Posts Tagged ‘Nini Bennett’

AVBOB “Ek wou nog sê”: Skakels na die hele reeks

Monday, June 7th, 2021

 

 

 

Al tien die episodes van die TV-reeks Ek wou nog sê is nou te sien op AVBOB se YouTube-kanaal by die volgende skakel:

 

https://youtube.com/playlist?list=PLxdvk8B-EWqskg19_H6uxDeBZin0NkE3N

 

Skakels na spesifieke episodes:

 

Episode 1 met Adriaan Bester (AVBOB), Marlies Taljard (Versindaba) & AVBOB Poetry Competition winners: Maretha Maartens, Maritha Broschk, Hannes Visser. Resiensie van Tussenganger (Marius Crous) deur Joan Hambidge.

https://www.youtube.com/watch?v=wxUSZCJHsPw

 

Episode 2 met Louis Esterhuizen. Resensie van Uit die kroes (Lynthia Julius) deur Joan Hambidge

https://www.youtube.com/watch?v=tfU7keYf8wI

 

Episode 3 met Jacobus van der Riet. Rensensie van Pleks van Plaas (Jerzy Koch) deur Nini Bennett.

https://www.youtube.com/watch?v=lI-Qw5FrWzI

 

Episode 4 met Diana Ferrus. Resensie van Ondertussen (Johann Lodewyk Marais) deur Joan Hambidge.

https://www.youtube.com/watch?v=Y4G2pjU4UZ8

 

Episode 5 met Johan Myburgh. Resensie van Het jy geweet ek kan toor (Jeanne Goosen) deur Nini Bennett.

https://www.youtube.com/watch?v=IxDs-r9CuSg

 

Episode 6 met Fanie de Villiers. Resensie van Grondwater (Marlise Joubert) deur Nini Bennett.

https://www.youtube.com/watch?v=utC9plELezA

 

Episode 7 met Antjie Krog. Resensie van Die meeste sterre is lankal dood (Johann de Lange) deur Joan Hambidge.

https://www.youtube.com/watch?v=Kmia3PLfTqo

 

Episode 8 met Chirchil Naudé. Resensie van By die dag (Eunice Basson) deur Joan Hambidge.

https://www.youtube.com/watch?v=SOMF_Pbz_lM

 

Episode 9 met Johann de Lange. Resensie van Die waarheid oor duiwe (Gisela Ullyatt) deur Joan Hambidge.

https://www.youtube.com/watch?v=_aIDww-Fjnc

 

Episode 10 met Lynthia Julius. Resensie van Bientang (Jolyn Phillips) deur Nini Bennett.

https://www.youtube.com/watch?v=LtNWn9GEoAw

 

Nini Bennett. Die Tarot as literêre muse

Saturday, May 29th, 2021

 

 

 

Vir eeue reeds wend skrywers en digters hulle tot Tarot-lesings as bron van inspirasie. Tydens die inperking het daar ’n hernieude belangstelling ontstaan in dié kaarte: Mense soek bemoedigende insigte oor werk, gesondheid en finansies. Die lees en bestudering van Tarot-kaarte is immers ’n aktiwiteit wat oorwegend solitaire beoefen word. In onlangse artikels op literêre webwerwe word daar opnuut gefokus op die terapeutiese waarde van Tarot-lesings. Die kaartspeletjies het inderwaarheid baie min te doen met toekomsvoorspelling of “waarsêery” – ’n Tarot-pak beliggaam ’n komplekse voorstelling van antieke simboliek.

Die herkoms van Tarot is onbekend. Volgens  historiese rekords is die eerste gedokumenteerde Tarot-pak tussen 1440 en 1450 in Milaan opgeteken. Die volgelinge en belangstellendes het in die geheim (in salons) speletjies soos die Italiaanse Tarocchini, die Franse Tarot en die Oostenrykse Königrufen gespeel. Eers in die laat 1800’s is wiggelary en toekomsvoorspelling beoefen. Alhoewel die kerk hierdie speletjies as duiwelskuns bestempel het en verwys het na die kaarte as “die prente/boeke van die duiwel”, het Tarot danksy die boekdrukkuns oorleef.

’n Pak Tarotkaarte bestaan uit 78 simboliese prentkaarte met filosofiese en kosmologiese korrelasies. Die pak word verdeel in twee dele: die Groot Arkana met 22 primêre kaarte, die hoofgeheimenisse, en die Klein Arkana se 56 kaarte met die sekondêre kaarte wat die subgeheimenisse voorstel. Die Groot Arkana simboliseer die oertipes van die verskillende paaie, kragte, aksies en strategieë van die mens. Die Klein Arkana verbeeld die verskillende toestande waarin die mens hom kan bevind. Die 56 kaarte bestaan uit die 4 hofkaarte van die 4 verskillende reekse, naamlik die Tarotstawe (Wands); Tarotswaarde (Swords); Tarotbekers (Cups) en Tarotskywe (Pentacles), wat dui op grade van menslike bevoegdheid. Die hofkaarte, weer, is die Boodskapper (Page); die Ridder (Knight); die Koningin (Queen) en die Koning (King). Aansluitend tot die hofkaarte is daar 10 kaarte in elke reeks wat begin by Ace I. en eindig by kaart X. Die 4 reekse verteenwoordig die volgende elemente en menslike eienskappe:

Stawe – vuur – motivering en wilskrag.

Swaarde – lug – denke en kognitiewe prosesse.

Bekers – water – emosies en gemoedstoestande.

Skywe – grond – materiële bates; fisiese toestande en belewenisse.

Die Tarot toon ook korrelate met ’n gewone pak speelkaarte, byvoorbeeld:

Stawe = Klawers

Bekers = Hartens

Swaarde = Skoppens

Skywe = Ruitens

Volgens sekere denkskole beskik die Tarot oor esoteriese skakels na die antieke Egipte, die Kabbala, die Indiese Tantra of die Yijing – en selfs die Torah, aangesien elke kaart in die Groot Arkana met ’n karakter van die Hebreeuse alfabet beskryf word, wat op sy beurt die 22 paaie in die Boom van die Lewe voorstel. Volgens die spirituele goeroe, George Gurdjieff is dit belangrik om Tarot as ’n eenheid van simboliek, astrologie en towerkrag (magie/magick) te verstaan. Ongelukkig assosieer die meeste mense Tarot met ’n vorm van fortuinvertellery wat met die New Age-beweging geassosieer word. Hierdie siening word versterk deur amateurs wat hulle kliënte “se kaarte lees” en só kwansuis “die toekoms voorspel” (meesal bewapen met ’n Tarot-boek om die uitleg na te slaan). Hierdie mense vra dan geld vir sulke lesings. Na my mening is sulke praktyke oneties en teenstrydig met die ware gees van Tarot.

Alhoewel die simboliek van die 78 kaarte sedert die middeleeue dieselfde gebly het, het die visuele vertolking of interpretasies daarvan by die onderskeie kunstenaars en mistici bly verander. Daar is tans ’n legio stelle kaarte om van te kus en te keur. Tarot volg ook die tendense van die populêre kultuur – daar is selfs Harry Potter– en My Little Pony-pakke beskikbaar!

Die pak wat verreweg die meeste gebruik word, is die Rider-Waite-Smith-Tarot: dit is die ‘standaard’ stel kaarte. Die Navigators Tarot of the Mystic Sea Tarot van Julia A. Turk is ook in aanvraag. In 1973 het die vervaardigers van die Bond-film, Live and Let Die vir Salvador Dalí gevra om ’n pak kaarte te skilder, spesiaal vir die film. Ongelukkig het die transaksie deur die mat geval omdat Dalí onredelike finansiële eise gestel het en te veel “lenings” teen die ooreengekome kommissie aangegaan het. Dalí het wel sy eie eksotiese, surrealistiese galery Tarot-kaarte in 1984 voltooi. En, tiperend van die surrealistiese maestro, het hy verras met sy aweregse  humor. Hy het homself verbeeld as die Magiër (Magician). Roger Moore, wat op daardie tydstip die rol van Bond gespeel het, se voorganger, Sean Connery, het ’n kameevertoning as die Keiser (Emperor) gemaak! Baie slim: 007 moes in sy pasoppens wees … Dali se vrou, Gala, was die Keiserin (Empress). Die Dalí-Tarot is ’n ware juweel: surrealisme en die esoteriese ontmoet en die groot meesters se werk word geparodieer met kitsch en Christelike ikonografie. Die digter William Blake se stel, The William Blake Tarot of the Creative Imagination is, soos Dalí se pak, ’n stel kaarte vir die fynproewer. Die invalshoek is ’n digterlike een, gebaseer op Blake se visuele interpretasies en poëtiese insigte rondom Tarot. Die kaarte is egter verfrissend vry van intellektuele bagasie, en Blake nooi die leser op ’n speelse wyse uit om die reis deur die geheimenisse met hom mee te maak.

