Glaskas op vloer 13
Op aande wanneer die wolke woedend
dwarrel en son en maan verdwelg
snuffel hy by deure,
krap hy met lang toonnaels daaraan.
Net dié maak oop wie se hart
reeds ’n prooi was, ’n gat het
waarbinne hierdie roofdier
kan intrek.
Toe slaan hy toe —
die woonstel langs ons:
Hy bars binne en klim knus
in haar holte, fluister oergedagtes.
Hulle vind haar op haar rug
in haar glasbalkon tussen
leë houers voorskrifpille —
Sneeuwitjie-wit.
Geen prins in sig
vir ’n opwekkingskus.
© Marthé McLoud, 2026
