Posts Tagged ‘Melanie Grobler gedigte’

Melanie Grobler. Uit my groen dae

Thursday, December 12th, 2013

UIT MY GROEN DAE

 

Ek sal nie langer van jou droom nie

tog hou ek aan om van jou te droom

want jy loop uit die skaduwees van verbeelding

om my te ontmoet waar my vel begin

 

ek wil jou nie onthou nie

tog is daar geen einde aan my gedagtes aan jou nie

jy het uit die argiewe van denke getree

na die koelte van hierdie dag

 

waarom dans ek al hierdie eeue rondom jou

jy wat nou soos ’n vreemdeling voor my staan

             al hierdie dae wat ek jou ken

hoekom het my oë die pad wat jy loop

 

deur die eeue dopgehou

tog kyk ek elke oggend met verbasing

              na die lyn van jou wang

hoekom het ek jou deur al die nagte liefgehad

 

soggens wag ek soos ’n bokkie wat rondspring

in die dou. mag ek weer die moed bymekaar skraap

             om weer na jou deur te stap

             oor en oor en oor en weer en weer

 

nie omdat ek die pad na jou hart

of jou denke ken nie

slegs omdat ek jou liefhet, en waag

ek sal hierdie een lewe by jou bly.

 

© Melanie Grobler/2013



Melanie Grobler. Skemerland

Thursday, September 26th, 2013

Skemerland

 

My hart is in die laelands waar die wind

met stokke die krake die holtes van die dorp oopkrap

waar uitsigte so lank soos my oë en vingers

aandui waar die see iewers agter die waas

van land wat ons omhul wegstort

 

my hart is leë kamer

op die dakverdieping van die huis

wat smȏrens plek maak vir die veraf gedruis

van ’n verbeelde skemerland

iewers moet daar iemand wees

 

daar’s ’n klavier op die solder en ’n stel dromme

in die kelder en tussen hul onderskeie ritmes

ontvou my lyf, word dit wat lewe aan die roer gehou

smȏrens sing iemand ’n mis in die verbeelde skemerland

en die see lek eentonig onder die wind teen klippe en skuite

 

in hierdie lewe is daar net die eensaamheid van vlamme

hierdie werklikheid sal ophou bestaan die dag as ek vergaan.

 

© Melanie Grobler / 2013

 

 

Melanie Grobler. Paula Modersohn-Becker praat met haarself

Tuesday, August 7th, 2012

Paula Modersohn-Becker praat met haarself

                                    (vir dié een wat weggeglip het)

 

ek wil soos amber word

 

Daphne wou in ‘n boom verander

haar keuse was soet lourier

sy het altyd groen blare gekies

maar ek wil dieper na amber gaan

 

hierdie lig, hierdie sonnige Mei-oggend

                        in Parys

wat my hare na amber verander

                        die donker rossige kleur

meer rooi as goud

 

my oë: amberbruin

helderder as die halssnoer

wat ek vandag dra ̶ die groot ovaal

swaar amber krale

 

vroegoggend en dis reeds snikheetwarm

dit maak tog nie saak nie want ek staan halfkaal in die kamer

                                    dis makliker om op hierdie naak manier

te skilder. dit dra tog by tot die betekenis

 

 

sal ek veel anders lyk as ek swanger is

my tepels, so bleek vandag, sal hul die kleur van amber kan verdra?

 

en my bloed? ek verbeel my dat my bloed sterker

of swakker sal word. dat die lope diep van rivierklanke

stil sal word

dat dit sal ophou klop

dat my bloed stil sal raak

en op die ou einde amber word.

 

 

Paula Modersohn-Becker. Selfportret met amber krale. Olie op doek 1906

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Melanie Grobler. Joshua Tree

Monday, March 12th, 2012

Joshua Tree: Berghiëroglief

 

Menige stemme van die geheime hiëroglief

vertel van grotte gevul met sesam.  Mere

in veraf valleie klou aan druppels water.  Elders

bewerk vlytige boere hangende bergterrasse

en tem die vrugbare aarde gedurende sagte seisoene.

 

Tydens die tyd van winter meditasie sluimer die yl

geweefde mat van diep riete en bruin landerye.

ʼn Enkele regiment van populiere buig in die ysige suidewind,

die bleek roedes verberg die innerlike vorms van die vy

die amandel, die moerbei en die mistieke appelkoos.

 

Die hiërogliewe fluistering word die blaffende coyote

wat praat met die vrou met gevlegte hare, van God

wat voetloos na die pers-wordende einders loop.

Die gewiglose mirtebos ritsel sekondes voor die dag breek.

Oral langs die buitelyne van die landskap val die sagte dou.

 

 

© Melanie Grobler, 2012

  •