Digters was maar altyd lief vir Tarot. Die Nobelpryswenner, William Butler Yeats was in die laat 1800’s lid van die okkulte organisasie, The Hermetic Order of the Golden Dawn waar die volgelinge seremoniële toorkuns beoefen het; die aanleer van Tarot was een van die inisiasierites. Blake het die illustreerder van die Rider-Waite-Smith-pak, Pamela Smith, raad gegee met die visuele vertolking van die mistieke simboliek – m.a.w. digters en digkuns het die interpretasie van die kaarte beïnvloed, op soortgelyke wyse wat Tarot digters beïnvloed het in die skryf van poësie. Vervolgens ’n uittreksel uit Yeats se gedig, “The Tower” (die Toring XVI. is ’n kaart in die Groot Arkana):

 

[…]

Good fellows shuffled cards in an old bawn;

And when that ancient ruffian’s turn was on

He so bewitched the cards under his thumb

That all but the one card became

A pack of hounds and not a pack of cards,

And that he changed into a hare.

Hanrahan rose in frenzy there

And followed up those baying creatures towards –

[…]

 

Die Toring verwys na die prosesse van veroudering en die Ego wat in die slag bly. “Hanrahan” dui waarskynlik op die die Dwaas / The Fool 0., die heel eerste kaart van die Groot Arkana, ’n kaart met ’n nulwaarde: die begin van die (jeugdige) dwaas se reis.

 

[…]

Before that ruin came, for centuries,

Rough men-at-arms, cross-gartered to the knees

Or shod in iron, climbed the narrow stairs,

And certain men-at-arms there were

Whose images, in the Great Memory stored,

Come with loud cry and panting breast

To break upon a sleeper’s rest

While their great wooden dice beat on the board.

[…]

 

Die verwoesting van die Toring-kaart word beskryf – die kaart simboliseer ook die Toring van Babel. “Great Memory stored” reik moontlik na die kaart wat ná die Toring volg, naamlik die Ster: Verligting en openbaring via die kollektiewe onbewuste.

Ook in T.S. Eliot se “The Waste Land” verwys die digter na Tarot-kaarte:

 

[…]

Madame Sosostris, famous clairvoyante,

Had a bad cold, nevertheless

Is known to be the wisest woman in Europe,

With a wicked pack of cards. Here, said she,

Is your card, the drowned Phoenician Sailor,

(Those are pearls that were his eyes. Look!)

Here is Belladonna, the Lady of the Rocks,

The lady of situations.

Here is the man with three staves, and here the Wheel,

And here is the one-eyed merchant, and this card,

Which is blank, is something he carries on his back,

Which I am forbidden to see. I do not find

The Hanged Man. Fear death by water.

[…]

 

Kenners beweer die “drowned Phoenician Sailor” sinspeel op die Tien van Swaarde, terwyl die “Lady of the Rocks” dui op die Koningin van Bekers / Queen of Cups. Dan is daar die Drie van Stawe (“man with the three staves”), die Wiel van die Noodlot (“The Wheel”), (Ses van Skywe / Six of Pentacles – “the one-eyed merchant”), en die Gehangde Man (“The Hanged Man”). Laasgenoemde kaart word astrologies beïnvloed deur Neptunus, wat gerig word deur die element water.

In Afrikaans skryf Joan Hambidge op ’n gereelde basis oor Tarot-kaarte in haar verse, onderhoude en artikels op haar blog, Woorde wat Weeg. Maar tog is daar ’n opvallende afwesigheid, ’n leemte t.o.v. Tarot in die Afrikaanse letterkunde. Van die redes is moontlik die rol van die kerk wat die kaarte as “duiwels” gebrandmerk het, gebore uit onkunde en gedryf deur ’n vrees vir die okkulte. Ek verkies om die woord “esoteries” te gebruik, want “okkult” kom met baie bagasie saam; dis pejoratief. Esoteries beteken “verborge kennis” en dra nie ’n ingeboude waarde-oordeel en beletsel soos sy okkulte eweknie nie. Voor die koms van aanlynbesteldienste was Tarot moeilik bekombaar – waarskynlik slegs by enkele boekwinkels of ander esoteriese winkels. Tog het Tarot-kaarte hulle opwagting gemaak in boeke se omslagkuns.

 

 Isis Isis Isis, 1969, Human & Rousseau

 

Etiene Leroux se roman, Isis Isis Isis, se voorblad toon ses Tarot-kaarte uit een van die oudste Tarot-pakke, die Tarot de Marseilles wat reeds in sirkulasie was in die 15 de eeu in Italië. Dié roman vorm deel van die 18-44-trilogie: 18-44, Isis Isis Isis en Na’va. In Isis Isis Isis maak Leroux gebruik van die Egiptiese mite waarvolgens die god van die doderyk, Osiris, deur sy broer Set in 14 stukke opgekap is en weer deur die vrugbaarheidsgodin Isis aanmekaar gesit is nadat sy al die stukke behalwe die fallus gevind het. Die knolskrywer, as die verkapte Osiris, reis deur Europa om sy gefragmenteerde self byeen te bring, en in die proses loop hy 14 vroue raak wat die rol van Isis sou kon speel.

 

 Omdat ons alles is, 1998, Tafelberg

 

Omdat ons alles is, is ’n kortverhaalbundel van die bekroonde digter, H.J. Pieterse. Die kaart op die voorblad toon die Gehangde Man XII., soos dit voorkom in die Groot Arkana. Die betekenis is onder meer opoffering; die oorgawe van die Self aan hoër beginsels. In ’n motto voorin die bundel haal Pieterse ’n vertaalde weergawe van die offergod, Odin, aan. Die verwysing kom uit die Hávamál, ’n Yslandiese gedig wat skakel met die oud-Noorse filosofie.

 

I know that I hung

in the windy tree

for nine full nights.

Wounded by the spear,

consecrated to Odin,

an offering to myself

on the tree

whose roots are unknown.

 

’n God (Odin) geoffer aan homself, ’n god  verwond met ’n spies herinner aan die hang (kruisiging) van Christus. Odin het gehang aan die Wêreldboom, ’n opoffering om die mistieke Runes te ontdek en te verstaan. Die bundel kortverhale handel oor die verteller se verwerking van pyn en verlies na sy vrou se selfdood.

 

 Stoornis, 2002, Tafelberg

 

Die kortverhaalbundel van Nini Bennett toon die Drie van Swaarde, ontleen uit die verhaal “Die besoeker”, waar ’n liefdesteleurstelling onder die soeklig kom. ’n Fotobeeld van ’n (‘ware’) Keltiese Kruis-lesing verskyn in die verhaal. Drie swaarde deurboor ’n hart en in die agtergrond val daar reën uit die wolke; trane wat later simbolies lei tot genesing en nuwe groei.

