Posts Tagged ‘Nini Bennett gedig’

Nini Bennett. Da Capo

Friday, January 21st, 2022

 

Da Capo

 

Van al die relieke, uitgestrooi met afskeid

is min dinge so leeg en eensaam soos ’n hoed;

dit reis tussenwêrelds na niks of na rus

en die kapstok sê: jy het gearriveer of gegaan.

Daar is min dinge so aanwesig soos ’n hoed.

Op al die haltes van aankoms en vertrek

was jou swaar kop die mooiste; groot

met skedelnate broos om die kroonare

wat roosrank deur jou brein. Jou hoed

was trots, maar hang nou verslae

aan die kapstok – sal dit ons haltes

van vergeet onthou as ek inboek

in die eensaamheid van dié vers?

’n Kapstok tel die ure se loopgang,

die kopskuiwe van hier en ver.

As ons ná die eendagsreis ontslaap, die self

kolskoot en finaal ophang aan die kerfstok

sal ek weer aanmeld by die laaste

halte – die inlas van verlies vind;

jou hoed hang daar, jy is hier,

vir ewig tuis. Ek het jou liefgehad

soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.

 

(Boekstaaf, 2015.)

 

Nini Bennett. Snow

Thursday, December 23rd, 2021

 

SNOW, Isa Steynberg

 

 

SNOW*

(Vir Isa Steynberg)

 

die haaivlakte ontwaak

boslande en dwergbome vol oumansbaard –

passasies van bome: katedrale

in die sneeu

denne, else, berke, lorke,

sparre     .fototrope se gode

 

die ys smelt

kwiksilwer – ’n snaardun koue

hang aan takke

die helder ys

edelgesteentes se rilling aaneengerygde sterlig

 

wit is die kleur van verlorenheid

dis nie ’n kleur nie

dis ’n delusie in wit

’n Vortex sneeu, ’n werwelwind

 

beswyming – Cave se kristalverdowing

 

wit is die woord

en witter die wederwoord

in winter se bewaarwater van wit

 

© Nini Bennett, 2021

 

 

* Die groepsuitstalling, Red Right Hand (27 November 2021), soos ondersteun deur Gordon Froud, het gefokus op die werk van Nick Cave.

Kunstenaar: Isa Steynberg

SNOW: Pigment op linnebord

54cm x 76cm

 

Nini Bennett. Die mense in my kerse

Tuesday, October 19th, 2021

 

Die mense in my kerse

 

Om ’n kers te brand,

is ’n kuns. My lig rank

in die van katedrale, ek bid

teen die duisternis van die eeu,

droom my hoogste visioen.

 

Innuendo. Die vrou met die vraagteken

op haar rug, demensie se inlas,

onthou is die afwesige een.

 

Die roofridder wat my hart weggedra het –

hy is op pad, ek voel dit in my murg,

my diepste skaduwee

die kultus geheime wat net minnaars ken.

 

Illuminare. Die navorser wat snags oor

haar sleutelbord aan die slaap raak,

’n leeftyd in die akademie,

’n paper in die pyplyn –

 

Die kankerlyer wat vra om te sterf

want dis haar geboortereg, die doula

wag by die rivier.

 

Om ’n kers te lees,

is ’n kuns. Dis die fynkyk

van druipkeëls en karst. Kurator

van waswerk is ek, druppels vuur

word grotpêrels en oerkandeliere.

Preller se laagbrand smelt

‘n madeliefie sonder blaker. Ek slaap,

ek sien my siel en dit brand stip:

die droomliggaam weet meer

as die wakende een.

 

Die mense in my kerse

 

’n middelpuntvliedende dans,

’n vlag, flakkerend,

Ragnarok se godeskemering

voor my ligbel

in repe waai.

 

© Nini Bennett, 2021

 

 

Nini Bennett. Meiboom

Tuesday, October 19th, 2021

 

Meiboom

(Vir Melodie)

 

I.

 

hoe skryf ek ’n gedig

oor jou

in die tyd van Covid –

 

maklik, want jy is lig.

 

Die feesgangers versier

die meiboom met rose

en vlae, ’n palmtak droom

dis pinkster en hoog bo

kroon die sonnewiel

die dag, 1 Mei elke jaar

word jy herbore

in die optog van fluite,

die eb en dy van linte

 

gedra

tot waar die swerfsteen

rus.

 

II.

 

26 Mei 2021.

168 miljoen gevalle wêreldwyd.

3.49 miljoen sterftes.

 

III.

 

Dis nie die naboom se melk

wat jou blind en lam

laat nie,

nie die noorsheuning

se brand nie –

 

dis die hibiskus

wat teen

die eerste koue beur.

Die dood dra dubbelborsblomme,

gekneusde snesies, gefrommel.

 

Hoe vlug

die breek, hoe lig

die val

 

uit die Boom van die Lewe.

 

 

IV.

 

Die meiboom vertak.

 

Glad

en sonder mededoë

rol die traanfilm

aangepas

vir die topografie van verdriet.

 

© Nini Bennett, 2021

 

* IV: Meiboomkliere in die oog skei ’n vetterige substans in die traanlaag af wat voorkom dat trane vinnig of maklik verdamp

 

 

Nini Bennett. In die ware sin van die woord

Friday, September 24th, 2021

 

In die ware sin van die woord

 

Die vrou hardloop verby

die hadidas, droewig die oervoëls

wat op lamppale waak,

metaalstemme en -vere

die rooidag se gebroke kore. Die vrou hardloop ná

haar minnaar wég van hom,

sy praat deur die sluier

van alle dinge. In die ware sin

van die woord praat sy die taal

van water wat blom in heksagone

en kantpatrone en verdroom

in die heilige Graal. Sy praat, ‘n meteoor

verskiet soos ‘n skool visse vliet

in ‘n silwer parabool – die vrou betrag

haarself op ‘n afstand, dis nog ék, nog sý,

want verlange is ‘n verlengstuk

van die self en verlange reik na alles:

die Augustuswind rittel aan deure

en ruite en telefoonlyne sing

kwartnote en voëls. In die ware sin

van die woord praat sy met hom –

‘n kortgolf.

Die stilte knal

wisteria, haar naam is geskryf in storms

en dit eggo in donderweer.

Sy woon in ‘n huis van ysterklip,

‘n doodsveragtende eensaamheid. Sy praat

met hom deur rooskwarts wat sonsondergange sink

en terugbloei tot dagbreek,

of die harde reën van helder kwarts.

Snags hardloop sy verby

‘n bataljon kerse, die wagvuur

van spreuke wat eendag

sal terugkeer in die ware sin van die woord.

 

© Nini Bennett, 2021

 

Nini Bennett. Die wysheid van riviere

Friday, September 24th, 2021

 

Die wysheid van riviere

 

Noudat jy oud is

’n rivier wat volmond

oor spoelklip slier

bidsnoere in die water

 

het jy die rook in die kristal

herken, weet jy waar

die fontein ontspring

terug na die Oog in die begin?

 

© Nini Bennett, 2021

 

Nini Bennett. Brand UK, 18 April 2021

Wednesday, May 12th, 2021

 

Brand UK, 18 April 2021

 

spinaaldun geryg,

rugkant

van die rakke

 

as ek

oor die vuurstof blaas,

verdwyn boeke

 

antieke tale –

 

hoe kortstondig

boetseer vlamme

hul kontoere van as

 

© Nini Bennett