Posts Tagged ‘Marlies Taljard resensie’

Resensie: Nootvat. Kwashaal. Stapel. (Bernard Odendaal)

Thursday, April 8th, 2021

 

 

 

Nootvat. Kwashaal. Stapel. Deur Bernard Odendaal. Tafelberg, 2021.

Resensie: Marlies Taljard

 

‘n Deurwinterde bundel van ‘n meesterdigter. So sou mens Bernard Odendaal se Nootvat. Kwashaal. Stapel. kon beskryf.

Om ‘n meestervakman te word, moet ‘n vakman wat reeds gekwalifiseer is, bewys dat hy oor die nodige finesse op sy vakgebied beskik wat veral sigbaar is in die fyner afwerking van sy produk. Veral in die ou gildestelsel moes ‘n vakman ‘n meesterstuk voorlê wat deur sy eweknieë as meesterwerk aanvaar moes word. Ek glo dat Bernard Odendaal se bundel Nootvat. Kwashaal. Stapel. aan die vereistes van so ‘n ‘n meesterwerk voldoen. Dit is ‘n bundel wat “niks wat somers is meer het / nie pit nie dop of rank”*, die produk van 14 jaar se skryf, herskryf, poleer, afwerk, weifel en weer begin.

Uit die “Argief: Erkennings en verantwoordings” (p. 115 e.v.) blyk dit dat die digter nie sedert Onbedoelde land in 2007 verskyn het, stilgesit het nie. ‘n Groot aantal gedigte wat nou in Nootvat. Kwashaal. Stapel. verskyn, het reeds vantevore elders (dikwels in ‘n vroeër weergawe) verskyn. Die gedurige slyp en herslyp van gedigte – dikwels met behulp van een of meer mentors – wat ‘n ononderhandelbare deel van die digproses is, blyk reeds, benewens uit die bedankings, uit die eerste gedig in die bundel “Klankbord” (p. 11). Die gedig word aan die digter I.L. de Villiers (1936-2009) opgedra en daarin word die tipiese redaksieproses eksplisiet uitgebeeld:

 

Of ek vir jóú sal klankbord speel?

Jou eerste verse ná ’n kwarteeu swye.

Die bome van my straat staan katedraal

gepunt na waar die takke hoog bo raak . . .

 

En my hart ontsteek oor jou Johannesburg.

Ek gryp jou woorde aan daarheen,

begin te help rangskik en ruil en skrap:

Die bome van my straat maak katedraal

gepunt na waar punte van die takke hoog bo raak . . .

My straat is aldaglewe, vullis; iewers loei

sirenes, word gelag, en honde blaf . . .

 

Hoe onlosmaaklik gedigmaak met die harde werklikheid, en in die geval van die onderhawige bundel veral die outobiografiese werklikheid van die digter, verbonde is, blyk ook uit verskeie ander gedigte, onder andere die aangrypende prosagedig “Haar beduiehand, die linker” (p.83-85):

 

(…) Haar afspraak gaan om

meer as net verskoning dat haar opdragwerk nie ingegee is nie, sê

sy. Ná gister . . . om ’n liefdesvers vir assessering voor te lê . . . sy

kan eenvoudig nie.

 

Ook in hierdie gedig word die digter as mentor van digters en studente in kreatiewe skryfkuns uitgebeeld en val die lig op vakleerlingskap en gedigmaak as ambag. Dit gaan veral ook daarom dat aanvoeling en emosie ‘n belangrike rol in die skryf van poësie vervul, maar dat die doelbewuste lê van verbande en die gedurige afwerking van die voorlopige produk deel is van die skeppende proses. In wese is hierdie bundel ‘n intensiewe verkenning van en besinning oor die vele fasette wat met die maak van poësie verbandhou. Die gedig is Nootvat, dit is ‘n Kwashaal en dit is ‘n Stapel. Veral twee van die motto’s van die bundel speel in die verklaring van dié stelling (en van die titel) ‘n belangrike rol, naamlik:

 

Die betekenis van ’n gedig is geleë in die kadense

en die vorm van die versreëls

en in die polsing van denke wat in daardie

versreëls voorgestel word.