In oorsese lande word die lees van Tarot-kaarte al vir jare aangebied as deel van skryfkunskursusse. Met die koms en evolusie van moderne tegnologie met die gepaardgaande vervlakking wat dit meegebring het, het daar ’n hernieude belangstelling in Tarot en sy deelgenoot, esoteriese selfontdekking, ontstaan. Tarot en skeppende skryfwerk se gemene deler is om die kompleksiteit van die menslike kondisie te verwoord. Tarot word as deel van opleiding in skryfkuns ingespan om o.m. skrywersdroogte te oorkom, of om die kreatiewe sone te help ontwaak. Tarot deel in geheimenisse, óók die spirituele syn van die leser van die kaarte wat verborge bly. Die kaarte “sien” dit wat al reeds waar is; nie noodwendig die toekomstige uitspeel van situasies nie. Met ander woorde: Tarot beliggaam die spirituele praktyke van die leser-skrywer wat verpersonifiseer word. ’n Skrywer of digter is gewoond aan lees: só ‘n persoon lees alles, van resepte, pamflette, koerante, sosiale media en boeke, tot die konkrete detail in die leefwêreld rondom hom. Voeg die lees van Tarot-kaarte by, en die leesproses word ’n resonante ervaring waar alles ’n “interkonneksie” vorm – alles is verwant aan mekaar. In die gedig van die wêreld verbind alle konkrete detail met abstrakte temas en argetipes om ’n betekenisvolle narratief te skep. Die meesternarratiewe van die lewe is reeds geskryf, dit herhaal, dit vorm patrone; en Tarot help skrywers om deur die donker portale van die onderbewuste te navigeer waar beeld en woord ontmoet. ’n Skrywer soos Alexander Chee (skrywer van The Queen of the Night en Edinburgh), gebruik die Keltiese Kruis-metode om te “sien” wat sy karakters volgende gaan doen. Tarot is dus ’n bouprogram, ’n karakterontwerp of -verhoog wat die skrywer lei tot insig in die narratief wat hy besig is om te skryf. Digters, op hulle beurt, put ook ryke inspirasie uit Tarot se digte substrata van antieke en esoteriese simboliek. ’n Pak soos The Lover’s Path Tarot maak byvoorbeeld gebruik van karakters in folklore, mitologie en sprokies as karakterverhoog om die leser insig te gee in die geleefde weë en argetipes van die liefde. Veral liefhebbers van poësie sal hierdie pak kaarte as verrykend ervaar.

Vervolgens, ’n Tarot-vers deur Franci Niewoudt:

 

the Fool (Major Arcana)

gekke weet dat die aarde behoort

aan eenvoudiges

so ook die uitspansel

binne elke dwaas

swerf ’n Groenman

wat dans met drie boontjiepitte

en ’n slakdop

waaruit ’n roos spiraal

’n gids hou immers wag

by die stomp afheinings

van donker flits

by ongekettingde hekke

sotte weet dat die lewe ’n sterpad is

wat wit geklip

en oop lê

(Vlerkslag van kleur, 2016, Cordis Trust Publikasies)

 

 

Verwysings:

https://lithub.com/why-are-writers-particularly-drawn-to-tarot/?fbclid=IwAR3hCYwJTvyfpKPAxFnx8WKfYy08Z-oFIvuczUJSqjz62Oj19mjmM6iMRZ8

https://blog.bestamericanpoetry.com/the_best_american_poetry/2014/02/poets-and-the-tarot.html?fbclid=IwAR3EJA6R5yc3LNgbwybiQto8MYQMV81MxjiiX3Vuoc8_5LaASkqX8XJFpbg

https://www.smithsonianmag.com/smart-news/see-surreal-tarot-cards-designed-salvador-dali-james-bond-movie-

https://en.wikipedia.org/wiki/Tarot?fbclid=IwAR2hQtm6kKnuFLvexz0V9ctKs2gB5WHPrcE94Zx22nefzi_s0fQ3DGtyjLI

 

Nini Bennett. Winterweelde

Tuesday, May 11th, 2021

 

 

Dis iets waaraan ek elke winter dink. Dit begin tydens die herfs met die verkleuring van boomblare na geel, oranje, rooi, ougoud of ’n pienkerige skynsel. Teoreties gesproke is die kleurstof karotienoïed – die pigment wat die plek van sterwende chlorofil inneem en bome tooi in tradisioneel ‘warm’ kleure. Winterweelde. Die dood is mooi, en sy karotien is koninklik. Hoeveel gedigte en skilderye besing nie herfs- en winterbome nie? Tog is die biologiese agente veel meer poëties as kunstenaars se mimesis daarvan. Die winterboom gebruik nou minder energie: die hele gemenebes moet die koue maande oorleef. Die dooie blare val, word humus om die grond te voed. Dan kom die wintervrugte en sitrus: oranje, rooi, geel en pienk, en dit sinjaleer ’n verhoogde produksie van Vitamien A en C om immuunsiektes teë te werk. Karotien. Vuurlelies, vuurkruid, vuurpyle en vlammende aalwyne: karotien. Veldbrande wek vuurblomme op uit die as, blomme wat as pionierspesies uit blote koolstof en wind ontwaak om met gister se vlamme te spot. Weer loop Winter se sagtewareprogram, amper asof gekodeer: karotien. ’n Rooi pigment, antosianien, word eers in die herfs vervaardig, terwyl karotien gedurende die somer teenwoordig is in die blare, maar eers met die sterwende chlorofil sigbaar word. As daar nie meer chlorofil oor is nie, word ’n populierblaar heldergeel, maar ’n esdoringblaar helderrooi.

Wanneer dit lente word in die verre noorde, kondig die Rooi Kardinaal dit eerste aan. As hy ’n instrument was, was hy ’n trompet; en as hy ’n komposisie was, was hy vir seker ’n overture.

 

The Red Mist

 

Die woud verkleur

en dra ’n stiltekleed

soos ’n kardinaal.

Herfs is die strooidood

van gode. Stamme versag

as mis asem, boaards deur

die rooi konklaaf van blare.

Stamme raak lank en dun in eerbied

en wag; krone verdwyn

soos rook in ’n houtskooltekening.

Dan vlam die hemel self

in vuuropaal en die towerwoud

word ’n katedraal.

 

© Nini Bennett. Donkerwerk, Naledi 2019

 

Vervolgens dié vers van N.P. van Wyk Louw wat altyd tydloos en klassiek sal staan in die Afrikaanse letterkunde. Uit die siklus, “Vier gebede uit jaargetye in die Boland”: 

 

Vroegherfs

 

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug,

tot selfs die traagstes; en die eerste blare val

so stilweg in die rook-vaal bos en laan,

dat die takke van die lang populiere al

teen elke ligte more witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:

laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en vér was van die pyn;

laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn.

 

© N.P. van Wyk Louw, Groot Verseboek Deel I, André P. Brink, Tafelberg, 2008

 

Of dalk hierdie meesterlike vers van Johann de Lange.

 

’n Blaar van Coleridge se boom

 

Net die een rooi blaar, die laaste van sy stam,

’n enkele rooi kryger, puntig soos ’n hanekam;

hy hang so lig, hy klim so hoog; – my klein rooi

vlag

wapper aan die uiterste twyg in verset teen die

gram-

skap van die winterlug: laag, omsingelend &

byna nag.

 

© Johann de Lange. Stil punt van die aarde, Human & Rousseau 2014

 

Nini Bennett. Die wolke is deur digters gedoop

Sunday, November 3rd, 2019

I.

De Wolken

 

Ik droeg nog kleine kleeren, en ik lag

Lang-uit met moeder in de warme hei,

De wolken schoven boven ons voorbij

En moeder vroeg wat ‘k in de wolken zag

 

En ik riep: Scandinavië, en: eenden,

Daar gaat een dame, schapen met een herder –

De wond’ren werden woord en dreven verder,

Maar ‘k zag dat moeder met een glimlach weende.

 

Toen kwam de tijd dat ‘k niet naar boven keek,

Ofschoon de hemel vol van wolken hing,

Ik greep niet naar de vlucht van ‘t vreemde ding

Dat met zijn schaduw langs mijn leven streek.

 

-Nu ligt mijn jongen naast mij in de heide

En wijst me wat hij in de wolken ziet,

Nu schrei ik zelf, en zie in het verschiet

De verre wolken waarom moeder schreide –

 

Martinus Nijhoff

 

Ons is almal waarskynlik bekend met hierdie klassieke, tydlose gedig van Nijhoff. Wolke, of cloudspotting is die natuur se eie Rorschach-toets. Wolke is die mens se gunsteling atmosferiese verskynsel en boei digters, kunstenaars en wetenskaplikes al vir eeue lank. Twee millennia voor die digter, Mark Strand, oor wolke geskryf het, het die groot Griekse dramaturg, Aristofanes opgemerk: “They are the celestial Clouds, the patron goddesses of the layabout. From them come our intelligence, our dialectic and our reason.”

