Dick Findlay
1928–1996
Die man bestel vir ons Earl Grey-tee,
laat dit trek, roer ’n keer en die soet geur
uit die pot met ’n mus vul die vertrek.
Dan maak hy ’n laai oop, lag gelate
en wys my die muise wat hy haarfyn
vir ’n groot boek oor soogdiere teken.
Met die knobbeleend wat ’n vriend wil hê,
is hy tevrede, maar die agtergrond
van ’n watergat met bome: “Not good.”
Hy is pas weer terug uit Noord-Transvaal
waar hy nog spesimens versamel het
vir ’n vastereeks seëls oor Venda.
Dick rook in die hoek van sy sitkamer,
hoor my versoek aan vir ’n eenhoring
in ink en steek nog ’n sigaret op.
© Johann Lodewyk Marais, 2026