(George Oppen, in ’n onderhoud met L.S. Dembo)

 

Met ander woorde: Digkuns [word] iets wesenlik grafies.

(Giorgio Agamben)

 

In die gedig “respiratoriek” (p.16) kom die klankmatige aspek van die gedig  ten beste uit die verf; die gedig “Rawe in die Leopold-museum, Wene” (p.26) lê die verband tussen gedigte en die skilderkuns, terwyl die gedig “Chicago” (p.108), wat aan die Amerikaanse digter Carl Sandburg opgedra word, implisiet ook die digproses betrek wanneer na die aangesprokene verwys word as “Stapelaar van Sakke Graan”. Al drie dié elemente kom ook voor in die gedig “Klasseminaaraanbieding: Van waar gedig?” (p.86). Klank, beeld en vorm – dit is die basiese elemente waaruit suksesvolle gedigte bestaan en telkemale keer die digter terug na dié aspekte van die poësie.

Oorkoepelend is die bundel verdeel in 9 ongenommerde, ongetitelde afdelings waarin die digter telkens streng hou by ‘n gekose tema. So handel die eerste klompie gedigte oor die skryf van poësie en die inspirasie wat aanleiding gee tot die skryf daarvan.

Die volgende afdeling handel spesifiek oor die taal. Hierdie afdeling resoneer egter ook saam in die gedig “By die dood van ‘n reisgenoot” (p. 93-95) wat opgedra word aan prof. Christo Janse Van Rensburg, die groot Taalman. Dit is maar één van verskeie voorbeelde wat die sterk interverbondenheid van enkelgedigte in die bundel met mekaar en met die oorkoepelende tema van die bundel illustreer. Die bundel is nié ‘n losse versameling opeengestaplede gedigte nie, maar ‘n fyn beplande web waarin streng by die reëls van die praktyk gehou word (en in hierdie opsig weerspreek die bundelstruktuur natuurlik in sekere opsigte die titel!)

Die volgende afdeling het ‘n liriese aard en bevat slegs die “Klein liedsiklus vir H.”, genaamd “Ongesonge, oudertous van toon”. Dit is beslis een van die mees geslaagde en aangrypende dele van die bundel. Die digter se bedrewenheid met vaste poëtiese vorme en sy buitengewone aanvoeling vir melodiek en klankskoonheid word in dié afdeling ten beste geïllustreer. Ek haal een van die mooi liefdesgedigte, “2. Aangetas” (p. 35), volledig aan:

 

 2. Aangetas

Die bolronde en konkawe dinge

sou voortaan veel begryp van jou;

en brood en balsems, hobo’s, bome,

die wind sou adem, mmm, van jou.

 

Formasies trekvoëls, fjords in woude,

die kimme had iets weg van jou;

’n golf wat kurwe, kers wat vlamvat,

’n deurknop het gemaak na jou.

 

Fasettigheid van woordjuwele

het in my kieste rond bly speel,

aan ’t poets tot soveel lieflikhede –

en toe verspreek dit jou geheel.

 

Die vierde afdeling bestaan uit gedigte wat sosiale kommentaar lewer op omstandighede hier en elders en soms, weens die gebrek aan woorde om ontsteltenis, woede en hartseer uit te druk, in eksperimentele taal vervat word. Hoewel die taal by geleentheid ongrammatikaal mag wees, hou die digter (byvoorbeeld) in die handvol SMS-haikoes streng by die haikoevorm sodat die gedigte nie hulle poëtiese karakter verloor en struktuurloos word nie. Die slotgedig in dié afdeling is ‘n skryend ironiese gedig “’n Onse Vader vir ‘n Somerkersfees” (p. 48&49):

 

U wat uit die hemel kyk, sien hoe staan hier plaaskrippe leeg;

hier’s verlate opstalle, talle, of agterin sjebiens drankkratte

waarin Hy neergelê kan word,

 

ons Somerjesus – as Hy weer kan kom. Onnosel kinders

sonder toesig is hier báie wat kan hól agter ’n trekster se vuurwerk aan

en leë hemele waarin engelkore kan galm

 

soos min, en oral vigs en moord te vinde

wat ’n kort, beroerde lewe kan verseker,

dertig jaar of so.