Tog was niemand meer gefassineer deur wolke as Johann Wolfgang von Goethe nie. Toe die chemikus en amateur-meteoroloog, Luke Howard in 1803 ’n 32-bladsye pamflet getitel On the modifications of clouds publiseer, het Goethe onmiddellik die wetenskaplike meriete van die publikasie raakgesien. As Direkteur van die Instituut vir die Kuns en Wetenskappe in Sachsen-Weimar was Goethe ook betrokke by die vestiging van weerstasies vir weerkundige observasies. Waar die lees van wolke vroeër beperk was tot die ingewyde (en verborge) kennis van seemanne, kleinboere en skaapwagters, het Howard begin om wolke vir die eerste maal volgens Latynse nomenklatuur te klassifiseer. Hy het hulle breedweg onder Cumulus, Cirrus en Stratus geressorteer, met enkele subklassifikasies. Die grondslag van Howard se werk word tot vandag toe erken, al het die lys taksonomieë en wolkgeslagte intussen aansienlik uitgebrei.

Cumulus beteken “hoop” en beskryf die opgehoopte, uitgepofte wolke wat ’n mens aan springmielies laat dink. Cirrus beteken “haarlok” of “veertjie” en hierdie soort wolke lyk dan ook werklik soos krulle of veertjies. Aan die wolke wat soos massiewe komberse oor die hemelruim uitgesprei lê, het Howard die naam Stratus gegee, wat “laag” (“layer”) beteken. Wolke, op hulle beurt, bestaan uit waterdamp wat klein druppels of yskristalle vorm, gewoonlik 0,01 mm in deursnee. Wanneer biljoene druppeltjies of kristalle saamgegroepeer is, is hulle sigbaar as wolke.

Goethe, wat sedert die begin van die negentiende eeu erkenning geniet het as intellektuele ikoon, was meegevoer – én geïnspireer – deur Howard se werk. Hy het ’n reeks kort gedigte oor die vername wolksoorte geskryf, getitel Howards Ehrengedächtnis (In Honor of Howard). Sonder omhaal het Goethe sy onverbloemde bewondering vir Howard besing:

 

To find yourself in the infinite,

You must distinguish and then combine;

Therefore my winged song thanks

The man who distinguished cloud from cloud.

 

Die reeks van vier musiekgedigte is inderdaad ’n viering van die ewige dialoog tussen die kuns en wetenskap. Goethe se verbysterende kennis en bydraes strek tot in die natuurwetenskappe, byvoorbeeld sy bekende kleurteorie, of sy belangstelling in morfologie, wat die bou en struktuur van verskynsels betrek. Tog word Goethe se bydraes eerder gesien as geesteswetenskaplike bydraes en aanvullend tot die wetenskappe; en só word Howard se wolkklassifikasies omraam deur Goethe se poëtika van die wonders van die dampkring. Twee voorbeelde van Goethe se wolkgedigte:

CUMULUS

 

Still soaring, as if some celestial call

Impell’d it to yon heaven’s sublimest hall;

High as the clouds, in pomp and power arrayed,

Enshrined in strength, in majesty displayed;

All the soul’s secret thoughts it seems to move,

Beneath it trembles, while it frowns above.

 

 

CIRRUS

 

And higher, higher yet the vapors roll:

Triumph is the noblest impulse of the soul!

Then like a lamb whose silvery robes are shed,

The fleecy piles dissolved in dew drops spread;

Or gently waft to the realms of rest,

Find a sweet welcome in the Father’s breast.

 

 

Op sy beurt was ’n jong klerk en vertaler van Londen, Johann Christian Hüttner só betower deur Goethe se gedigte dat hy dit op hom geneem het om die reeks vanuit die Duits na Engels te vertaal.

II.

In 1999 het die Pulitzer-pryswenner, Mark Strand, in samewerking met die kunstenaar, Wendy Mark ’n wonderlike kleinood van ’n boek, 89 Clouds uitgegee. Dit bestaan uit ’n enkelgedig waarin 89 refleksies en meditasies rondom wolke neerslag vind, aangevul deur Mark se sensitiewe skilderye. Oor dié boek het kritici gesê “no pixel or prose can do it justice”. Enkele voorbeelde van hierdie besinnings:

  1. Words about clouds are clouds themselves
  1. If snow falls inside a cloud, only the cloud knows
  1. A cloud dreams only of triangles
  1. Clouds are thoughts without words
  1. If a parrot is lost in a cloud, it turns into a rainbow
  1. Clouds are drawn by invisible birds
  1. Clouds are in love with horizons
  1. The cloud that was gone would never come back
  1. Every lake desires a cloud
  1. A cloud is a cathedral without belief
  1. Clouds cannot see what we do under the umbrella

 

III.

Wolke  

 

Wolke is gedagtes

wat vra om woorde te word.

Ek speel met beelde

van Kopland, Nijhoff en Strand,

sien vergesigte van reën,

die knettervuur van hael op dakke,

die son se loodlyne wat sub-tropies

die hemel deurhaal in waterpas strale.

Of die los genade as

klawers spat, vet druppels

armmansreën; die nederige Karoo

se gulhartige gee.

.

Die meteorologie staan tru.

Cirrus se veerlig,

die brandstapels in Cumulus.

Die miere, die verspieders weet

die wolke is deur digters gedoop.

 

© Nini Bennett. Uit: Donkerwerk

 

Verwysings

 

https://lyricstranslate.com/en/mark-strand-89-clouds-lyrics.html?fbclid=IwAR3KWEULZzcXqTkUKUWBJVi2X1HqFDK38WP5KkkPy-PaJOCTIT6h1x07mPU

http://www.boekgrrls.nl/WoensdagGedichtdag/NijhofMartinus.htm?fbclid=IwAR21BRusQMr-rfprt3J1uqUXgY1XopYz_4e1nWDyOVxpAK7Qh8idc1Wp8gg

http://www.tottenhamclouds.org.uk/goethe-discovers-luke-howard.html?fbclid=IwAR343_ACmV0lHuSiJLZIygoW8wlM1uX2h68jy-LjqQRJLqtmXrjstS9s0MU

http://bib.gfz-potsdam.de/pub/schule/goethe/startgoe_en.htm?fbclid=IwAR0W9s_x8tzhd_A3v7T8nRRrVkqBOkAW8HpeMOm-UX_ElgBBewCFlFSDS_o

Bennett, N. Donkerwerk. 2019. Kaapstad: Naledi

Gedigte vir Breyten Breytenbach: 16 September 2019

Monday, September 16th, 2019

Breyten Breytenbach.”Pensief”  Grafika, DWV

Vir Breyten Breytenbach met sy 80ste verjaarsdag op 16 September 2019

Liewe Breyten, hiermee wens Versindaba jou geluk met die vername jarigheid vandag. Uit verskillende oorde het ons ʼn paar bydraes vir jou versamel (alfabeties vlgs van) as ʼn gebaar van waardering deur jou mededigters en ook om hopelik ʼn bietjie prettigheid toe te voeg tot jou geboortedag. Ons almal is saam met jou bly vandag en vier jou as mens én uitsonderlike digter.

 

Voorspoed en vele kreatiewe jare word jou toegewens!

