gasprediker” (p. 27-8).
Wikipedia vermeld oor die digter Kobus Lombard: “Johannes Vermeulen is op 28 Oktober 1952 te Waterval-Boven gebore, as die buite-egtelike kind van Aletta Johanna Vermeulen. (…) Haar ouers weier dat sy die kind hou en sy teken hom af, sodat hy in die Maria Klopper Kinderhuis in Johannesburg opgeneem word. In 1954 word hy aangeneem deur die Lombard-gesin van Gobabis in Namibië en hy word groot as Kobus Lombard.” https://af.wikipedia.org/wiki/Kobus_Lombard
Hierdie gegewe speel ‘n belangrike rol in Lombard se oeuvre. Soeke na identiteit in al sy bundels is ten nouste verbind met die digter se soeke na en verbeelding van sy biologiese moeder, die spanning tussen “eie ma” en “aanneemma” en buitestanderskap wat veral in die tweede afdeling van die betrokke bundel ontgin word. Van die digter se mees aangrypende gedigte handel oor dié tema. Ek dink byvoorbeeld aan “Die mond gesnoer” uit Skadu oor die sonwyser:
Die mond gesnoer
ek sou so graag
iets vir jou wou sê
wanneer die grys uil snags
op die dak roep
wanneer ek my rowe aftrek
en die wond nog effens bloei
ek sou so graag
vir jou wou Mamma sê
voor jy my in die geheim
af moes teken
maar jy het my mond
te vas teen jou bors gedruk
(p. 37)
In Sandskrif kom ʼn gedig met dieselfde titel voor (p. 58) met ʼn variasie op die tema van magteloosheid en uitlewering aan die noodlot.
In Vlerke vir my houteend handel die hele laaste afdeling oor herkoms en identiteit gekoppel aan die biologiese moeder Aletta Johanna (p. 74 – 78). Verwarrende dubbele identiteit is ook ʼn belangrike tema in Sandskrif, soos in dié gedig:
Periodieke tabel
my partikels vibreer
teen frekwensies waarneembaar
as Jacobus Gideon Lombard
alias Johannes Vermeulen
maar in leë spasies
skuil ’n element
wat ek vergeefs bly soek
op my periodieke tabel
(p. 43)
In “Al my verse” (p. 56) verbind die digter sy identiteit aan sy biologiese ma en die skande van ʼn ongehude moeder: “elke vers is ʼn ongehude vrou”.
Vanuit ʼn universele perspektief handel identiteit egter primêr oor menslikheid en menswees. Ook hierdie temas word in die tweede bundelafdeling ontgin, met die klem op sterflikheid, die dood en ʼn lewe in ʼn hiernamaals:
Sterstof
trane is meer
as waterstof en suurstof
met ’n knippie natriumchloried
die dood is nie net
’n horingvlies wat breek
of ’n iris wat verwyd nie
die liggaam moet meer wees
as atome wat na ander vorme
van sterstof terugkeer
of onvernietigbaar
hergroepeer
(p. 50)
Afdeling III konsentreer op singewing deur woorde, of dan die onvermoë om die onsegbare, onverstaanbare onder woorde te bring. Argivalia (p. 55) verwys intertekstueel na DJ Opperman se “Vuurbees”:
Argivalia
met taal
wat in die oertyd
slegs hoorbaar was
moes jagters dansend
om ’n vuur vertel
hoe die rooi van bloed
ruik en proe
en voor die klank
se golwe verdwyn
hul prooi se lyne
teen ’n rotswand verf
Die laaste afdeling bevat gedigte oor uiteenlopende temas. Besinning oor wetmatighede en die enkeling én Homo Sapiens se plek binne die skepping. In “Wetmatig” (p. 65) word besin oor die Geistesbeschäftigung van verskillende entiteite; in “Volmaakte adres” (p. 66) word die kleinlikheid van dogmatiese denke in opposisie gestel teenoor die grootse wetmatighede wat die aarde op koers hou en seisoene moontlik maak; “Hande” (p. 67) besin oor liggaamstaal, terwyl “Getuigskrif” (p. 69) die mens se skrikwekkende vermoë om homself en die planeet te vernietig aan die kaak stel, terwyl dit skreiend ironiese kommentaar oor ons gebrek aan verantwoordbaarheid lewer, asook op die wyse waarop die mens sy gode (mites) skep om sy selfsugtige begeertes te dien en homself te beskerm. Hierdie is beslis een van die sterkste gedigte in die bundel:
Getuigskrif
(Heil die leser)
gemelde kandidaat
is ’n gebalanseerde lid
van homo sapiens
oorwegend saamgestel
uit suurstof en koolstof
waterstof en stikstof
benewens vyf sintuie
en ’n latente reptielbrein
beskik die betrokkene
oor ’n neokorteks
in staat om die planeet
te beheer of te vernietig
en les bes
sy god daarvoor
verantwoordelik te hou
Sandskrif is ʼn bundel wat tot ‘n ieder en elk behoort te spreek. Dit sny temas aan waarmee alle denkende mense kan identifiseer in maklik toeganklike, kort, verteerbare verse. Wat my wel gehinder het, is die voorspelbare struktuur en tematiek wat Lombard se hele oeuvre kenmerk. Hoewel mens sou kon aanvoer dat die digter ʼn bepaalde idiolek gevorm het, is dit tog hinderlik, veral as mens die hele bundel in een sitting deurlees. Daarmee wil ek egter geensins die kwaliteit van die bundel onderskat of bevraagteken nie. Die digter is ʼn perfeksionis as dit kom by die opbou en afwerking van gedigte. Daar is nimmer ʼn oorbodige woord en die afloop van elke gedig is telkens verrassend en ontstemmend. Beslis ʼn boek wat ek aanbeveel vir elke Afrikaanse leser!