(…)

 

Eko-gedigte met natuurmetafore vorm die tema van die vyfde afdeling, maar steeds bly die digter gefassineer met die totstandkoming van gedigte. In “Digles in ‘n Karootuin” (p. 52-53) word die besoek aan ‘n natuurtuin byvoorbeeld metafoor vir die praktyk van poësieskryf:

 

Digles in ’n Karootuin

Ficus natalensis; Pionierskool, Worcester, 2018

Dis soos hierdie boom. Per oogopslag is min te peil aan hom.

Sê hom sommerso en hy’s verspreek:

natalvy, kuswurgvy, kastige gewone wildevy.

 

Hom betrag, is goed: die blinkblaarsambreel

waaruit ’n donker laafnis giet – skaduwyn.

Maar ruík ook die somerbeskonkenheid;

staan nader. Laat jou voete

die aarde aan ’t hobbel oor die forse metrum

van ’n klipbreekwortelstelsel voel.

 

Ja, jou vóél moet jy ken,

hand en hart vertrou;

jou lukraak ráákvat laat word

aan die bonkige, grof-gladde warsamestelling van ’n stutwortelstam

wat kort voor lank tot stompverbelentheid vertak.

Soos dié ineengevoude meervoudboom

(natalvy) (kuswurgvy) (gewone wildevy)

is die gedig.

 

En spits die ore vir die lied van wind en stilte

oor die groenleertonge van sy blare,

sy trossies soetvyklank in die kele van muisvoëls,

bonthoutkappers, vlermuise snags.

 

Vanself

is hy nie hier nie. Sy ruie

subtrope-hunkeringe bly. ’n Mens

moet hom bring om hiertoe te gebeur, hom

nat- en oplei, uitdun, terugsnoei – hom vlym

tot onverhoedse rym met groei. Dan, altemit, kom

natalvy/kuswurgvy/gewone wildevy hy hier. Monumentaal.

 

Die

bonsai

in jou boek.

 

Uit titels soos “Reünie”, “nostalgie” en “Sehnsucht” kan afgelei word dat die sesde afdeling hoofsaaklik herinneringspoësie is. Evaluerende terugskou kom tipies in die laatwerk van skrywers voor. Ook uit hierdie handvol gedigte spreek nostalgie en verlange na ‘n alternatiewe werklikheid – die werklikheid van ‘n vergange tyd. Inderdaad: “I have lived in the present from time to time / and I can tell you that it’s much overrated” (Phillip Lopate) – aldus die motto van die gedig “nostalgie”  (p. 65-67) waaruit ek een strofe aanhaal:

 

’n halwe beker koffie   bakkie met beskuitkrummels   hulle staan apart

van hom   maar aan sy neus se geheue is hy na ’n kombuis

met buiteoond gelei   ’n baarmoeder warm klei

daar was waaragtig iemand in anys

daar’s wérklikheid herinner   dit hang soos roet en stoom in pas

verlate

stasies

 

Die sewende bundelafdeling is die langste en kan waarskynlik as ‘n soort Ars Poëtika beskou word. Die afdeling begin met vir gedigte onder die titel “Langsaam, geliefdes. ‘n Suite” wat, volgens die onderskrif, geskryf is tydens of na aanleiding van ‘n “Vertaalwerkwinkel Literaire Salon in ’t Wevershuisje, Tilburg, 2015”. Die eerste drie gedigte van dié suite tree direk in gesprek met die werk van ander digters, naamlik Bert Bevers, Annelie David en Martin Beversluis. Gedigte soos “oukei”, “Straatmuse”, “Haar beduiehand, die linker”, “Klasseminaaraanbieding: Van waar gedig?” en “Let’s get real” handel oor die (onderrig)praktyk van poësieskryf:

 

Ek pak my driestukwenk oor digwerk uit: daad+werklik+hede.