 

=====================================================

Nini Bennett

16 September 2019

op weg na kû

Breyten Breytenbach

 

kyk hoe hou hy die handspieëltjie

hoog in die duister

om die melkweg as droomstroom

te vang in die skuit van bewussyn

 

ek slaap in ’n satelliet se vergesig

en alles wat verborge

of verlore is, als argief

 

mag die dag nooit breek

hierdie nag se vergete juwele

die silwer reën van meteore

verder as

die galery van sterre ja verder as

die bladeindes van nog ’n vers

 

[© Nini Bennett. 2019]

=====================================================

René Bohnen

16 September 2019

 

al die honde blaf geel

vandag-vandag

is breyten

taggentag

 

kom dans dan, dans

van sonkol tot sonkol

al kou die ure aan ons

blou hande, al klou

die winter aan die tuinklip

met sy logogramme

 

weet

ook vir ʼn landskap is ʼn mens

net een keer

ʼn maagd

ook vir papier

word

mettertyd ons rymelinge

mymeringe

in ʼn veld van suggestie en skaduwees

 

so minsaam so min saam

skyn

die kulprofeet ou sensmaan

en gevlekte uile met ingehoue vokale

uil die donker vol –

nagvlieërs op ʼn blinde reis

tot in der skewigheid

 

kyk            kyk

 

Woordgogel

hurk daar op die dak

  die ene vlerk en inasem(s)ing

breytenste buiteblaf

dankie jy

 

bring gloeipampoene vir ons ont-donkering

 

(© René Bohnen. 2019)

*

====================================================

Marius Crous

lama dashi

Vir Breyten Breytenbach, 16 September 2019

 

baardbard

elke lente droom jy

oor kamers vol rooi blomme

trap jou skaduwee sonder kop in jou spoor

soggens met die kleur van café con leche

voet op die vloervelletjie

wink jy iesie-iesie die dood nader

maar geel soos sult is jy ou ingesoute

opgefrommel soos dasji-dorzo

in jou trans van toekdam

*

vat jou hand selfgestook vlam

op blaaie vol foto’s van slagters

opgekaptes swaaiend aan ‘n haak soos slagskape

in die aand die maan rooi soos pampoen

knars jy skulpe sonder skoene see toe

jou skryfhand ‘n fakkel vir die nagdwalers

 

die staanklokke groei vlerke in die heuwelhuise

jy bind ‘n stralekrans (vis aan tou) om jou kop

kuif teen die wind hand onder die lapel (klein generaaltjie)

seil jy uit onder ‘n string seevoëls

soos gebedsvlae saam bo die skuit

 

die land sal jy nie meer sien nie

ou blinde seeman

die beentjies in jou ore verkrummel

ou patatrank

selfs die klank van bokkoms en boegoe

irriteer nie meer jou neushare

ou uitgebrande botterlamp

 

toemaar

 

ons gevlerktes

wit soos ghwano op die klippe

ons wag vir jou

ons sal die boot vang

met die verbykom

 

[© Marius Crous  – 2019]

*

=====================================================

Heilna du Plooy

Wat die digter weet

Deurentyd en deur die tyd heen
gaan dit oor veel meer as net ewewig;
oor meer as die eweveel
op twee pannetjies van die weegskaal;
veel meer as die balans waar alles val
en een ding staande bly.

Dit gaan gewis oor meer
as blote simbiose of meeleef,
oor meer as die samehang
in die weefsel van ’n spinneweb
waarin meervoudige vertakkings
as een patroon meetril.

Hoe onverklaarbaar die maan
en die eb en vloed van die oseaan
se liefkosings wedersyds heen en weer
wat waters laat kook en bedaar
langs die kus en snags oor die land
silwer weerkaatste son áfstraal.

Hoe skrikwekkend die kragte en magte
van magma onder die aardkors
wat gloeiend die aardplate dra
en onverstoorbaar stuwe en kolk
totdat dit uitbars in kokende klip
en die as van ’n verbrandende wolk.

Hoe ontstemmend die mensdom
se heersug, die griewe, die labiliteit
wat voortwoeker onder die vel,
wat heimlik agter die oë ver van die lig
strukture selfkoesterend uitdink
en ander se lewens vertroebel en kwel.

Nogtans, nogtans, nogtans.

Onder die son en die maan
bly die see steeds binne sy strande,
die rivier steeds binne sy bedding; sprei
die boom homself ondergronds uit,
wyer as die span van sy takke bo
en dieper as sy kruin teen die lug.

ons weet nie
wat vir ons bestem is nie
ons tas
met dun
wortels in die lug
heg
met senings
aan die aarde
vir gerusstelling
en vir uitsig

Goedaardige amoebes is wat nodig is
om hulleself in duike en in skeure te werp,
hulleself óm bulte en óór uitstulpings te vou
in die onvoorspelbare wêreld en wêrelde:
allerindividueel bestem, versigtig
soos die slange en opreg soos die duiwe.

want ons weet nie
hoe die sterre hang nie
hulle bots nie
en hulle val nie
en ons
ons stort
bloot
voorsiens
in
ons voortgang
in

 

[© Heilna du Plooy. J’baai 2019]

*

=====================================================

Louis Esterhuizen

Lumier

 

En jy, tot stilstand gebring

 

deur die trae spoed

van ʼn begeerte: die landskap wat knak,

voue maak, met jou. Iewers elders,

 

hoog, deur die wind

in ʼn stadige valk se sirkelgang gesluit –

 

Daar is melk in die aarde se holtes,

hoor jy, heuning in die lig se gebreekte klip.

 

[© Louis Esterhuizen / Sept. 2019]

*

=====================================================

Diana Ferrus

om tagtig op te verdeel 

(vir breyten breytenbach op sy 80ste verjaarsdag)

 

ons sukkel nie meer met literêre verset nie.

nou drup daar genoeg rooi op ‘n witblaai.

met gesigte teen die wind blaas ons uit

terug na daar waar die onheil broei.

ons boeke laat vure ontvlam,

hoeke so skerp, dit sny die swere oop.

tog is ons blaaie verbande, ons woorde salwend

en ja,

mag ons nooit vergeet dat daar ‘n tyd was

toe jy geen doekies om onreg wou draai nie.

jy het revolusie gedrup en daarvoor …

het jy met ‘n groot hap uit jou tagtig betaal.

 

enkosi, dankie, thank you, merci,

die een en enigste breyten

breytenbach!

 

[© Diana Ferrus. 2019]

*

======================================================

Pieter Fourie

onrus kiekie van breyten

[tussen uys en jan]

 

bruingebrand

in jou winterlandfrokkie

bobaas ontbaasde slaweklokkie

 

om die hele ou spulletjie van ons

se koppe trompop op te dons

 

meedoënloos sonder kies of keur

gesondheid boere

teer en veer

 

wees hom nie ge-nadig

kyk, hy is ons-kuldig

 

[© Pieter Fourie]

*

=======================================================

Melanie Grobler

Sterftejas

’n gedig vir Breyten Breytenbach

 

Deur die nag gekom

verby verlate stasies gereis

daagliks klop die koerier

aan die geelhoutvoordeur

 

omdat die sterfjas

te swaar, te lomp

is vir ’n hemelvaart

stuur sy vrou dit terug

na die onkoloog.

 

Die sieke vra ’n mooier jas

of selfs ’n seremoniële baadjie

’n seeblou lotus borduur deur sy geliefde

nee, ’n lang synagrok van die langoorrivierkonyn

kartel teksture in die varingplek van berge

die middernagson wat sweef deur die singende bome

 

kontinente wat seismies skeur

heeldag voor die kaggelvuur

almal huil, maar niemand

dink aan oleanderspatsels

as die donkerte aan die ruite pluk

of die raaisels van die dood

wat hom skielik uit die bloute pas.

 

Alles van waarde is weerloos.

 

[© Melanie Grobler]

*

=====================================================

Pieter Hugo

 

‘n HANDVOL BREYTEN

 

Almal ken mos die maer man

die een met die groen trui

hy vir wie ons woorddadig al haarloos blinkgevat het

hy wat die drome van ons reis

deur hierdie voorlopige suide

met geheime gedigte

in die deuropening laat staan

 

Maar ken ons hom?

Die ruiter van syn op die perd van lug

die ros van asem wat moes vlug

voor die gedaste menere van ons liederlike nagmerrie?

Hy was skadeloos, maar ons was hom ongenadig.

 

Wat het geword van Bittergesig Buiteblaf?

Hy het aanhou gedigte kug

terwyl hy die swaar klip moes dra

sy kop het bly groei hemelruim toe

met sy ware handskrif een van rus

woordend aan die volmaking

van die wysheid die lieflike die heilige

soos ‘n bergkruin vol sneeu

maar ons het hom genadeloos

te lig ge-yk

te donker ge-sel

gedink sy skaduwee sal klein skuil in sy lyf

 

Wie is hierdie Bullebach?

