herbesoek, sonder apologie
dis nie dieselfde een nie,
dis nie die weduwee nie,
vandag was daar ʼn vrou
met twee kolliehonde
maar nie langs die see nie –
die meerfront is plek-plek strand
en dieselfde water sal eindelik uitloop
in die see, dieselfde sand
waarin digters keer op keer kom krap
soos honde wat na die skaduwees
en skuim van branders hap.
© Ilse van Staden, 2026