Dat jy dóén- en díngwoorde plant – in ploegvore van vanoggend,

op en neer: ’n vars verslandery. Poësie spruit uit aarde voort.

(Uit: “Let’s get real”, p. 88).

 

Inspirasie as seksuele stimulasie blyk uit die gedig “Straatmuse” (p. 81-82) en in “oukei” word die diep emosionele wortels van gedigskryf blootgelê deur ‘n deelnemer aan ‘n slypskool in poësie. Hierdie gedigte verskil in dié opsig van baie Ars Poëtikas wat die afgelope jare in tientalle bundels verskyn het, naamlik dat dit nie met abstraksies werk nie, maar met gedigskryf as onderrigmateriaal en/of die konkrete probleme wat die skryf van ‘n gedig onderlê en wat deur die digter te bowe gekom moet word. Teen dié tyd behoort dit duidelik te wees dat die digter sigself in hierdie bundel hoofsaaklik bemoei met die konkrete oordrag van vaardighede – poëtiese vaardighede – en nie met abstraksies en filosofie nie: hoe leer mens iemand om gedigte te skryf én hoe leer mens die digambag by praktiserende digters?

Die voorlaaste afdeling is elegies van aard. Sommige gedigte handel oor mense wat reeds gesterf het, oor tye wat onherroeplik verby is en (in “Valsbaai”, p. 103-106) kinders wat geëmigreer het. Die sterkste gedig in dié afdeling is myns insiens die gedig “Valsbaai” waarin die bekende stelling van NP van Wyk Louw  “Die geloof aan die onsterflikheid van die kuns is die voltooide waansin van die persoonlikheidsverafgoding” op poëtikale wyse beredeneer en aan die huidige werklikheid en politieke klimaat in SA getoets word. Die aangrypende slot van dié gedig lui:

 

“Voertsek jy en jou gedigte,” kom dit kort voor lank.

“Vir wie gaan jy dit nog kan leer, hè?

Vir wie gaan jy dit langer opsê?”

Haar oë soek boontoe: ’n Vliegtuig grom, maar sonder dampstreep

trek.

 

“Verniet die versgedoente. Woordgetower ofte not:

Dis hol. Eggogrotte. Egokluise. Vort,

sê ek! En voertsek hierdie land

wat so sy kinders dryf tot emigreer!

Wat mens jou nageslagte laat ontbeer.

Ék voel hol. My kinders voel my keer op keer wéér uit die buik

geskeur.”

 

Die laaste afdeling van die bundel bestaan uit twee collage- of stapelgedigte. Dit is gedigte wat, naas eie skeppings van die digter, intertekstuele aanhalings uit of verwysings na ander gedigte bevat sodat die verskillende tekste op mekaar kommentaar lewer en met mekaar in gesprek tree. Beide dié gedigte is al vantevore as visuele kunswerke uitgestal, onder andere op die Volksblad Kunstefees (2008), op die Aardklop Nasionale Kunstefees (2010), op die Woordfees (2011) en op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (2011).

Ook wat enkelgedigte aanbetref, is dit duidelik dat die digter deeglik afgewerk het en dat hy oor die nodige vakkundige vaardigheid beskik om goeie, treffende en selfs aangrypende poësie te skryf. Ek wil dit beklemtoon dat dit júis vanweë sy weldeurdagte gebruik van digterlike tegnieke is, dat sy verse suiwer en afgerond is: die digter wéét hoe om ‘n tersine te skryf en dit dwarsdeur die gedig vol te hou, hy wéét hoe om kwatryne te skryf, hoe om alle vorme van rym te gebruik waar dit moet, hoe ‘n rymlose vers werk … Natuurlik is die bundel nie foutvry nie. Ek sou inderdaad kon wys op gevalle van woord- en selfs klankoordaad, van lomp formulering, van onhelder denke, van gedigte wat myns insiens nie “werk” nie, maar in ‘n sterk bundel soos hierdie doen dit nie afbreuk aan die bundelgeheel nie. Feit bly staan dat die bundel as geheel oortuig en die indruk skep van afronding en digterlike vaardigheid.