Hy is die groot voël so groot soos lig

Dié Afrikaanse Vokaal in ons familie van verskeurde klinkers

met ‘n konstellasie van sterre op sy voorkop wat arendsoog

steeds méér sien

steeds murg uit die werwels suig

*

Breyten, ken ons jou?

Of ken ons net die hond se swartvlieërblaf

teen die donker ruit?

Hoe leef jy in hierdie Taal wat jou ge-Judas én ge-Jesus het?

Wees ons, die fokkenvolk, tog genadig

 

Al is daar die kraak en knetter en krimp

van die verbygaan van die lewe

laat die Akashiese voël tydloos

gedigte pik pik pik

teen jou tronkselskedel

op weg na die kû

tot jou vlerke met koel blou windteue vryvlieg

héél in die heelal

 

[© Pieter Hugo. Sept. 2019]

*

======================================================

Louis Jansen van Vuuren

 

Liewe Breyten

 

Ek begin ‘n odegedig te skryf:

 

‘n speedcop sê my op agtien:

jy dobbel met jou lewe

as die naald op tagtig bewe

 

my moed begewe my

eerder, ‘n mondvol van jou eie woorde

as verjaarsdaggeskenk aan jou:

 

‘oopgaandae, vorentoeverstand, nagswerwer en soen

lysternagtegaal, wegvlerk. oerdonker en oerkluis

saamreisengel, weggooibrak en sterre

trapdans, spookvoëls, witgloeimaan en flintroer

besnuffel, handuitsteek, bekrabbel en ‘n pluksel vye

sterfjas, voordagbreekglans en huis-toe

droomkluitjie, botteroog en roetrook

 

ek stuur vir jou hier

die mondklippies toegedraai in papier’

 

baie geluk Breyten

van Louis

 

[© Louis Jansen van Vuuren. 2019]

*

======================================================

Antjie Krog

Mag die jaar wat voorlê skandalig geseënd wees , liewe Breyten!

En ter herinnering ’n gedig oor die tye toe ons waarskynlik op ons heelste was…

 

watervalberaad

                                                     liberation – here I am this first day shimmering bright

                                                     among angel choirs; afar the feathered folk sing psalms

   breyten breytenbach

 

die plat breë groen voorkop van die Zambesi

wat stort en stort     af

af

vallende water

skakels skuim

spattende slierte

hare stromend

rokend

reënboë wat bind   opbind

die damp

die sproei

 

die stomende groen voorkop van die onliegbare Zambesi

 

op die versengende lughawe

anderkant die doeane

Breyten sigbaar tuis op die vasteland

yours now slaked of all dishonour

sy oë eboniet    grys bak baard om die towertong

 

Barbara met die blinkste oë

in dié gedig wil ek jou teen my vashou

jy omarm my weeklagende hart

sê weer: everything will come right

weer: and it will be soon

and you’ll wait for us at the airport

 

Essop maak sy kinders groot in Londen

leer hulle Schweitzer- Reineke sê

hulle enigste land lê net op sy tong

 

Rebecca en Baleka:  ons kyk foto’s

van ons kinders onbevange gesiggies na die kamera

onsself stram op die agtergrond

huise waarin politiek nooit gaan lê nie

 

yours all freaked free in the boweries of the night

 

‘n aparter strofe vir Albie Sachs

donkerblou penstrepe skryf fyn oor die gesig van die vers

Mandela   Mandela  sing Baleka

Freedom is in your hands

 

en die harde stemme van skrywers

en die moeë stemme van digters

vlek die aand die land soos ‘n mat

skiet dit oop aan ons voete

en dit lê  ons land lê tussen ons

deur taal getaal totaal vertaal

deur soveel  trane en trooste verlangend afbetaal

praat ons ons land se nuwe taal ‘n metaallose taal

‘n veelkleurige heel taal se soel soet mense-taal

 

Senzenina – wat het ons gedoen

wat het ons gedoen

yours where dolphins windsoftly wheel

 

die bus rammel   almal gepak   deure toe

en julle bly staan voor die Makasa hotel

ons ry stadig vorentoe

en julle bly staan voor die Makasa hotel

en ons groet en roep en waai en huil

en julle bly staan voor die Makasa hotel

vuiste in die lug

die gesig van Jeremy Cronin kry ek nie vergeet nie

oë opgeskroef onleesbaar

Jeremy in die maroentrui kry ek nie vergeet nie

julle bly staan voor die Makasa hotel

soos ons vorentoe beweeg gaan sy vuis effens los

sy vingers roer asof hy iets wil saamgee wil vashou

julle bly staan voor die Makasa hotel

agter julle die druisende damp van die Zambesi

 

bly staan geliefde kamerade

nou in hierdie vers

ek skryf dit neer soos ek dit onthou

sodat op papier solank

ons een kan wees

en saam kan uitkyk uit hierdie vers

totdat bevryding skuimend druisend oor ons spat

die ballinge terugkeer soos engele of bokke of bome of honde

en ons mekaar omhels

binne en buite

alle vers

 

(Zimbabwe Julie 1989)

 

[© Antjie Krog]

*

======================================================

Johann Lodewyk Marais

 

Wêreldboom

 

Die kolos spel hom uit in tak en blaar,

wat in ʼn ander bestaan groter is

as alles in die sirkel rondom hom.

Heel bo tuur ʼn witkruisarend waaksaam,

bosnagape vreet sy jong lote,

bobbejane verorber sy vrugte

en mieliekewers en boomslange

misbruik sy sagte hout en gasvryheid.

In die soel tropiese nag vlieg motte

om die blomme en vrugtevlermuise

raak-raak met hulle vlerke die stampers,

terwyl ’n bruinhiëna onder draai

en ’n boomeekhoring op en af hol

asof hy iets aan die arend fluister.

 

(Vir Breyten Breytenbach)

 

[© Johann Lodewyk Marais. 2019]

*

====================================================

Susan Smith

onkant

al brand
die reënwoude
al skilfer die skubbe
binneste buitentoe
van reptiele af
al kook skilpaaie lewend
in doppe sous

al hou
kapibara’s vyf
minute asem op
al hoor ons
skreeuape drie kilometer ver

sal ons laaste asem
woorde wees
om bome mee te saag
en balke drome en nagmerries
snorkend skuimend bloots
tot satwordenstyd
te ry

ons is saad
van ons soort
ons reis deur ’n woud
van vuurhoutjies en vuiste

skotvry om ons goeiemôres
en goeiewense te krap
in as van verkoolde been

al vlug
luidiere vier meter per minuut
al loei pienk
rivierdolfyne ten
hemele in borrelende
amasoonriviere
al drup korwe was      verskiet
bye in vonke onderweg
na pampoenblomlandskappe

vyf   en   tagtig   duisend
vure in die hand

vier ons woorde wat ons in ’n wip
onkant vir ’n verjaring
betrap

skryf ons

hande in die vuur

dat die gedig ‘haar om mag draai
om die nag in die oë te kyk’

 

[© Susan Smith. 2019]

*

====================================================

Carina Stander

‘n Goëllied vir Breyten

(16 September 2019)

 

As die taal ‘n liggaam is

is jy die inkvlek op haar handpalm

vloeiend oor die vlegtende treinspoorgroewe van vel.

Die taal is die skelwit orgidee wat jou met morbiede beloftes verlei

asof jy ‘n insek is.

As jy ‘n rietfluit is, is die taal die verderflike moeras

waaruit windklanke gekerf word.

As jy ‘n wolk is, is die taal die glas

wat jou watergeboorte en -sterfte weerkaats.

As jy ‘n muis is, is die taal die duisterswiepende uil.

As jy ‘n skokbeentjie is, is die taal die slaanstok wat agter die deur skuil.

As jy ‘n rivier is, is die taal jou oewer, die grens wat jy oorstroom.

En as jy steeds ‘n rivier is, word die taal so waar die padda wat manel dra

en in jou woon.

As jy die grond is, sal die taal ‘n tuin wees.

