Tans ondervind die meeste literêre tydskrifte wêreldwyd las van die ekonomiese impak op hul bedryfskostes. Dit is veral die afname in intekenare wat daartoe aanleiding gegee het dat etlike tydskrifte al hul rekenaars moes afskakel en verpand. Tirade, een van Nederland se vernaamste literêre tydskrifte, is geen uitsondering hierop nie.
Ten spyte van die stryd om oorlewing, word hulle egter steeds toegeval deur entoesiastiese bydraers wat graag hul werk gepubliseer wil sien op die vereerde bladsye van hierdie tydskrif; derhalwe het die redaksie met ‘n innoverende plan vorendag gekom om die getal intekenare te vergroot, naamlik dat insendings alleenlik vir plasing oorweeg sal word indien die bydraer ook as intekenaar geregistreer is.
Volgens Merijn de Boer, redakteur van Tirade, is die volgende reaksie by wyse van ontvangserkenning voortaan standaard op enige bydrae wat vir publikasie voorgelê word: “Hartelijk dank voor het toesturen van kopij. Wij ontvangen wekelijks steeds meer ongevraagde bijdragen, die allemaal gelezen en beoordeeld moeten worden. Inmiddels vragen we ons af of de stijging van het aantal inzendingen evenredig oploopt met de daling van het aantal nummers dat we verkopen. Het beeld dringt zich op van een groeiende menigte achter de coulissen, terwijl het in de zaal opvallend leeg blijft. Omdat we willen zorgen dat Tirade meer gelezen wordt, en het dus ook voor u interessanter wordt om op het podium te gaan staan, verzoeken we u om via onze website, www.tirade.nu, het laatst verschenen nummer te bestellen of het ons te melden wanneer u abonnee bent. U krijgt binnen vier weken een reactie op uw inzending. Die reactie zal, anders dan voorheen, vergezeld worden van een beknopte motivering van ons besluit. Met deze nieuwe aanpak doen we een beroep op uw klaarblijkelijke overtuiging dat Tirade een mooi en waardevol literair tijdschrift is. Wij weten vanaf nu zeker dat onze schrijvers ook onze lezers zijn.”
Nou ja, toe. Ongewone tye vra immers om ongewone optrede is dit nie? Volgens die berig op De Papieren Man se webtuiste het die getal intekenare op Tirade reeds met meer as 400 gestyg sedert hulle hierdie beleid begin toepas het.
***
Vanoggend is daar twee besondere bydraes deur van ons gereelde bloggers: Andries Bezuidenhout met ‘n wonderlike Szymborska-vertaling en Desmond Painter met ‘n ewe aangrypende vers deur Tony Hoagland. In die gedigtekamers is daar ‘n nuwe gedig deur Daniel Hugo en ook Danie Marais se bydrae tot Keelskoonmaak. Ten slotte is daar ook nog Bernard Odendaal se resensie van Martina Klopper se debuutbundel, Nadoodse ondersoek, wat vroeër vanjaar verskyn het.
Mag die son skyn waar jy loop vandag.
Mooi bly.
LE