Wat my veral beïndruk het in ‘n tyd waarin talryke bundels in druk of op die internet verskyn met struktuurlose, onafgewerkte gedigte, is dat die digter van die aanvaarde digterlike vorme en tegnieke gebruik maak en dat dit wel wérk! Ter illustrasie haal ek die hele gedig “Die wanhopiges” (p. 70) aan. Hierdie gedig illustreer die digter se liriese vaardighede, onder andere deur die streng volgehoue opbou van die gedig betreffende die rymskema, die aantal beklemtoonde lettergrepe per reël, die eind- en binnerympatrone, die strofebou en die opbou na ‘n klimaks in die eindreëls. Dit is eweneens ‘n goeie voorbeeld van die vertaling wat die digter saam met Naòmi Morgan van Jacques Brel se lirieke gedoen het:

 

Die wanhopiges

na Jacques Brel se “Les désespérés”

So strompel hulle aan: versuftheid aan die hand,

in reën se grys ou jas, deur stad en dorp en land.

Hul voeteval sug swaar, of snik dalk in die loop;

maar self is hulle stil, die vriende sonder hoop.

 

Van val weet hulle goed: Hul vlerke het verskroei.

Hul skepe het gestrand, die storms het geloei.

Van liefde keer hul terug met hulle oë oop –

is dáárom liewer stil, die vriende sonder hoop.

 

Ja, ek was ook al in verlatenheid se laan,

het meer as honderd maal tot driekwartpad gegaan . . .

waar hulle aanhou om van alles weg te loop,

en enduit sonder woord, die vriende sonder hoop.

 

Daar onderdeur ’n brug vloei water diep en stil:

’n stiller van die pyn, ’n doofpot vir ’n gil.

Daar’s afgronde wat wag. Daar’s tou tot lus te knoop.

Of pille vir die vaak, vir vriende sonder hoop.

 

Laat dié wat beter weet, die oordeelswoorde sê.

Wie beter weet, die ken van liefhê dalk die .

Maar rondom so ’n brug trek oggendmis weer oop;

is weggevaag die val van vriende sonder hoop.

 

Die digter se fyn oor vir melodie, vir Klangfarbe, vir volronde binneryme bly vir my die opvallendste aspek van die bundel. Ek haal willekeurig aan:

 

Hoe lonk die eilandgroep se baaie nie!

Koraalrif- en kokosloofomgord,

soos siersnoere op heupe.

Vulkaankruine kaaltiet; klowe ruig.

(Uit “Op die Marquesas”, p. 13)

 

Mens sou eweneens kon wys op die besondere formuleringsvaardigheid van die digter en die vaardige gebruik van taal om presies die gewenste effek te bereik. Oor die lied skryf hy byvoorbeeld:

 

uit die niet geslaak: die lied:

lýf gegee, longblasiediep

verinnig – wat, langs brongieë vereen

en strotwaarts opgewel, tril oor stembande,

plooi langs wange, tong en lippe, ’n verleigedaante

in versgewaad, in die arms van die melodie op die kadans

aan ’t asem uitblaas

 

Ek dink, nadat ek soveel gesê het, behoort dit duidelik te wees dat Bernard Odendaal se bundel Nootvat. Kwashaal. Stapel. ‘n stewige digbundel is wat die toets van die tyd behoort te  deurstaan. Dit bevat gedigte wat aangryp, geskryf in ‘n taal wat nootvas sing. Wie sou nog kon beweer dat Afrikaans aan’t uitsterf is as daar steeds sulke werk in die taal gepubliser word?

 

*Die aanhaling kom uit die gedig “Voorspel 1950” deur NP van Wyk Louw in sy bundel “Tristia”.