En as die taal ‘n tuin is, is jy die klouterstruik,

die pampoenblom met geel vlerkslae

of hopelik die komposhoop.

Want as jy die komposhoop is – ‘n blareberg, erdwurmdeurwoel –

sal die taal sonder tyding ‘n boord kan word

swaardragtig aan bittersoet woorde.

As jy die vyeboom is,

is die taal die by wat jou bestuif

en as die taal die by is,

is jy die nektar.

Omdat jy die nektar is,

haal ons vandag met dié verdigsels

kaalhand heuning uit die taal

– dwase wat storm waar die duiselgrote engel huiwer –

ons vingers en voelers tintelend van al wat swewend leef en kleef.

 

[© Carina Stander / 2019]

*

====================================================

De Waal Venter

Ode aan ’n vangriem

Hulde aan Breyten Breytenbach

geskryf in ‘n styl van Pablo Neruda 

 

Oda a un lazo

.

El captor de plumas

de pájaros y sus peculiaridades,

atrapas vacas

rumiando sobre ellos

filosofías

 

Vanger van vere,

van voëls en hulle bekkighede,

jy vang koeie

herkouende aan hulle

filosofieë,

bronsrooi Afrikanerbulle

vang jy aan die uitgeleende been,

keer hom om

bleekpens bo

horings krap

kragtelose

sirkels in die grond,

witbont verse

van Friesland vang jy,

sandbruin verse van Frankryk,

met oë

soos mere

wat lepellê tussen die alpe,

want in baie lande

is dit vroegaand nog donker,

blinkblinde visse

vang jy

onder melkgroen water,

onbevange

oor honde in mense,

mense in hulle toegedinkte

stanings

waar wit latte van slaap

soos ’n hut groei om hulle op,

vanger van woorde

wat vlug soos voëls

weg

van die waarheid

se brand,

kleure kom nie weg

uit jou noustropstrik nie,

sodat die roos

se ruisende rooi klanke

soos kruimels tummel,

jy krul

om ’n ietermagog

wat snuifel

aan ’n miernes

vol waarhede,

oud soos die antikythera dinkding,

en vang hom vas

dat hy praat

deur sy beskubde lippe

van dít wat vroue

weet

wat mans nie weet nie,

grypend na wat ons

almal soek

pluk jy dit in jou

vangende hande en gee ons

vye wat suur word,

maar die liefde,

maar die liefde is soeter as vye,

alles is vliegtig

smeltend, verdampend

in mense se hande,

maar jy met jou

diereriem,

jou vasleggende tongriem

trek dit nader

sparwelende blinkvis

in die net,

jy lig dit uit

omdat die gedig in sy toegevoude hand

’n klippie

versteen soos dromer se skip

beskerm

teen die gekerm

van onthouspoel en sand.

Is daar iets

wat jy nie kan

vasgryp nie?

Wat maak jy

met woorde soos bitter moer

ná die drink?

Dalk kan jy nie

meer die voetspore intrek

wat ingedagte geliefdes geloop het nie,

of die smaak

van jou heel eerste woorde

op papier

nou lank vergane.

Jy raak al dunner, riem,

langer en vattender meer

meer as wat lesendes

in een jaar of meer

kan verteer,

ons groet jou

en jy glimlag terug,

môre donkerbreek-dagbreek,

ligfetus

met handjies en hare platgelek,

en jy praat met stilte,

die sabbatsgeluid van koelte

wat jou nooi om oor

jou eie skaduwee te tree.

Alles wat jy vang,

dankie gebêre in boeke

en dankie

dat ons

die gewone

breyten

kan kry in die mielieland.

 

[© De Waal Venter. Sept. 2019]

*

=====================================================

Cas Vos

’n Verjaarsdagsgedig

Vir Breyten 16 September 1939 –

 

Die feestafel kreun onder al

die lekkernye en soet verleidinge;

ook pampoenkoekies word opgedis

om jou te herinner jy is nou tagtig.

Genooides en ongenooides,

moedswilliges en onwilliges,

kwaadstokers en vrededuiwe,

vergun my om julle voor te stel

aan Breyten Breytenbach,

die man met die verweerde groen trui,

glo my tog, hy is nog steeds skadeloos.

 

Op 16 September is ’n seun

met ’n mond vol woorde gebore.

Sy pa was trots op die bulkalf

en sy ma op haar skoothondjie.

Snags voor bedlê het hulle klein

Breyten aan die Here opgedra:

“Here, ons weet nie hoe hy die see

gaan bevaar en hoe sy weg

oor berge en dale gaan kronkel,

met wie hy gaan konkel nie.

Maar wees tog net goed vir

hierdie vreemde woordsmous van ons.”

 

Die trotse Parysenaar het in sy onthou

traanbelope aan sy pa en ma gedink.

Oubaas en Ounooi het gesien hulle spruit

was van speentyd af ouderwets.

Kleintyd het die jongeling reeds

’n lotus met woordstiksels borduur.

 

Die swikswaar taak is aan my opgedra

om ’n lourierkrans met lowergroen woorde

vir die kunstenaar se 80ste te vleg.

Ek smeek Apollo om my krag te gee –

tot behae van die jarige en sy geliefde.

Na tagtig jaar op die woeste aarde

het ek hom in ’n woud opgespoor.

Hy vra of ek ’n ster vir hom sal pluk.

In die sterlig het ek dinge gesien

en gehoor waarvan ek nie kon droom nie.

Sy baard het sy inkennige ken bedek,

maar ek kon sien hy is veel gryser en wyser.

Die grys is die gevolg van al sy seereise,

die wind het die seesout opgeswiep,

sy hare en baard besprinkel en dit so gegeur.

 

Ek het soms by ’n onkreukbare regter

tuisbesoek gedoen. Hy het my na sy

studeerkamer gelei waar ons ure lank

Virgilius en Catullus bewonder het.

Al om die uur het ons onder eed oor jou

fluisterpraatjies gemaak, te bang

vir selspioene met bose gedagtes.

Vra jy wie die regter is? Die eerbare

een wat jou met vyftig rand vir briefsmokkel

en gedigte met vlerke beboet het. Hy het sy geheim

aan my toevertrou wat ek aan jou, tagtigjarige, onthul:

“As ek die regter was, sou ek Breyten vrygespreek het.

Miskien ’n paar rand vir sy ontydige vliegrit.

Hy is tog net ’n dromende digter en skilder – niks meer nie.”

 

Sewe lange jare het jy voorspooksels gesien,

hoe veroordeeldes met “Here, wees my genadig”

asemsnakkend met die geklingel van kettings

galg toe strompel waar die doodsengel wag.

 

Jou drome het jou snags onder vonklig na jou

geliefde in die verte gelei om haar hoop te gee.

Wette kon nie jou skeppingsdrang gevange hou

en die muse het jou nie aan die waansin van alleenheid

se skroeiende verlange oorgelaat nie, maar jou met ’n oorvloed

influisteringe besoek. Vryhand kon jy tydig en ontydig dig.

In ’n visioen het jy gesien: om te lewe is om te sterwe.

Daarom moes jy lewe voor jy sterwe en reik na die ontmoeting:

sange het jou bevryding uit die grot begroet, palms is gewuif,

jou gesig was welriekend en jou eens geboeide hande is gesalf

vir die belofte in volvoering: bevryding na die beminde.

Jy het ná sewe jaar in doodskadu opgestaan om die lewe te vier.

 

Nou beier die klokke klankryk en ek staan met die gedig voor jou

om jou te kroon en jou te vra om op jou digterstroon te sit.

Ek hang ’n mantel om jou skouers waarop pryk: Woordmaker.

Mag jy nog nagte deur droom en skemerwoorde een vir een naderwink.

Mag jou gedigte ons harte altyd verheug en soos die singende son

en sterre ons pad vol skrikgodinne na die ongesiene anderkant lig maak.

