stillewe vir Pase
hier kom die oog tot stilstand:
die lig deur ʼn venster gefiltreer
of ʼn geskreefde deur, kantgordyne
wat sonlig wasig kaats op flesse
teen bederf gekurk, trosse
druiwe, vye, ʼn homp vars brood
en die erdewerk van ʼn vaas,
miskien ʼn dooie fisant of twee, ʼn haas
met oë wat die horison onthou,
iewers ver van hierdie stil vertrek
waar bome in ʼn herfsmiddag
se voëlsang roer en donderstorms
skielik ʼn gordyn van donker
oor lewe én stillewe trek.
© Ilse van Staden, 2026