 

[© Cas Vos. 2019]

Met vergunning van Naledi. [Vlug van die gees, 2019]

 

===================================================

Nini Bennett. Blou

Thursday, October 25th, 2018

 

 

In die koue nag van die kosmos draai die aarde, die klein, blou planeet. Die digter Archibald MacLeish het gesê: Eeue voor Carl Sagan se Pale Blue Dot was die sterre slegs ligte aan Dante se hemel, en die aarde was die wêreld, die héle wêreld waaroor die mens volgens God se lotsbeskikking geheers het.

Op 14 Februarie 1990 is die laaste foto’s van Voyager 1 ontvang toe dit na die aarde teruggekyk het op ’n verstommende afstand van 5,9 miljard km. Dit het ’n blou kolletjie ingesluit. The Pale Blue Dot is seker een van die mooiste odes wat ooit oor die nat, blou planeet geskryf is. Hier volg ’n uittreksel: Look again at that dot. That’s here. That’s home. That’s us. On it everyone you love, everyone you know, everyone you ever heard of, every human being who ever was, lived out their lives. The aggregate of our joy and suffering, thousands of confident religions, ideologies, and economic doctrines, every hunter and forager, every hero and coward, every creator and destroyer of civilization, every king and peasant, every young couple in love, every mother and father, hopeful child, inventor and explorer, every teacher of morals, every corrupt politician, every “superstar,” every “supreme leader,” every saint and sinner in the history of our species lived there–on a mote of dust suspended in a sunbeam.

Op ’n afstand is die aarde blou. Maar blou is meer as bloot ’n chromatiese kleur, alhoewel The Telegraph se kleurkaart ongeveer 60 skakerings, skadu’s, tinte en tone van blou bevat. Dwarsdeur ons letterkunde figureer die kleur blou as ’n simbool, ’n toestand van syn, ’n uitdrukking van die liriesste en grootste transendentale hoogtes van die menslike verbeelding. Soos geel ’n element van lig bevat, skuil die beginsel van duisternis in blou. Volgens die skilder en kunsteoretikus, Wassily Kandinsky, kan blou verdiep en wegsink in swart: ’n skakering wat die ondraaglikheid van menslike verdriet verbeeld. Dan, aan die ander kant van die spektrum, verloor blou sy betowering vir die mens wanneer dit uitbleik en wegraak in wit.

In haar bekende essay, A Field Guide to Getting Lost, mediteer die skrywer Rebecca Solnit só oor die kleur blou: Vir baie jare voel ek my aangetrokke tot die blou van uiteindes; die blou van horisonne en veraf bergreekse. Die kleur van afstand is ook die kleur van emosie, die sensasie van eensaamheid en begeerte. Blou is ’n kleur wat jy nooit volledig kan bereik nie – sommige lig reis nie al die pad deur die atmosfeer nie, maar raak verstrooi saam met ander molekules in die lug in wat bekend staan as die Rayleigh-verskynsel. Die diep en dromerige melankoliese blou; die blou van atmosferiese afstand en die diepte van water is ’n illusie. Sommige dinge besit ons omdat ons dit verloor het…en sommige dinge is nié so verlore solank ons dit in die blou vergetelheid kan waarneem nie.

Dink aan korale: die swewende marienetuine onder die see. In haar grensverskuiwende Under the Sea-Wind besin die marienebioloog Rachel Carson oor die see en oor verskillende belewenisse van blou. Die monotone duisternis van die diepsee lewer die vreemdste modifikasies van fauna op. Soos die seesones verander en verdiep, verander die kleur van water ook. Tot en met 200 m vanaf die vastelandshelling word die Sonligstreek aangetref. Dit is hier waar fotosintese plaasvind; waar die meeste plante en lewensvorme floreer. Die see se Skemerstreek begin op ongeveer 1000 m afwaarts, voordat die Middernagstreek op 2 km aangetref word. Die diepsee, met sy onbekende trôe en abissale dele breek aan op ’n diepte van 8000 – 11 000 m. Dit word die hadalpelagiese sone genoem, vernoem na Hades of die onderwêreld: die berugte ‘koue nag’ van die oseaan – en dit eggo MacLeish se woorde oor die kosmos.

Op die blinde seebodem leef daar gediertes sonder oë wat aan ekstraterrestriële lewe herinner. Waar die waters langs die kuslyn blougroen – die kleur van lewe – is, vertoon die abissale water swart; of ’n kleur wat selfs swarter as swart kan wees, amper soos vulkaanglas. Die lig in die water doof uit hoe dieper jy gaan: die rooi strale verdwyn na die eerste 300 voet, en daarmee saam, die oranje en geel van die son, die stadige breeklig van strale gefiltreer deur water. Op ’n 1000 voet is slegs ’n diep en donker, fabelagtige blou sigbaar.

Carson vervolg: Om die see te verstaan, moet die mens alle begrippe van lengte, breedte, diepte, tyd en ruimte laat vaar. Geen mens of soogdier kan dit kilometers onder die water waag nie – die waterdruk is te hoog en dit sou noodwendig lei tot ’n inploffing van so ’n liggaam. In die abissale see word alle kleur, alle lig opgeskort. Wetenskaplikes kan marienelewe slegs met gesofistikeerde tegnologiese toerusting bestudeer: die swartduiwel, wat waarskuwend met sy sirenes deur die water blits; of die seespinnekoppe wat met hulle lang speekbene uit die modder peul. In die onderwêreld vorm bentoniese organismes ’n geil gemeenskap van gruwelike en fantastiese kreature – sponse, blomagtige naakslakke, knorhane, heilbotte, buiswurms en oesters, soos antieke beursies, om ’n paar te noem. Dáár waar die menslike oog nie kan sien nie – en waar kleur ophou bestaan.

*

Blou   

 

As aasvoëls ’n broklyf ten hemele neem

die kadawer kluif en reinig tot die laaste ritueel

 

en as ons brandaltare  van verassings agterlaat

en lywe spookwit in kole skei

ja, as ons vuurstof word

 

of ’n stoet ’n mens ter aarde bestel

uitgeloot aan beloftes van wortels

en die ongenadige skoonheid van verval

as vaatbundels nuwe lewe neem

ja, voor ons grondfossiele word

 

en as ons weeksag in water vergaan

met wrakke en skatte in die siersteen

van oseane groei, oor koraalriwwe

tot op die been

as skulpe ons stilte amplifeer

en branders hoogty sketter

as eko-skelette

die verlore tyd aangee en ons

iewers koraalmusiek word

 

ja, as vuur self sterf

en die aasvoëls vertrek,

grond wroet aan die toeverlaat

van nog ’n liggaam

en ook die laaste beenmeel wuif,

die see se asem verslaan

dan sal net die lug oorbly

en as selfs die lug leeggewaai is

 

sal ons blou word,

want blou is die verste kleur

ja, dan sal ons eendag word.

 

Nini Bennett, Boekstaaf 2015.

 

Verwysings:

 

http://www.planetary.org/explore/space-topics/earth/pale-blue-dot.html

http://cecelia.physics.indiana.edu/life/moon/Apollo8/122568sci-nasa-macleish.html

Bennett, N. 2015. Boekstaaf. Pretoria: Cordis Trust-Publikasies.

Nini Bennett. Die ou man

Wednesday, January 27th, 2016

Die ou man

.

Tyd is ’n blinde juwelier.

Pêrels in die oë,

vismotte wat slu deur dagboeke lees.

Na baie jare ontmoet ek my pa.

Sy lyf rem grondlangs

na die swaartekrag van te veel leef.

Ek sien hoe hy die fluweeltyd

van stof binnegaan

voor hy in twee verdeel,

jonk word, wegstap

deur die vallei van sy kleinwordjare

terug, terug – al verder weg

van die ou man, die uitgewekene van lig.

.

© Nini Bennett / 2016

Nini Bennett. The Red Mist

Thursday, January 21st, 2016

The Red Mist

.

Die woud verkleur

en dra ’n stiltekleed

soos  ’n kardinaal.

Herfs is die strooidood

van gode. Stamme versag

as mis asem, bo-aards deur

die rooi konklaaf van blare.

Stamme raak lank en dun in eerbied

en wag; krone verdwyn

soos rook in ’n houtskooltekening.

Dan vlam die hemel self

in vuuropaal en die towerwoud

word ’n katedraal.

.

© Nini Bennett / 2016